loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
visualiseer-jou-doelwitte

Foto Krediet: OkayDeer

Visualiseer jou doelwitte

Deur Nico Strydom

Dit is moeilik om ʼn doelwit na te jaag as jy self onseker is hoe daardie doelwit lyk. Visualisering kan jou help om te bepaal waar jy wil wees en hoe om daar te kom.

Visualisering behels om ʼn duidelike prentjie in jou gedagtes te vorm van hoe jou gewenste uitkoms lyk. “Jy moet dit sien voor jy dit kan doen; dit is so eenvoudig soos dit,” sê Duncan Woods, uitvoerende afrigtingskonsultant van die digitale welstandsplatform soSerene. “Om te weet wat jy wil hê, is waarskynlik die nuttigste raamwerk wat jy vir jouself kan verskaf, en visualisering word dan belangrik om daardie visie te onderhou en dit werklik te maak.”

Die rede waarom visualisering so kragtig is, is volgens Woods as gevolg van die werking van die brein. “Studies het getoon dat die brein sukkel om tussen gevisualiseerde en werklike ervarings te onderskei. Wanneer jy dus ʼn helder prentjie in jou gedagtes vorm van wat jy vir jouself wil skep, ervaar jou brein daardie visie as realiteit, wat dit vir jou makliker maak om uit te vind hoe om dit te laat realiseer.”

Woods stel ʼn tegniek genaamd WOOP, ontwikkel deur die Duitse sielkundige Gabriele Oettingen voor vir visualisering. Dit bestaan ​​uit vier stappe genaamd “Wish”, “Outcome”, “Obstacle” en “Plan”.

Dit behels om te definieer wat jy wil hê en jou in te dink hoe dit sal voel en wat dit vir jou sal beteken as jy werklik jou doelwit kan bereik. Pak enige twyfel of werklike hindernisse wat bestaan ​​pragmaties aan. “Ontwikkel ʼn plan wat aangevuur word deur ʼn duidelik gedefinieerde wens, ʼn sterk konneksie met hoekom dit belangrik is en eerlike probleemoplossing rondom wat in die pad daarvan staan.”

Volgens Woods kan die WOOP-benadering help om jou doelwit deur die verskillende stappe met dissipline en fokus te filtreer, wat jou dan uiteindelik in staat stel om jou visualisering te versterk sodat dit van ʼn wens na ʼn werklike moontlikheid kan beweeg.

“Nadat jy die WOOP-benadering gevolg het, kan jy begin om die einddoel en uitkoms te visualiseer, en dan insien hoe jy dele van die plan uitvoer wat jy geskep het,” sê Woods.

Stories en skryf kan ook help indien jy sukkel met visualisering. “Dit kan baie nuttig wees om storievertelling te gebruik om die narratief in visualiserings te omskep. Navorsing wys daarop dat die neerskryf van doelwitte ʼn baie hoër sukseskoers tot gevolg het, so dit kan baie nuttig wees om jou visie letterlik neer te skryf of selfs jou dag-tot-dag-joernaal na daardie doel te rig.”

Volgens Woods is visualisering ʼn baie waardevolle vaardigheid om te bemeester, en is dit iets waaraan jy deurlopend moet werk. “Om dit reg te kry, moet jy leer hoe om jouself te verwyder van die hede en al die gedagtes en struikelblokke wat jou dalk terughou, en om jouself in ʼn denkbeeldige toekoms in te bring waar dinge alles uiteindelik uitgewerk het.” 

Wat is die doelwitte wat jy vir jou loopbaan en lewe uitgelê het? Kan jy dit visualiseer?

Solidariteit glo dat elkeen wat wíl werk, moet kán werk – en nie net dit nie. Elkeen moet ook goed kan werk. By Solidariteit skep ons geleenthede om jou loopbaanpad seepglad te laat verloop. Met mentorskappe, voortgesette leer en deurlopende ondersteuning en kennis van jou beroepsnetwerk, kan jy nie anders as om sukses te behaal nie.

Waarvoor wag jy? Lede van Solidariteit kry gratis toegang tot byna 100 aanlyn kursusse en jy verkry ook toegang tot die mentorskapprogram, waar jy saam met ʼn kenner van jou beroepsveld deur die uitdagings in jou beroep gelei kan word.

Skep jou gratis profiel vandag nog!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel