
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Voel jy geïsoleer by die werk? Probeer hierdie
Deur Dr Eugene Brink
Om geïsoleerd by die werk te voel is niks nuut nie, maar dis ook nie lekker nie. Miljoene het dit al ervaar, ervaar dit tans of gaan dit in die toekoms ervaar. Dit is ’n aaklige ervaring vir enige werknemer en kan bydra tot ’n negatiewe ervaring van die werkplek.
“Dit maak nie saak hoe groot en bedrywig jou maatskappy is, hoeveel tyd jy aan werknemerbetrokkenheid spandeer het, of die werkplekkultuur waaraan jy so hard bou nie – baie mense by die werk dra die las van eensaamheid en isolasie,” argumenteer Workplace.com in ’n blog oor hierdie onderwerp.
Gallup het die volgende vraag in ’n studie oor werknemerbetrokkenheid, gevra: “Het jy ’n beste vriend by die werk?” Slegs twee uit die tien respondente het sterk met die stelling saamgestem.
Dit benadeel produktiwiteit. Steve Miranda van die Cornell University sê ’n gebrek aan vriendskappe by die werk of sosiale verbindings kan mense en ondernemings seermaak. Hy glo mense doen minder “diskresionêre moeite” wanneer hulle geïsoleerd voel en gevolglik is hulle geneig om minder as die minimum te doen.
Aan die ander kant is beter verhoudings by die werk ’n veelvuldige seën. “Om ’n gevoel van gemeenskap by die werk te ervaar kan jou moraal verbeter, jou produktiwiteit ’n hupstoot gee en werk lekkerder maak,” sê Indeed se redakteurspan.
Stappe wat werknemers kan neem
Gelukkig is daar ’n hele paar stappe wat werknemers kan neem om hierdie onsmaaklike dilemma te ontsnap.
Anne Niederkorn, skrywer en kenner van werkverwante sake, sê sy het selfbejammering gevoel toe haar departement by die werk stil was en niemand met haar gekommunikeer het nie. “Maar ek het besef dat, terwyl ek my kantooromgewing waargeneem het, ek nie self veel moeite gedoen het om dit te verander nie. Dit het duidelik geword dat as dinge beter gaan word, ek die eerste stap sal moet neem. So al het dit op daardie stadium ongemaklik gevoel, het ek begin om vir almal goeiemôre te sê. En raai wat? Hulle het uiteindelik dieselfde begin doen.”
Die Indeed-span stel ook voor om vriendelik te wees en ’n vriend te maak, of selfs meer as een. “Jou vriendelike gebaar kan baie klein wees, byvoorbeeld ’n kompliment op iemand se werk of om op te volg op iets wat hulle gesê het. Byvoorbeeld, indien ’n kollega iets onthul, soos dat hulle kind aan ’n sportwedstryd gaan deelneem of dat hulle ’n nuwe motor gaan koop, maak seker om hulle later weer daaroor uit te vra.
“Om ’n werksverhouding te ontwikkel, al is dit net met een persoon, kan help om gevoelens van isolasie of eensaamheid te bekamp. Indien jy nuut is in ’n posisie, probeer om iemand wat gaaf is te identifiseer en leer hulle ken. Vra hulle vrae oor hulleself en vind gemeenskaplike belangstellings. Met die verloop van tyd kan jy moontlik vriendskappe ontwikkel wat jou mag verbaas.”
Aktiwiteit kan ook samehorigheid bevorder en moenie die waarde van persoonlike kontak onderskat nie. “Borg jou maatskappy miskien ’n vlugbalspan? Wat van leersessies gedurende middagete? Vind iets wat jou belangstelling prikkel en laat jou spanmaats weet jy gaan deelneem,” sê Niederkorn. “Terwyl dit soms nodig is om die hele dag agter jou lessenaar deur te bring, probeer om partykeer weg te kom wanneer jy ’n tydjie kan afknyp. In stede daarvan om ’n e-pos aan die persoon langs jou te stuur, staan op en gaan gesels met hom of haar. Miskien moet jy ’n projek met iemand bespreek? Skeduleer ’n vergadering in sy of haar kantoor in plaas daarvan om dit oor die foon te doen.”
Humor is ook ’n wonderlike manier om mense te wen, want lag is regtig die beste medisyne. Ons het almal ’n vreemde en lawwe kant – hetsy dit is om liedjies saam te sien en ons eie lirieke op te maak, of net iemand se been te trek. So, doen iets daarmee!
Solidariteit bied ’n aanlyn werkgemeenskap wat jou kan bemagtig om in jou werk te floreer. Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van jou grootste aanlyn werksgemeenskap!