Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Verskeie meesters deel hul wysheid: Dié wat kán, gáán!
Deur Ané Janse van Rensburg
Solidariteit se jaarlikse Student tot Meester-netwerkgeleentheid is meer as net ʼn platform vir studente om met kenners te gesels; dit is ʼn kans vir gevestigde kenners in hul beroepe om aan die volgende generasie terug te gee.
In ʼn vinnig veranderende beroepslandskap word die behoefte aan mentorskap en lewenslange leer al hoe groter. Kenners het die vermoë om hul kennis en ervaring met jong mense te deel en sodoende nie net hul eie loopbane te verryk nie, maar ook die studentegemeenskap te versterk.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen dat dié geleentheid vir kenners die kans gee om soveel meer as net hul tyd te gee. Hulle dra ook hul wysheid wat hulle oor die jare bymekaar gemaak het, aan die jonger generasie oor. “Wysheid is meer as net kennis. Meesters deel nie nét kennis nie, maar wysheid wat alles omvang. Wysheid sluit in die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei wat uiteindelik tot jou sukses bydra. Dit het van Salomo ʼn ryk man gemaak,” sê Hermann.
Wanneer jy jouself as ʼn meester in jou beroep beskou, gaan dit nie net oor jou eie sukses nie. Dit gaan ook oor die pad wat jy agterlaat vir diegene wat ná jou kom. Deur aan jong mense die geleentheid te bied om by jou te leer, help jy hulle om struikelblokke wat jy reeds in die gesig gestaar het, te oorkom. Hierdie deel van kennis ontwikkel nie net sterker individue nie, maar ook ʼn sterker bedryf.
Vanjaar se Student tot Meester-geleentheid het gewys hoe betekenisvol hierdie interaksies kan wees. Studente het die kans gekry om hul brandende vrae aan ervare kenners te stel, en die mentors het insig en advies gegee wat andersins moontlik jare se beproewing en foute sou verg.
Om aan die studentegemeenskap terug te gee, bied nie net voordele vir die studente nie. As ʼn meester in jou beroepsveld bied dit ook ʼn geleentheid vir groei en herontdekking van jou eie kennis. Deur met jonger geslagte te werk, word jy blootgestel aan nuwe idees, vars perspektiewe en innovasies wat jy moontlik nog nie oorweeg het nie. Dit hou jou werk relevant en gee jou die kans om jou eie leerreis voort te sit.
Michael Smith, netwerkorganiseerder by Solidariteit, sê die meesters kon danksy hierdie geleentheid ook baie leer. Volgens Smith, wat sy kennis oor die regsprofessie met die studente gedeel het, is daar ʼn beduidende verskil in hoe universiteite studente vir die “grootmenswêreld” voorberei. “Ons sou self nooit hierdie kennis wat die meester ons vanaand kon leer iewers anders kry nie. Daar is baie nuwe uitdagings vir jong mense, maar daar is baie geleenthede om sukses te behaal!”
Netwerke wat by sulke geleenthede gesmee word, kan ook verrassende nuwe deure oopmaak. Deur met studente in te skakel, kan jy potensiële talent vir toekomstige werksgeleenthede in jou onderneming identifiseer.
“Aan die meesters wat vanaand hier is: Wat ʼn voorreg om julle wysheid te deel – julle opdrag is om iets beter aan die volgende geslag oor te dra as wat ons van die vorige geslag ontvang het. Dis julle rentmeesterskap, dis julle roeping en dis baie meer werd as die inkomste wat julle verdien,” het Hermann in sy toespraak gesê.
Kenners wat aan Solidariteit se Student tot Meester-netwerkgeleentheid deelneem, skep ʼn nalatenskap. Jou bydrae vorm nie net loopbane nie, maar help om ʼn kultuur van ondersteuning, mentorskap en uitnemendheid in jou beroep te vestig. Dit bou ʼn gemeenskap wat mekaar versterk – van student tot meester, en weer andersom.
Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel by jou beroepsnetwerk in. Dit is hiér waar jy hoort en waar jy ʼn daadwerklike verskil in jou beroep se voortbestaan kan maak!