Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
7 uur gelede
sni-verslag-oor-mynbou-ontbloot-ramaphosa-se-seb-leuens

Foto Krediet: Verskaf

SNI-verslag oor mynbou ontbloot Ramaphosa se SEB-leuens

President Cyril Ramaphosa se misplaaste lofsang oor Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) in die mynbousektor is ʼn duidelike bewys van sy blindheid vir die werklikhede wat in hierdie sektor afspeel.

Dit ignoreer ook doelbewus die geweldige skade wat SEB aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aanrig.

ʼn Nuwe verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wys hoe die mynboubedryf in Suid-Afrika oor dekades heen krimp en aanhou krimp. Hierdie inkrimping is ʼn regstreekse gevolg van swak mynboubeleid, waaronder transformasiebeleidsrigtings soos SEB.

Klik hier om die verslag oor transformasie en mynbou af te laai.

Ramaphosa het SEB verlede week opnuut in die Nasionale Vergadering verdedig, ontken dat dit ekonomiese groei en belegging belemmer, en gesê kritici van die beleid “behoort hulle te skaam” omdat hulle wit heerskappy najaag.

Hy het die sukses van mynbou ná 1994 en in die SEB-era as ʼn prestasie vir transformasiebeleid bestempel.

Volgens die SNI-verslag is dit allermins die waarheid en veroorsaak rasbeleid dat Suid-Afrika se mynbedryf juis nie voluit uit heersende hoë kommoditeitspryse munt kon slaan nie en die land se mynbou-ekonomie het in der waarheid drasties agteruit gegaan.

“Vergeleke met die tagtigerjare beslaan mynbou vandag slegs 4,4% van ekonomiese aktiwiteit, teenoor die 20% destyds. Die sektor neem slegs 2,8% van werkende mense in diens. In 1994 het dit 613 000 mense in diens geneem teenoor vandag se 476 000.

“Dit is ʼn verlies van 137 000 werksgeleenthede. As die president dus transformasie in ʼn sektor loof, sou ʼn mens minstens verwag dat die sektor presteer,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die SNI.

Volgens hom hou hierdie inkrimping regstreeks verband met ʼn stel beleide wat transformasie, eerder as groei en volhoubaarheid, as prioriteit ag.

“Boonop het transformasie werklik min suksesse getoon en het ʼn handjievol swart elites eerder as gewone of swart werkers voordeel getrek. ʼn Somtotaal van net 46 mense het die oorgrote meerderheid van bevoordeling gekry, terwyl werkers ʼn skamele 15% van SEB-fondse gekry het,” sê hy.

Solidariteit beklemtoon in hierdie verslag hoe werknemeraandeleskemas ʼn veel meer lonende alternatief tot SEB-teikens bied en dit hierdie teikens dus behoort te vervang.

Du Buisson dui aan dat werkers tans slegs sowat 5,4% van mynboubelange besit, terwyl nagenoeg ʼn kwart daarvan in SEB-entrepreneurs se hande is.

Hy voer aan dit is werkers wat hieruit voordeel behoort te trek.

In die verslag word 2002 se Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne as die kern van die staat se transformasievoertuig in die sektor bestempel. Dit plaas alle mineraleregte onder bewaring van die staat.

Sodoende kan slegs die regering lisensies vir mynbou en prospektering toestaan met bykans geen regte aan die eienaars op wie se grond die minerale geleë is nie.

Hierdie lisensies gaan gepaard met streng SEB-voorwaardes, en maatskappye wat wil prospekteer moet ten minste 51% in swart besit wees.

“Hierdie regulasies het die bedryf juis gekniehalter en daarom is Ramaphosa se lof daarvoor so erg misplaas,” sê Du Buisson.

“Terwyl ander lande in die afgelope dekades hulle mynbousektore kon uitbrei, het dit in Suid-Afrika gestagneer. Die president prys onder andere die beleid wat grondeienaars van mineraleregte stroop, terwyl dit juis tot die verlamming van die bedryf bydra.

“As die president ʼn SEB-suksesverhaal iewers wil opspoor moet hy maar iewers anders gaan soek. Want in mynbou gaan hy dit beslis nie kry nie.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel