Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
‘Ek is so bly jy is hier!’ – Jy as kantoorpraktisyn is onmisbaar!
Kantoorpraktisyns speel ʼn onmisbare rol in die kantoor. Dit voel soms of jou werk as kantoorpraktisyn so maklik misgekyk word en dat jou aandeel in die werkplek nie regtig ’n impak maak nie. Hierdie blog, geskryf deur Mari Ferreira, netwerkkoördineerder by Solidariteit, skyn weer lig op hoe belangrik kantoorpraktisyns is.
Deur Mari Ferreira
Wanneer jy by ʼn kantoor instap en daar is ʼn besonderse atmosfeer – ʼn kombinasie van fokus, samewerking en ʼn subtiele gerusstelling dat alles volgens plan verloop – is dit die teken van ʼn kantoor waar ʼn kantoorpraktisyn aan die werk is, iemand wat stilweg, maar kragtig die ratte van die onderneming geolie hou. Vandag skryf ek oor en vereer ek hierdie ankerpunte van ons organisasies, adminkrygers wie se harde werk en toewyding ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar, maar sonder wie niks regtig behoorlik sal funksioneer nie.
Hulle hanteer die fynste besonderhede, van tydroosters wat sin maak tot dokumentasie wat op die regte manier en betyds ingehandig word. Wanneer iets skeefloop, weet hulle instinktief hoe om dinge weer reg te ruk. Hulle weet wie om te kontak, hoe om vinnig oplossings te vind, en bowenal, hoe om in die middel van ʼn storm kalm te bly.
Maar wie is hierdie persone regtig? Hulle is die glimlag by ontvangs, die stem wat die telefoon beantwoord en die onuitputlike bron van ondersteuning wanneer ʼn kollega ʼn dringende versoek het. Hulle sorg dat vergaderings met koffie begin en met ʼn volledige notule eindig.
Die waarde van ʼn kantoorpraktisyn word soms eers werklik verstaan wanneer hulle afwesig is. Soos in die geval van Nadia: Toe sy op siekteverlof was, was haar stoel leeg, en daarmee saam was die gemak en ritme van die kantoor ook nie daar nie. Administratiewe take het opgehoop en die e-posse het bly instroom. Maar die grootste leemte was die een wat jy nie op papier kan meet nie – die gevoel van samehorigheid en orde wat sy bring.
En toe sy terugkeer, steeds op krukke, was daar ʼn tasbare verligting in die atmosfeer op kantoor. Dit was asof die kantoor weer kon asemhaal. Haar kollegas het haar gemis, nie net haar werk nie, maar ook haar menswees. Hierdie oomblik wys hoeveel die teenwoordigheid van ʼn kantoorpraktisyn beteken, hoe hulle die helde in ons alledaagse suksesse is.
“Ek is so bly jy is hier!” Daardie woorde van Gerhardus vat presies vas wat ons almal soms vergeet om te sê. Dit is meer as net ʼn erkenning van harde werk; dit is die besef dat kantoorpraktisyns onmisbare boustene in ons organisasies is. Hulle maak dit vir ons moontlik om ons eie rolle met vertroue te vervul.
Aan elke kantoorpraktisyn wat dalk hierdie woorde lees: Jy is meer as net die persoon wat dinge reël. Jy is die gees van die organisasie, die hartklop van die kantoor. Jou toegewydheid laat alles moontlik lyk, en jou teenwoordigheid bring stabiliteit in ʼn wêreld wat dikwels chaoties voel.
Dankie vir alles wat jy doen. Jy is onmisbaar.