loading
Artikels
19 uur gelede
sekretaressedag-2025-n-rooi-tapyt-vir-kantoorpraktisyns

Foto Krediet: Solidariteit

Sekretaressedag 2025: ʼn Rooi tapyt vir kantoorpraktisyns

Deur Kyla-Ann du Toit

“Los vandag alles wat by die kantoor is – vergeet daarvan. Vandag is jóú dag!” Só het Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk, die vroue by Solidariteit se jaarlikse Sekretaressedag in Pretoria op 3 September 2025 verwelkom.

Met ʼn warm glimlag en opregte dankbaarheid het sy die geleentheid afgeskop. “Ons is almal vandag hier by Loft at Nine omdat ons ʼn roeping deel – administrasie loop deur ons are. Ons is vandag hier omdat ons julle werk makliker en ligter wil maak. Hier is ʼn rooi tapyt vir elke kantoorpraktisyn, want jy verdien om hier te wees!”

ʼn Dag van erkenning

Sekretaressedag is ʼn jaarlikse geleentheid wat Solidariteit spesiaal vir kantoorpraktisyns reël. Vanjaar is dit landswyd in agt streke aangebied: Bellville, Kathu, Port Elizabeth, Bloemfontein, Nelspruit, Vaaldriehoek, Potchefstroom en Centurion. Die doel is eenvoudig maar kragtig: om erkenning en waardering te gee aan die mense wat onmisbaar agter die skerms in enige onderneming is.

Inspirerende sprekers

Rhona Erasmus was vanjaar se spreker by die Sekretaressedag-geleentheid in Pretoria. Sy is veral bekend vir haar rol in die realiteitsprogram Die Real Housewives van Pretoria, maar sy is veel meer as dit. Sy is ʼn entrepreneur, motiveringspreker, model en die eienaar van Trouvaille Boutique Day Spa. Sy het haar onderwysgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, maar het haar entrepreneursreis in 2006 begin.

Sy het eerlik met die gehoor gedeel hoe die TV-program haar geleer het dat ander mense se opinies nie jou waarde bepaal nie en dat ware krag daarin lê om jouself te aanvaar. Rhona het veral gefokus op die vier “maskers” wat vroue dikwels dra: die “Ek is oukei”-masker; die perfeksie-masker; die “altyd besig”-masker; en die “sterk genoeg”-masker. Sy het benadruk dat hierdie maskers dikwels gedra word in ʼn poging om aan ander se verwagtinge te voldoen, terwyl die werklike uitdaging is om uniek en eg te wees.

“Wanneer jy leer om jouself lief te hê, raak dit moontlik om die maskers af te haal en opreg teenoor ander te leef,” het sy die gehoor bemoedig. Sy het afgesluit met ʼn beeld wat by die gehoor vasgesteek het: soos die geur van parfuum aan iemand anders kan kleef, kan ons menswees ook ʼn positiewe uitwerking op dié rondom ons hê.

“Ek dink dit is ʼn ongelooflike spesiale dag. Ek glo baie van hierdie kantoorpraktisyns werk agter die skerms, maar sonder hulle is niks moontlik nie. Dit was ʼn ongelooflike groot voorreg om vandag hier te wees. Dit is so mooi om te sien hoe die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk na hulle omsien en hulle bederf op ʼn dag soos vandag.”

Rhona se goeie vriendin, Suné Sutton, het die dag met ʼn spesiale opening afgeskop. Sy is saam met haar man, AJ Sutton, in voltydse bediening by Doxa Deo en lei die vrouebediening. Sy is ook by verskeie liefdadigheidsprojekte betrokke.

 “Wat vir my so mooi is van vandag, is dat al hierdie vroue agter die skerms werk, maar hulle is die mense wat alles bymekaar hou en seker maak die onderneming is suksesvol. Hulle is werklik onbaatsugtig! Om ʼn dag te hê waar ons hulle op ʼn rooi tapyt kan sit en sê: julle is pragtig, oulik, slim en die beste – dit is só spesiaal,” sê Suné.

Meer as net ʼn netwerkgeleentheid

Die dag was gevul met verskeie bederfies en verrassings. Die vroue is verwelkom met heerlike drankies en vingerhappies, en elkeen het ʼn bederfpakkie ontvang om huis toe te neem. Daar was ook pryse te wen, danksy borge soos Akademia et al, Willa Krause, Bubble Tee Empire, Miekeraai, Bruis en Mia Visser. Die vroue is ook tydens die geleentheid verras met uitstallers soos LipoSculpt en Miekeraai.

Ferreira het die kern van die dag saamgevat: “Ons as kantoorpraktisyns is dikwels die persone wat agter die skerms beweeg, maar tog is ons ook die persone wat die wiele aan die rol hou. Daarom is vandag só spesiaal – ons vier elke sekretaresse, ontvangsdame, kantoorpraktisyn en adminkryger. Weet wat jy na die tafel toe bring en wees verseker dat jy jou plek kan volstaan.”

ʼn Netwerk wat werklik omgee

Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk is daarop toegespits om kantoorpraktisyns in die werkplek te beskerm en om te verseker dat hulle hul volle potensiaal kan bereik. Kantoorpraktisyns is dikwels die eerste persoon wat iemand in ʼn maatskappy sien en daarom is dit belangrik dat elke kantoorpraktisyn bewus is van hul waarde en die nodige erkenning vir hul harde werk ontvang.

Indien jy nog nie deel van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk is nie, klik hier om vandag nog aan te sluit en by ʼn beroepsgemeenskap aan te sluit wat werklik oor jou omgee!

Klik hier om te kyk hoe die ander streke Sekretaressedag gevier het.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel