
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Trump-tariewe bedreig 275 000 poste – Solidariteit gryp in waar die regering faal!
Deur Robin-Lee Maré
Solidariteit het hierdie maand die noodklok laat lui: 275 000 werksgeleenthede is in die weegskaal ná die VSA se aankondiging van 30%-uitvoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte. Dit volg ná die mislukking van die ANC-regering om ʼn werkbare handelsooreenkoms met die VSA te beding.
Solidariteit dring daarop aan dat die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, onmiddellik ’n spesiale taakspan saamstel om hierdie ekonomiese ramp af te weer. Indien niks gedoen word nie, kan dit lei tot massa maatskappysluitings en die verlies van duisende poste oor sektore soos vervaardiging en landbou.
Kritieke nywerhede op die afgrond
Die voertuig-, vliegtuig- en vaartuigvervaardigingsektor, wat sowat 24% van Suid-Afrika se uitvoere na die VSA uitmaak, sal eerste en die hardste getref word. Dié sektor dra miljoene rande by tot die ekonomie en voorsien duisende gesinne van ʼn inkomste. As die VSA-tariewe van krag word, kan werksverliese en fabrieksluitings ʼn werklikheid wees.
Die landbousektor is eweneens in die spervuur. Suid-Afrika se landbou-uitvoere na die VSA bestaan hoofsaaklik uit nisprodukte waarvoor daar beperkte plaaslike markte is. Sonder toegang tot die VSA-mark, sal produsente en landelike werkers swaarkry.
VSA gee kans vir dialoog – maar ANC hou ore toe
Solidariteit het onlangs informeel met Amerikaanse regeringsverteenwoordigers vergader. Die VSA het aangedui dat hull e gewillig is om ’n positiewe handelsooreenkoms met Suid-Afrika te sluit – maar nie sonder sekere voorwaardes nie.
Die VSA vra onder meer, heel billik:
- Versekerde eiendomsreg
- Vrystelling van rassewetgewing vir Amerikaanse maatskappye
- Veiligheid op plase en beskerming van minderhede
- ’n Neutrale buitelandse beleid
Die ANC-regering is egter toondoof en ideologies gebonde, en verkies politieke dogma bó praktiese oplossings. Hulle weier om dié rasionele versoeke ernstig op te neem al kos dit Suid-Afrika duisende werkgeleenthede.
Solidariteit staan op – vir werk, vir geregtigheid, vir SA!
Daar kan nie langer toegekyk word hoe ʼn politiek-verdwaalde regering Suid-Afrikaners se toekoms op die spel plaas nie. Solidariteit sal voortgaan om gesprekke met die Amerikaanse regering te hou, ten spyte van die ANC se passiwiteit.
Solidariteit dring aan dat minister Parks Tau daadwerklik optree. ’n Taakspan moet onmiddellik saamgestel word om die VSA se tariewe teen te werk en ʼn volhoubare handelsooreenkoms te beding – die tyd vir mooi praatjies is verby.