loading
Artikels
5 maande gelede
wat-van-die-res-van-die-bela-wet

Foto Krediet: OkayDeer

Antwoorde op al jou vrae oor Bela

Solidariteit se stryd teen die Wet op Basiese Onderwyswette (die Bela-wet) fokus spesifiek op die artikels wat oor taal- en toelatingsbeleid gaan.

Hierdie artikels is ná groot druk van Solidariteit en ander organisasies voorlopig op die ys geplaas. Dit terwyl die Bela-wet, wat deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is, wel geld.

Baie mense wil nou weet wat dié gedeeltes van Bela wat wél nou in werking is, vir hulle skole en kinders beteken.

Solidariteit het vroeër, as deel van die wetgewende proses, kommentaar oor alle artikels van die wet waarmee ons nie saamstem nie ingedien.

Gaan lees gerus hier vir meer oor Solidariteit se standpunt rondom taal- en toelatingsbeleid en stuur e-pos na diens@solidariteit.co.za as julle meer oor die ander artikels in die wet wil weet.

Hier probeer ons sommige van die meer algemene vrae oor die ander artikels beantwoord.

Beteken die Bela-wet die einde van onafhanklike of privaat skole?

Nee. Bela is nie op onafhanklike of privaat skole van toepassing nie.

Laat die Bela-wet toe dat kinders sonder die toestemming van hulle ouers ingeënt kan word?

Nee. Daar word nêrens in die Bela-wet voorsiening daarvoor gemaak nie. Ouers behou die laaste sê oor die inenting van hulle kinders.

Gaan die onderwysdepartement kragtens Bela leerplanne voorskryf vir leerlinge wat tuis onderrig word?

Nee. Al moet ʼn ouer ʼn kind wat tuisonderrig ontvang by die onderwysdepartement registreer, word leerplanne nie voorgeskryf nie. Die ouer moet wel onderneem om billike en toepaslike onderwys te verskaf.

Laat die Bela-wet gesamentlike badkamers vir seuns en meisies toe?

Nee, gesamentlike badkamers word nêrens in die Bela-wet vermeld nie.

Maak die Bela-wet voorsiening vir onvanpaste seksvoorligting?

Die Bela-wet verwys na geen voorgeskrewe voorligting van hierdie aard nie.


Los ons kinders uit! #StopBela

Afrikaanse onderwys is nog altyd deel van die siel van ons gemeenskap. Bela val ons siel aan. Dit is die grootste bedreiging vir Afrikaanse onderwys die afgelope 100 jaar.

Solidariteit gaan op 5 November 2024 ’n optog hou om teen die Bela-wet protes aan te teken. As die behoud van Afrikaanse skole vir jou belangrik is, kom sluit by ons aan en wys jou steun vir hierdie belangrike saak. Klik hier en bespreek jou plek vir die protesaksie!

Bespreek jou plek vir die protesaksie! Klik hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel