Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
2 dae gelede
vsa-kan-ernstige-stappe-teen-sa-aankondig-solidariteit-doen-weer-beroep-by-withuis-oor-agoa

Fotokrediet: Pexels

VSA kan ernstige stappe teen SA aankondig – Solidariteit doen weer beroep by Withuis oor Agoa

Die Verenigde State van Amerika kan binnekort verdere, ernstige stappe teen Suid-Afrika aankondig weens die verslegtende diplomatieke verhouding tussen die twee lande.

Dit volg op die aankondiging van visumbeperkings vroeër vandeesmaand, wat die Amerikaanse ambassadeur as slegs die eerste stap in ʼn reeks eskalerende maatreëls beskryf het.

Volgens Solidariteit is dit duidelik dat die krisis in die verhouding tussen die twee lande nou ʼn finale breekpunt bereik het, wat in die komende weke tot ernstige stappe teen Suid-Afrika kan lei.

Die krisis het oor die afgelope 20 maande verdiep nadat die Trump-administrasie vyf versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering gerig het. Dit sluit onder meer die veroordeling van die aanhitsing van rassegeweld, soos deur die sing van “Kill the Farmer, Kill the Boer”, die prioritisering van landelike misdaad (insluitend plaasaanvalle), en die afskaling van rasgebaseerde wetgewing in.

Teen September 2026 is slegs twee van die kwessies aangespreek.

President Ramaphosa se brief van 12 September het geen wesenlikevoorstelle bevat nie, terwyl minister Ronald Lamola se onlangse optrede in Washington en New York, insluitend ontmoetings met anti-Trump-lede van die kongres, uitsprake teen die Trump-administrasie tydens ʼn toespraak in New York en persoonlike aanvalle op die Amerikaanse ambassadeur die situasie vererger het.

Dirco se pogings om die Amerikaanse ambassadeur te berispe het die spanning verhoog eerder as verlig.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê hulle is bekommerd oor die finale besluit wat die Withuis oor Agoa moet neem.

“Agoa is volgens alle aanduidings uit Washington die mees onmiddellike instrument tot die VSA se beskikking indien die land teen Suid-Afrika wil optree,” sê Hermann.  

Die Agoa-wet is tot einde 2028 deur die kongres verleng, maar die Withuis bepaal jaarliks watter lande daarvoor kwalifiseer. Suid-Afrika is histories die grootste begunstigde en honderde sake-ondernemings trek groot voordeel daaruit. Solidariteit skat dat tot 250 000 werksgeleenthede gedeeltelik of geheel en al van Agoa-toegang afhanklik is.

Volgens Solidariteit is daar egter ook ʼn reeks ander kommerwekkende stappe wat die VSA teen Suid-Afrika kan neem:

  • Verdere tariewe, insluitend wederkerige of sektorspesifieke tariewe op produkte wat nie onder Agoa val nie (Suid-Afrikaanse uitvoere is reeds onderhewig aan ʼn 12,5%-tarief op die meeste produkte);
  • Uitgebreide persoonlike maatreëls, soos die herroeping van bestaande visums en die weiering van nuwe aansoeke;
  • Finansiële sanksies teen individue, insluitend batebevriesing en transaksiebeperkings;
  • Die beëindiging van sekuriteits- en intelligensiesamewerking, strenger uitvoerbeheer op dubbelgebruiktegnologie, en informele druk op Amerikaanse maatskappye om nuwe beleggings te weerhou;
  • Isolasie op die internasionale verhoog, soos die reeds geskrapte uitnodigings na die G20 en G7.

Minder waarskynlike, maar moontlike, stappe sluit in uitsluiting uit die SWIFT-stelsel en breër ekonomiese sanksies, wat die rand en die ekonomie ernstig sou tref.Solidariteit het vandag weer ʼn brief aan die Withuis gerig waarin versoek word dat Suid-Afrika se deelname aan Agoa behou word terwyl die Withuis die oorsigproses vir volgende jaar afhandel.

Sien die brief hier aangeheg.

Die brief volg op maande se gesprekke en Solidariteit se bydrae tot die ontwikkeling van ʼn sterk saak vir Suid-Afrika se volgehoue deelname.

Hermann beklemtoon dat uitsluiting uit Agoa of die instel van ander ekonomiese strafmaatreëls, gewone werkers en uitvoerders sou raak en dat gewone Suid-Afrikaners geen aandeel het in die regering se diplomatieke besluite wat tot die verslegtende verhouding bygedra het nie.

Solidariteit het ook in sy skrywe aan die Withuis aangedui dat praktiese, grondwetlik versoenbare voorstelle oor die vyf Amerikaanse versoeke reeds aan beide die Suid-Afrikaanse presidensie en Amerikaanse gespreksgenote voorgelê is, en dat daar tans prosesse binne die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) is om die saak aan te spreek.

Solidariteit doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om die vyf geskilpunte dringend en konstruktief aan te spreek ten einde verdere eskalasie te voorkom. Die vakbond bly daartoe verbind om oplossings vir die diplomatieke geskil tussen die twee lande te vind.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel