loading
avatar
Mediaverklarings
2 jaar gelede
tweepotstelsel-n-groot-risiko-vir-die-oudag-waarsku-solidariteit

Foto Krediet: Okay Deer

Tweepotstelsel ʼn groot risiko vir die oudag, waarsku Solidariteit

Solidariteit het ʼn ernstige waarskuwing gerig oor die sogenaamde tweepotstelsel waarmee jaarlikse onttrekkings van ʼn persoon se aftreegeld nou moontlik is.

Dit volg ná pres. Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette verlede Saterdag – iets wat koorsagtige voorbereiding van pensioenfondse en fondsadministrateurs gaan verg voordat die stelsel op 1 September 2024 in werking tree.

Werknemers sal vanaf dié datum toegang kan kry tot hul pensioenfondse se spaarpot mits daar ʼn balans van ten minste R2 000 in die fonds is om te onttrek. Die spaarpot verteenwoordig een derde van die totale fonds, terwyl twee derdes vir aftrede bewaar word en onaangeraak moet bly.Slegs een onttrekking word per jaar toegelaat.

Ofskoon die stelsel ook ten doel het om werknemers toegang tot fondse vir noodgevalle te gee, hou dit beslis risiko in, waarsku die adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit, Marius Croucamp.

“Die grootste risiko is dat daar heelwat minder aftreegeld beskikbaar gaan wees op die dag van aftrede vir die persoon wat geld uit sy of haar spaarpot onttrek het. Hulle sal dan moontlik bykomende inkomste iewers vandaan moet kry om op hulle oudag vir hulself te kan sorg.

“Die versoeking gaan groot wees om maklik geld uit die spaarpot te neem omdat dit jaarliks gedoen sal kan word. Daar moet ook in gedagte gehou word dat geld wat onttrek word teen ʼn persoon se marginale belastingkoers belas gaan word omdat dit as ʼn inkomste geag word. Dit kan die persoon daarna in ʼn hoër belastingskaal laat val,” sê Croucamp.

Hy waarsku dat mense moet seker maak hul belastingsake is in orde en op datum voor daar oorweeg word om geld uit die spaarpot te onttrek.In gevalle waar huislenings deur hierdie fondse toegestaan is, waarsku hy fondse om seker te maak daar is genoeg geld om die bepaalde lening of waarborg te dek alvorens spaarpot-uitbetalings oorweeg word.

“Aftreefondse moet ook hul fondsreëls wysig om aan die voorskrifte van die tweepotstelsel te voldoen. Aangesien daar honderde aftreefondse in Suid Afrika is, sal die owerhede moet bontstaan om al die wysigings voor 1 September 2024 goed te keur,” sê Croucamp.

“Die grootste kommer bly egter aftredevoorsiening, met slegs 6% van Suid-Afrikaners wat gemaklik kan aftree en meer as 70% wat ná aftrede verdere inkomste sal moet vind om aan die lewe te kan bly. “Daar word bereken dat jy 41 jaar lank moet werk en ten minste 15% van jou inkomste elke maand in ʼn aftreefonds moet spaar net om ʼn bedrag gelykstaande aan 75% van jou laaste salaris op ʼn maandelikse basis met aftrede te kry,” sê Croucamp. Volgens hom sal gereelde onttrekkings van aftreegeld voor aftrede dit bykans onmoontlik maak om voldoende vir jou aftrede te voorsien, en só kan armoede op mense se oudag hul voorland wees.

Dit bly uiters belangrik om verantwoordelik en oordeelkundig met aftreegeld te werk, ondanks hierdie wetswysiging.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel