
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Volpunte vir Afrikaans se eerste 100 jaar!
Deur René van der Vyver
Vanjaar word die honderdste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal gevier. Dit is om twee uiteenlopende redes ʼn indrukwekkende viering … Eerstens is dit ʼn groot mylpaal, want 100 jaar is ʼn lang tydperk en baie dinge het tussen 1925 en 2025 gebeur wat Afrikaans ongedaan kon maak. Tweedens is dit ʼn klein mylpaal, want 100 jaar is ʼn kort tydperk waartydens Afrikaans daarin geslaag het om reeds merkwaardige groei en ontwikkeling te toon.
Afrikaans moes al die afgelope 100 jaar ʼn paar keer fel uitdagings oorkom en ons vier die feit dat ons taal nie net soveel jare al oorleef nie, maar floreer. Afrikaans word die afgelope 30 jaar as ʼn akademiese taal en as ʼn taal in die ekonomie en die politiek op die agtergrond gedwing, terwyl Engels na die voorgrond gestoot word. Dink maar net aan die destydse minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, wat aangevoer het dat Afrikaans nie ʼn inheemse taal is nie, of aan die Bela-wet wat ʼn ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse onderwys inhou.
Ons vier Afrikaans se 100ste bestaansjaar met ywer om dit nog vir baie eeue te laat voortleef
Daar word soms na Afrikaans as ʼn taalkundige wonderwerk verwys omdat die taal in ʼn ongekende kort tydperk soveel ontwikkel en bereik het. Ons vier die taal – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap! Afrikaans wys dat dit ook een van die mees dinamiese tale is wat steeds groei, nie net in woordeskat nie, maar ook in die aantal mense wat dit praat. Alhoewel Afrikaans een van die wêreld se jongste tale is, het Afrikaans ook ʼn invloed op internasionale vlak.
Annelise de Vries, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê sy kan bladsye vol skryf oor ons taal wat wêreldwyd as ʼn voorbeeld van goeie taalbeplanning gebruik word. Sy wys wel kortliks op die volgende: “Afrikaans het oor ʼn baie kort tyd vanuit pidgin na ʼn kreoolse taal na hoëfunksietaal ontwikkel, ʼn taal wat geken word aan vitaliteit. Afrikaans word dikwels in die veld van sosiolinguistiek as ʼn gevallestudie van goeie taalbeplanning bestudeer. Kyk maar net na die vier oorkoepelende terreine van taalbeplanning: status, korpus, taal-in-onderrig en prestige. Op elkeen van hierdie terreine kan talle voorbeelde uit die geskiedenis aangehaal word waar doelbewuste en -gerigte planne in werking gestel is sodat Afrikaans kan gedy.”
Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, deel die volgende inligting oor Afrikaans wat beklemtoon hoe groot Afrikaans se internasionale invloed in akademiese kringe is: “VivA is bewus van meer as 15 universiteite in 10 verskillende lande, insluitend die VSA, Nederland, België en Frankryk, waar navorsing oor Afrikaans gedoen word. Hierdie internasionale belangstelling in Afrikaans is ook sigbaar by navorsingskongresse soos die “Afrikaans Grammar Workshop” waar internasionale taalkundiges tweejaarliks bymekaarkom om hul navorsing oor Afrikaans te bespreek en aan te bied. Dit is dikwels interessant vir taalkundiges wat in Germaanse tale, veral Wes-Germaanse tale, spesialiseer om Afrikaans te bestudeer, omdat dit ooreenkomste met ander tale in hierdie taalfamilie toon, maar ook op toonaangewende wyses daarvan afwyk omdat Afrikaans op Afrikabodem tot stand gekom het en steeds aanhou ontwikkel.”
Dit is egter nie net erkenning in taalstudies wat maak dat Afrikaans haar skoene as internasionale taal volstaan nie …
Coetzee beaam dat Afrikaans se internasionale voetspoor nie uitsluitlik op navorsing gefokus is nie. Volgens haar wys vlog-reekse, soos Afrikaans in die Buiteland, dat Afrikaanssprekendes wat hulself buite die grense van Suid-Afrika en Namibië bevind steeds ʼn bydrae tot die Afrikaanse mark lewer deur byvoorbeeld na Afrikaanse musiek te luister, Afrikaanse films te kyk en hul kinders Afrikaans te leer. “Op hierdie wyse maak hulle uiteindelik die buiteland bewus van die bestaan en rykdom van Afrikaans. Gebruikers van VivA is oor al die uithoeke van die aarde versprei. Ons is trots daarop dat ons Afrikaanssprekendes in meer as 129 lande met ons produkte en dienste bemagtig om Afrikaans steeds in hul nuwe tuistes te kan benut.”
Ons vier dus Afrikaans se 100ste bestaansjaar met bewondering vir hoe baie ons taal in net 100 jaar bereik het
Afrikaans het op Afrikabodem tot stand gekom en sal deur jou en my bly groei – hier aan die suidpunt van Afrika. Op 8 Mei 2025 is dit Afrikaans se eeufeesviering as amptelike taal en ons hoop om jou ook dan by die feesvieringe te sien! Solidariteit bly veg vir Afrikaans sodat jou kinders en kleinkinders ook in Afrikaans kan skoolgaan en studeer! Lees meer hier.
Lees meer oor die Afrikaans100-vieringe hier.