
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Vervolg staatskapers Koko en kie nóú, sê Solidariteit aan die NVG
Solidariteit eis in ʼn dringende skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dat die vervolging van die voormalige Eskom-baas, Matshela Koko, en sy medebeskuldigdes as ʼn prioriteit weer voor die hof gebring moet word.
Die korrupsiesaak waarin Koko in 2022 aangekla is, en wat verband hou met die Kusile-steenkoolkragstasie, is van die hofrol geskrap. Dit het nie gebeur omdat Koko se onskuld bewys is nie, maar eerder omdat die ondersoek sloer en die beskuldigdes se grondwetlike reg op ʼn spoedige verhoor in ag geneem moet word.
Solidariteit is die klaer in die saak en vind dit geheel en al onaanvaarbaar dat die nodige stappe om Koko aan die pen te laat ry met ʼn gesloer gepaardgaan.
Die saak het te make met Koko se aandeel in grootskaalse korrupsie met kontrakte vir die opknapping van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Koko het onder meer sy mag misbruik om kontrakte wederregtelik en teen opgeblase pryse aan verskaffers toe te ken. Dit sluit in onder meer in kontrakte vir en betalings aan sy eie vrou, twee stiefdogters, asook aan die maatskappye McKinsey & Company en Trillion.
Die aanklagte sluit ook aan by die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping waarin Koko as ʼn sleutelfiguur in Eskom-bedrog en staatskaping uitgewys is.
Volgens Deon Reyneke, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die onredelike gesloer met die vervolging ʼn baie ernstige saak.
“Hy is ʼn absolute sentrale figuur in staatskaping en het ʼn groot aandeel daarin gehad dat Suid-Afrika nou in die donker sit. Daarom sê ons duidelik dat daar geregtigheid vir Suid-Afrika in die vervolging van Koko lê.
“Hierdie besluit is boonop ook ʼn yslike klap in die gesig vir eerlike werknemers, en nog meer vir fluitjieblasers wat hierdie inligting in die eerste plek bekend gemaak het.
“Dit is juis danksy daardie inligting dat Solidariteit die klag by die polisie gaan lê het. Die boodskap wat uitgestuur word, is dat daar geen sin daarin is om korrupsie uit te wys as die NVG net weer die bal gaan laat val nie,” sê Reyneke.
Solidariteit hoop Koko en sy medebeskuldigdes besef dat enige sprake dat hierdie verwikkeling hulle vryheid waarborg, voortydig en onwaar is.
“As hy nie deur die NVG vervolg kan word nie, of as hulle ʼn gebrek aan kapasiteit het om die saak deur te voer, is ons bereid om te help om ʼn proses van privaat vervolging aan die gang te kry.
“Dit is nodig vir staatskapers om te boet en ons kan nie toelaat dat daar ʼn bespotting van die vervolgingsproses gemaak word nie,” sê Reyneke.
Sien Solidariteit se skrywe aan die NVG hier.