
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Tariefbarometer: Moeilikheid in Augustus reeds sigbaar
ʼn 53,9%-daling in uitvoere vir die chemiese bedryf en ʼn ontstellende 91,1% vir mineraleprodukte wys hoe die VSA se 30%-handelstarief op Suid-Afrikaanse invoere reeds in Augustus verwoesting gesaai het.
Hierdie tarief is vanaf 10 Augustus vanjaar geldig en die tariefbarometer waarmee die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) die uitwerking daarvan op bedrywe in Suid-Afrika meet, bevestig die aanvanklike vermoede daaroor. Hierdie verslag ontleed die data wat in Augustus verkry is.
Vergeleke met uitvoere in Julie het die tariewe ʼn verlammende impak op verskeie bedrywe, en vir nou word veral die uitvoere van die chemiese bedryf en mineraleprodukte geraak.
“Die mineralesektor is van nature wisselvallig, maar ʼn afname van 91,1% kan nie sommer deur wisselvalligheid verklaar word nie. Die tariewe speel duidelik ʼn rol daarin.
“Veral kommerwekkend is egter die syfers oor die chemiese bedryf, wat tradisioneel baie standhoudende uitvoere na die VSA lewer. ʼn Afname van ongeveer 54% dui op grootskaalse vernietiging,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die SNI.
Tog het die uitvoere van voertuie, vaartuie of vliegtuie skerp toegeneem, maar volgens Du Buisson kan dit aan ʼn ander faktor toegeskryf word.
“Rolspelers in die bedryf en in die groter vervaardigingsektor het in Julie en vroeg Augustus hulle produksie drasties opgestoot om hulle uitvoere voor 10 Augustus aan boord te kry om hierdie tariewe vry te spring.
“Hierdie is waarskynlik die laaste benoude spronge van ‘n benoude kat .”
Volgens Du Buisson is hierdie bedrywe ook blootgestel aan die tariewe en hy verwag dat die barometer dit vorentoe sal aandui.
Du Buisson glo die tariefbarometer bevestig vrese dat die tariewe bedrywe in Suid-Afrika groot skade gaan berokken in ʼn tyd waar hulle reeds onder groot druk verkeer.
“Hier moet baie vinnig verligting kom deur middel van onderhandelinge vir tariefverligting. Die tendense is reeds duidelik en ek is bekommerd oor dit wat voorlê.”
Sien die SNI se tariefbarometer vir Oktober hier aangeheg in Afrikaans en Engels.