Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Veranderingsmoegheid: bemagtig jou span en verander moegheid na fiksheid
Deur René van der Vyver
Die wêreld van werk in 2026 is nie meer dieselfde as wat ons vyf of tien jaar gelede geken het nie. Die tempo waarteen tegnologie, en veral kunsmatige intelligensie (KI), vernuwe, is verbysterend. Vir baie werknemers voel dit egter minder na ʼn opwindende vaart, en meer na ʼn nimmereindigende storm. Veranderingsmoegheid (of “change fatigue”) het ʼn alombekende gonswoord geword, maar agter hierdie term skuil ʼn toenemende stryd in die werkplek: veranderingsapatie.
Die gevaar van apatie in die werkplek
Apatie beteken om sonder emosie of gevoel te wees. Wanneer werknemers voortdurend by nuwe vereistes moet aanpas, sonder behoorlike kommunikasie of ondersteuning, skakel hulle emosioneel af. Volgens insigte van Workvivo is die simptome oral sigbaar: werknemers wat oorweldig en uitgebrand voel; ʼn opstandigheid teen enigiets nuuts; toenemende afwesigheid; en sperdatums wat gemis word.
Dit is die gevolg van ʼn stelsel wat mense dwing om vinniger te werk as wat hul kapasiteit toelaat. In ʼn klimaat waar millenniër en Gen Z (wat teen 2026 die kern van ons arbeidsmag vorm) betekenis en welstand net so swaar as ʼn salaris laat weeg, kan werkgewers nie meer bekostig om hul menslike kapitaal uit te brand met eise om, sonder ondersteuning, teen ʼn snelle spoed te verander nie. Meningvormers word al hoe meer uitgesproke hieroor: hierdie generasies soek ʼn loopbaan wat hul vrede beskerm, eerder as prestasie teen enige prys.
Veranderingsfiksheid as ʼn nuwe perspektief
Die antwoord lê nie daarin om harder teen verandering te probeer veg nie, maar eerder om veranderingsfiksheid te kweek. ʼn Insiggewende Forbes-artikel beskryf hoe veranderingsmoegheid toeneem wanneer leiers verandering bloot sien as iets wat gestabiliseer, geïmplementeer en dan weer herhaal moet word. Daarteenoor word veranderingsfiksheid bereik wanneer leiers werknemers ondersteun om voortdurend aan te pas sonder uitbranding.
Dit is ʼn konsep wat beteken dat die ewig-veranderende-werkwêreld in ʼn ander perspektief gesien word. Verandering is dus nie ʼn tydelike versperring wat oorkom moet word nie, maar eerder die konstante medium waarin ons funksioneer. Net soos grondgesondheid in die landboubedryf van kardinale belang is omdat gesonde grond (groeimedium) gesonde opbrengste tot gevolg het, kan ʼn gesonde werkplek met ʼn veranderingsfiksheid-ingesteldheid (groeimedium) gesonde en volhoubare groei in die onderneming tot gevolg hê.
Strategieë om kop bo water te hou
Ons kan nie met ʼn “spartelstrategie” kop bo water probeer hou nie; die waters van verandering gaan nie weer kalmeer nie. Ons het nuwe strategieë nodig om kop bo water te hou:
Die reddingsboei: vaardigheidsbou
Indiensopleiding is ononderhandelbaar. Deur Solidariteit se mentorskapprogram – gratis vir lede – stel spesialiste in verskeie beroepe hulself beskikbaar om as mentors op te tree. Leiers kan werknemers ook op hoogte hou van die jongste ontwikkelings deur toegang tot e-boeke, bedryfspublikasies en aanlyn leerplatforms te verskaf. Solidariteit se voortgesette leeraanbod bied aan lede gratis toegang tot nagenoeg 150 aanlyn leerkursusse. Hierdie kursusse kan ook aangekoop word. ʼn Vaardigheidsinventaris kan gebruik word om werknemers se vaardighede gereeld te evalueer sodat pasgemaakte ontwikkelingsplanne vir geïdentifiseerde leemtes saamgestel kan word.
Die paddavoete: mensgesentreerde kommunikasie
Kortliks kan leiers en bestuurders ʼn rol speel om veranderingsmoegheid in fiksheid te omskep deur proaktief, met ʼn mensgesentreerde benadering, op te tree en te fokus op duidelike kommunikasie. Senior leiers moet die boodskap oordra, terwyl die middelvlakbestuur moet kommunikeer en fasiliteer hoe die verandering in werking tree.
Die snorkel: ondersteuning en erkenning
Dit is natuurlik vir mense om weerstand teen verandering te bied. Leiers moet vertroue kweek sodat bekommernisse openlik uitgespreek kan word. ʼn Kultuur van vertroue moet gevestig word om werknemers aan te moedig om hul bekommernisse uit te spreek en openlik by die veranderingsproses betrokke te raak. Die viering van klein oorwinnings en die bevordering van terugvoer kan werknemers verder bemagtig, en hulle gewaardeer en betrokke laat voel. Deel stories van suksesvolle veranderingservarings en lig mylpale uit.
ʼn Toekoms van vrede en produktiwiteit
Veranderingsmoegheid verlaag produktiwiteit en vernietig die gees van ʼn onderneming. Vir jonger generasies gaan dit oor ʼn loopbaan wat hul menswaardigheid respekteer.
By Solidariteit omhels ons positiewe verandering, maar nooit ten koste van ons mense nie. Ons glo dat veranderingsfiksheid bereik word wanneer leiers hul mense die kapasiteit gee om te groei. Moenie alleen in die onstuimige waters swem nie; skep jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van ʼn gemeenskap wat jou toekoms help bou.