Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Unisa-personeel verbreek hul stilte: ‘Ons is naby aan ineenstorting’
Ontstellende terugvoer verkry deur Solidariteit bied ʼn indringende blik op die omvang van die krisis wat Unisa-personeel tot op die rand van fisieke en emosionele ineenstorting dryf.
Hierdie terugvoer is spesifiek van personeel gekry nadat kommer oor werksomstandighede by Unisa in die openbare domein ontstaan het. Solidariteit het doelbewus besluit om nie op mediaberigte alleen staat te maak nie, maar om werknemers se eie ervarings deur middel van ʼn streng vertroulike vraelys vas te stel.
Met hierdie terugvoer kom dieselfde ontstellende temas telkens na vore:
Werknemers beskryf hulself as “naby aan ineenstorting”, “uitgebrand” en “op breekpunt”.
Talle sê hulle werk gereeld saans én oor naweke om by hul werkslading by te bly.
Werknemers meld dat buitensporige werksdruk reeds tot ernstige fisieke en sielkundige gevolge gelei het, waaronder angs, depressie, langdurige siekteverlof en uitbranding.
Mediaberigte waarin genoem word dat personeel weens uitbranding gehospitaliseer is word ook wyd beaam.
Verskeie werknemers sê hulle voel magteloos omdat hulle glo hul waarskuwings aan bestuur word geïgnoreer of afgemaak.
ʼn Herhalende tema is dat personeeltekorte werknemers dwing om toenemend meer verantwoordelikhede te aanvaar terwyl hulle onder druk bly om dieselfde, of selfs hoër, prestasieteikens te bereik.
Hierdie eerstehandse terugvoer staan in skrille kontras met Unisa se onlangse verklaring waarin die universiteit berigte oor werksomstandighede as “gekoördineerde waninligting” afgemaak het. Solidariteit meen dit is nie mediakommentaar wat nou praat nie, maar Unisa se eie werknemers.
Volgens Anique Niemand, netwerkorganiseerder van die professionele bedryf by Solidariteit, is die omvang en konsekwentheid van die terugvoer uiters kommerwekkend.
“Wat hierdie terugvoer besonder ontstellend maak, is dat werknemers, onafhanklik van mekaar, telkens dieselfde prentjie skets. Die getuienis weerspieël nie enkele geïsoleerde klagtes nie, maar ʼn patroon van werknemers wat onder ondraaglike druk werk en toenemend hul gesondheid daarvoor opoffer.
“Wanneer werknemers begin praat van ineenstorting, hospitalisasie, uitbranding en medikasie, is dit nie meer bloot ʼn arbeidsverhoudinge-kwessie nie. Dit is ʼn ernstige beroepsgesondheids- en veiligheidskwessie wat nie langer geïgnoreer kan word nie.”
Solidariteit sal daarom voortgaan met sy formele oproepe aan die departement van hoër onderwys en opleiding en die parlement se portefeuljekomitee oor hoër onderwys. Indien die departement versuim om daadwerklik in te gryp, sal Solidariteit hom aanspreeklik hou vir sy versuim om werknemers en die instelling teen hierdie voortdurende krisis te beskerm.
Weens die ernstige aard van die temas het Solidariteit begin om ʼn omvattende verslag saam te stel wat die volle prentjie sal skets. Die verslag sal aan die relevante owerhede voorgelê word as deel van Solidariteit se eis vir ʼn onafhanklike ondersoek na werksomstandighede by Unisa.