loading
Artikels
3 dae gelede
kantoorpraktisyn-is-jy-besig-om-stadig-uit-te-brand

Foto Krediet: OkayDeer

Kantoorpraktisyn, is jy besig om stadig uit te brand?

Deur Kyla-Ann du Toit

Uitbranding is nie bloot moegheid aan die einde van ʼn besige dag nie. Dit is ʼn toestand van emosionele, fisieke en geestelike uitputting wat stadig maar seker opbou wanneer jy oor ʼn lang tydperk oormatige stres beleef. Jy voel nie net moeg nie – jy voel leeg, ongemotiveerd en put nie meer genot uit die werk wat jy gewoonlik geniet nie.

Uitbranding gebeur nie oornag nie; dit maak stil-stil sy verskyning totdat jy heeltemal moedeloos is.

Die stil epidemie in kantore

Uitbranding word dikwels geassosieer met beroepe soos gesondheidsorg en onderwys, maar die werklikheid is dat dit oral kan gebeur – óók in ʼn kantooromgewing. Administratiewe personeel dra dikwels ʼn swaar, maar onsigbare las. Hulle hou die wiele van ʼn organisasie aan die rol, maar doen dit meestal agter die skerms. Die resultate is duidelik, maar die erkenning min. Hierdie wanbalans, tesame met konstante druk en hoë verwagtinge, maak kantoorpraktisyns besonder kwesbaar vir uitbranding.

Uitbranding voel soos ʼn geleidelike verlies van energie, entoesiasme en selfs jou dryfkrag om soggens op te staan en werk toe te gaan. Dit is soos ʼn battery wat stadig leegloop totdat daar niks meer oor is nie. Daarom is dit noodsaaklik om daaglikse gewoontes te bou wat jou help om te herlaai.

Waarom brand jy stadig uit?

Verskeie herhalende patrone in kantoorpraktisyns se werklewe dra by tot uitbranding:

  • Voortdurende onderbrekings en multitaakverrigting: Jou dag word in honderd stukkies opgebreek, wat dit moeilik maak om take sonder afleidings te voltooi.
  • Hoë verwagtinge en min erkenning: Daar word van jou verwag om altyd jou beste te gee, maar dit word selde raakgesien of waardeer.
  • ʼn Gebrek aan beheer of outonomie: Besluite word dikwels bo jou posvlak geneem, maar jy dra die verantwoordelikheid om dit uit te voer.
  • Emosionele arbeid: Daar word van jou verwag om altyd professioneel, vriendelik en beskikbaar te wees – selfs op dae wanneer jy self sukkel.
  • Onvermoë om af te skakel ná werk: Werk “volg” jou huis toe deur e-posse, oproepe en die verwagting van konstante beskikbaarheid.

Hierdie patrone mag aanvanklik hanteerbaar voel, maar mettertyd begin dit jou emosioneel en fisiek uitput.

Grense as jou eerste linie van verdediging

Een van die hoofredes waarom kantoorpraktisyns uitbrand, is omdat grense oorskry word – of nie gestel word nie. Jy is bekwaam, jy wíl help en ander weet jy sal inspring om te help, maar dit het ʼn impak op jou welstand – selfs al voel dit nie so nie. Gesonde grense is nie ʼn teken van swakheid nie; dit is ʼn vorm van selfrespek en ʼn noodsaaklike stap om na jou welstand om te sien en werk van hoë gehalte te handhaaf.

Hier is ʼn paar praktiese wenke om grense te stel:

  • • Leer om respekvol “nee” te sê: Jy kan steeds professioneel wees terwyl jy jou tyd beskerm. Sê eerder: “Ek wil graag help, maar my kapasiteit is reeds vol. Kom ons kyk saam na ʼn ander geskikte tyd.”
  • • Beperk ad hoc-versoeke: Stel vasgestelde tye vir navrae of administratiewe ondersteuning.
  • • Gebruik jou kalender slim: Skeduleer tye vir jouself om jou battery te laai en beskou dit soos enige ander belangrike vergadering.
  • • Herbesin oor jou waarde: Onthou, jy is nie net goed genoeg as jy uitgeput is nie. Jou werk is belangrik en daarom moet jy na jou welstand omsien om jou werk goed te kan doen.

Die idee dat die stel van grense in die werkplek beteken dat jy minder omgee, is ʼn mite. Trouens, die teenoorgestelde is waar: deur jou energie te beskerm, kan jy oor die lang termyn méér gee – aan jou werk, jou span én jouself. Jy kan immers nie uit ʼn leë beker skink nie.

Herken die tekens en stel grense

As jy besef dat jy toenemend moeg, ongeduldig of onbetrokke by jou werk voel, is dit tyd om eerlik met jouself te wees. Is jy besig om stadig uit te brand? Die goeie nuus is dat jy dit vroeg kan keer deur betyds grense te stel en jou energie doelbewus te beskerm.

Jy hoef nie te wag totdat jy heeltemal uitgeput is nie. Jy kan vandag reeds besluit dat jou gesondheid en jou passie te kosbaar is om stadig te laat uitbrand.

Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk is jóú beroepsgemeenskap – ons pak die hoogtepunte én die laagtepunte van die werkplek saam met jou aan. Jy is nie alleen nie; ʼn hele netwerk van ondersteuning staan agter jou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel