loading
Artikels
1 jaar gelede
verwysings-op-jou-cv-n-kort-gids

Foto Krediet: OkayDeer

Verwysings op jou CV: ʼn Kort gids

Deur dr. Eugene Brink

Dit is redelik standaard om verwysings by jou CV in te sluit, want dit word vereis deur werwers en gee bowendien geloofwaardigheid aan jou aansoek om ʼn pos.

Hulle staan bekend as referente, kan getuig van jou vaardighede en werketiek en jou kanse verstewig om ʼn pos te kry. Die blote noem van hul besonderhede op jou CV (ongeag of hulle gekontak gaan word of nie) kan jou profiel ondersteun.

“ʼn Lys verwysings sluit mense in wat ʼn voornemende werkgewer dalk kan bel om meer inligting oor jou te kry. Hierdie mense behoort jou geskiktheid vir ʼn pos te kan bevestig. Soms sal ʼn werkgewer net een persoon op die lys kontak, en op ander tye sal hy almal kontak,” sê Alison Doyle, loopbaanspesialis by The Balance Careers. “ʼn Lys sterk verwysings kan ʼn uitstekende manier wees om jou geskiktheid vir ʼn pos te demonstreer.”

Wenke vir ʼn lys verwysings

Sobhan Mohmand, redaksionele bestuurder by CV Plaza, sê die volgende is van die vrae wat werkgewers jou referente kan vra:

  • In watter hoedanigheid ken jy hierdie persoon?
  • Wat kan jy my sê van sy vaardighede, vermoëns, werketiek, stiptelikheid, persoonlike karakter en gedrag teenoor ander mense?
  • Is hierdie persoon aanstelbaar?
  • Sal hy goed inpas in hierdie pos en ons organisasie?
  • Moet ons dit oorweeg om hom aan te stel?

“Daar word aanbeveel dat jy twee verwysings op jou CV aangee. Een van jou referente moet jou huidige of vorige werkgewer wees, en die tweede referent kan iemand wees wat jou goed ken,” sê hy.

Moontlike kandidate sluit in huidige werkgewers, vorige werkgewers, bestuurders, toesighouers, onderwysers, kollegas, opleiers en afrigters. Maak seker dat jou verwysings vir jou kan getuig met betrekking tot die pos waarvoor jy aansoek doen en vir jou ʼn positiewe aanbeveling kan gee.

“As jy iemand se naam as ʼn verwysing gee, maak seker dat jy toestemming het om hom as ʼn verwysing te gebruik en laat hom weet dat hy gekontak kan word. Gee inligting oor die pos waarvoor jy aansoek gedoen het sodat jou verwysing jou ondervinding met die pos in verband kan bring en jou die bes moontlike verwysing vir die pos kan gee. Jy kan ook aan die persoon ʼn bygewerkte resumé of lys van jou vaardighede en kwalifikasies gee,” sê Doyle.

Mohmand gee ʼn lys van aanbevole besonderhede vir jou lys verwysings. “Jou verwysings moet die volgende besonderhede oor elk van jou referente gee: volle name, werktitel, adres, telefoonnommer en e-posadres. Moenie persoonlike telefoonnommers gee nie, maar gee eerder jou referent se werktelefoonnommer (indien moontlik). Gebruik ook jou mees onlangse werkgewer as ʼn verwysing, soos die gebruik is.”

Dit is ook beter om jou mees belowende verwysing naby die bopunt van die lys te gee. Baie werwers sal waarskynlik net hulle kontak.

Wanneer om hulle uit te laat

Soms is dit wys om nie verwysings by jou CV in te sluit nie. Die hoofrede hiervoor is dat verwysings dikwels nie voor die einde van die werwingsproses nodig is nie.

“As aansoeker vir ʼn pos sal jy dalk deur een, twee of selfs drie onderhoude of beoordelings moet gaan. Daar moet dan ʼn aanbod aan jou gemaak word en slegs as jy ʼn aanbod aanvaar, sal verwysings gewoonlik gevra word. Die eenvoudige feit is dat die doel van ʼn CV is om vir jou ʼn eerste onderhoud te kry en verwysings is oortollig so vroeg,” sê Neville Rose, direkteur van CV Writers.

Tyd- en ruimtebeperkings is ook ter sake. “Onthou, ʼn werkgewer sal gemiddeld minder as 30 sekondes bestee om ʼn CV te lees. Tyd en ruimte is waardevol, so moenie daardie ruimte op onnodige tegniese besonderhede soos verwysings vermors nie.”

As ʼn werkgewer egter spesifieke instruksies gee vir die lys verwysings, is dit beter om aan sy wense te voldoen.

Op Solidariteit kan jy ʼn gratis profiel skep waarna jy dan ʼn CV vanuit jou profiel kan skep, jou profiel as ʼn CV kan aflaai, ʼn aanlyn dekbrief voltooi, ʼn eksterne CV saam met aansoeke oplaai en ʼn paneelbord besigtig wat aandui vir watter poste jy aansoek gedoen het. Skep vandag nog ʼn profiel om al hierdie voordele te ontsluit en die beste CV daarbuite te hê.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel