Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Vals beskuldigings ontbloot: Solidariteit verseker geregtigheid vir lid ná onbillike ontslag
Robin-Lee Maré
Wat as ʼn poging begin het om Coenie Slabber met vals beskuldigings uit sy pos te werk, het uiteindelik sy voormalige werkgewer duur te staan gekom.
Slabber is op 16 September 2023 as Bestuurder: Bestuur, Risiko en Nakoming by BlueVision ITM (Edms.) Bpk. aangestel.
Sy werkgewer het hom later valslik van oneerlikheid beskuldig en beweer hy het versuim om die vereiste aflewerings aan ’n kliënt te doen. Formele dissiplinêre aanklagte is op 25 April 2025 teen hom ingebring, waarna hy op 30 Junie 2025 ontslaan is.
Solidariteit het namens Slabber ingegryp en sy saak van onbillike ontslag na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.
Op die dag van arbitrasie het Slabber se voormalige werkgewer by die KVBA opgedaag met ‘n advokaat en arbeidskonsultant, sonder dat daar vooraf aansoek om regsverteenwoordiging gedoen is. Die spanning in die lokaal was tasbaar.
Nog voordat die arbitrasie kon begin, is die geskil geskik.
Ingevolge die skikking het Slabber vergoeding ontvang wat gelykstaande is aan 4,4 maande se salaris. Die waarde van die skikking lê egter nie net in die finansiële vergoeding nie, maar ook in die skriftelike verskoning en positiewe verwysing vanaf Slabber se voormalige werkgewer waarmee sy goeie naam herstel is.
Volgens Hannes de Kock, arbeidsreglitigant verbonde aan Solidariteit, is die uitkoms ‘n duidelike bewys dat waarheid uiteindelik seëvier.
“Geen werknemer behoort sy werk of goeie naam weens vals beskuldigings te verloor nie,” sê hy.
De Kock verduidelik Solidariteit het namens Slabber ‘n klankopname laat transkribeer wat die bewerings teen Slabber in ‘n heel ander lig geplaas.
“Hierdie dokumentêre getuienis het uiteindelik tot die skikkingsooreenkoms gelei.
“Die werkgewer het die KVBA betree agter ‘n rookskerm van onwaarhede, maar moes die verrigtinge met sy stert tussen sy bene verlaat. Vir ons lid beteken hierdie uitkoms veel meer as ‘n geldelike vergoeding.
Volgens De Kock het die skikking Slabber se goeie naam herstel en sy integriteit bevestig.
“Solidariteit sal voortgaan om lede teen onbillike arbeidspraktyke te beskerm en werkgewers aanspreeklik te hou wanneer werknemers onregmatig behandel word,” sluit De Kock af.