Afrikaans

English

loading
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-beweging-het-opvolgbesoek-by-die-withuis

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit Beweging het opvolgbesoek by die Withuis

Die Solidariteit Beweging het dié naweek ʼn opvolgbesoek in die Withuis gehad. Dit is in reaksie op kritiek van minister Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sowel as die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, se uitsprake dat die hoogverraadondersoek teen Solidariteit en AfriForum as ʼn prioriteit hanteer word.

Die Withuis het die Solidariteit Beweging versoek om hulle toe te lig oor die uitsprake van die ministers, asook om verdere inligting te gee oor Solidariteit se voorgestelde handelsraamwerk. 

Solidariteit se hoof van internasionale skakeling, Jaco Kleynhans, moes sy toerplan aanpas en van Texas af terugvlieg Washington toe vir hierdie afspraak.

“Ons het ʼn baie goeie en konstruktiewe gesprek gehad. Beide Solidariteit en die VSA (Verenigde State van Amerika) wil ʼn handelsooreenkoms hê. Dit is in die VSA se belang, maar ook in die belang van Solidariteit-lede, werknemers in die algemeen, en Suid-Afrika self.

“Die Withuis is duidelik gefrustreerd met die Suid-Afrikaanse regering. Die sluit van ʼn handelsooreenkoms is binne bereik, maar die SA-regering se politieke wil ontbreek,” het Kleynhans gesê.

Solidariteit se voorgestelde handelsraamwerk bevat al die elemente vir ʼn positiewe handelsooreenkoms tussen hierdie twee lande. Dit sluit beide die politieke en die handelselemente in.

“Ons het al vele kere probeer om met die Suid-Afrikaanse regering in gesprek te tree. Dit het twee skrywes aan president Ramaphosa, ʼn skrywe aan minister Tau en verskeie persoonlike boodskappe ingesluit. Dit is nie in ons belang om op enige manier die sluit van ʼn handelsooreenkoms te saboteer nie.
“Ons kopseer is dat dit die regering is wat ʼn handelsooreenkoms saboteer. Hulle doen elke verkeerde ding. Die regering se diplomatieke infrastruktuur het ingeplof,” verduidelik Kleynhans.

Tydens die opvolgvergadering het Solidariteit verdere vrae van die Withuis hanteer. Voorstelle is gemaak oor hoe Amerikaanse ondernemings van raswette vrygestel kan word, en moontlike spesiale ekonomiese sones is bespreek. Daar is ook gepraat oor watter bedrywe moontlik tariefverligting kan kry en hoe die kodes van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) daarvoor gebruik kan word. Die effek van raswette op Suid-Afrika, en spesifiek op minderhede, is ook bespreek.

Volgens Kleynhans het die Solidariteit Beweging nou beter toegang en weet hulle presies wat die Amerikaanse regering wil hê. “Dit is in die belang van Suid-Afrika dat die regering met die Solidariteit Beweging praat, maar hulle politieke stiksienigheid maak dit onmoontlik, en mense betaal met hul werk daarvoor.”

Klik hier vir ‘n foto van Jaco Kleynhans op besoek aan die Withuis.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel