loading
Artikels
1 dag gelede
watter-vakke-pas-by-jou-kind-se-droomloopbaan

Foto Krediet: OkayDeer

Watter vakke pas by jou kind se droomloopbaan?

Vakkeuses bepaal jou kind se loopbaanmoontlikhede en daarom het Solidariteit se Skoliere-aanbod ʼn videohulpbron ontwikkel wat sal verseker dat jou kind die regte vakke kies. Ons het reeds die regte vrae gevra sodat jy dit nie hoef te doen nie. Solidariteit se #Vakkeuse-videoreeks bied aan ouers en kinders praktiese riglyne en insig oor watter vakke nodig is vir gewilde beroepe soos onderwys, regte, ingenieurswese en selfs grafiese ontwerp. Lees hier meer oor hoe jy jou kind se toekoms vandag reeds kan vorm.


Deur Kyla-Ann du Toit

Een van die belangrikste besluite wat ʼn hoërskoolkind moet neem, is watter vakke om in graad 9 te kies. Hierdie keuse kan ʼn groot invloed op hul verdere studie hê – en uiteindelik hul beroep. Dit is waarom Solidariteit se #Vakkeuses-videoreeks ouers en kinders help om sinvolle, ingeligte keuses te maak.

Solidariteit se Skoliere-aanbod het gaan ondersoek instel om te kyk watter beroepe matriekleerders die meeste interesseer, en op grond daarvan het ons gespesialiseerde inligtingsvideo’s saamgestel wat hoërskoolvakke op ʼn eenvoudige maar interessante manier verduidelik.

Hier is tien gewilde beroepe en die vakke wat jou kind daarvoor op skool moet neem:

1. Onderwys (BEd)

Onderwys is ʼn roeping. Baie kinders voel reeds vroeg in hul lewe dat hulle graag eendag ander wil help om te leer. Die aanbevole vakke vir ʼn loopbaan in onderwys hang af van die spesifieke onderwysrigting waarin hulle wil spesialiseer. Wiskunde en ʼn vak soos Fisiese Wetenskap, Rekeningkunde of Geografie (afhangend van hul belangstellings) is goeie keuses.

2. BCom Rekeningkunde / BRek (Geoktrooieerde Rekenmeester)

Hierdie rigting vra sterk wiskundige en analitiese vaardighede. Wiskunde is ‘n moet, en Rekeningkunde is baie waardevol. Ekonomie kan ook help om ’n stewige grondslag te bou.

3. Regte (LLB)

Vir toekomstige regspraktisyns is Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid, tale en Geskiedenis nuttig. Kritiese denkvaardighede sowel as goeie taalvaardighede is kernvaardighede vir hierdie beroepsveld.

4. Medies (MBChB)

Medies is een van die mededingendste beroepsrigtings. Uitstekende punte én in die regte vakke is ʼn streng voorvereiste vir hierdie studierigting. Wiskunde, Fisiese Wetenskap en Lewenswetenskappe is noodsaaklik.

5. Sielkunde

Vir ʼn beroep in sielkunde is Lewenswetenskappe, tale en Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid goeie vakkeuses. Sielkunde fokus op mense, daarom is goeie kommunikasie en insig in menslike gedrag baie belangrik.

6. Ingenieurswese

ʼn Kind wat tegnies aangelê is, sal in die ingenieurswese-beroepsrigting floreer. Wiskunde en Fisiese Wetenskap is verpligtend by die meeste universiteite, en Ingenieursgrafika en Ontwerp (IGO) is beslis ʼn bonus.

7. Ambagte (bv. meulmaker, dieselwerktuigkundige, passer-en-draaier, ensovoorts)

Die wêreld sal altyd praktiese, vaardige mense nodig hê. Wiskunde, Wetenskap en ʼn tegniese vak soos Meganiese Tegnologie of Elektriese Tegnologie is belangrik vir ʼn rigting in die ambagte.

8. Lugvaart

Vir dié wat graag in die lug wil wees – as vlieëniers of tegnici – is Wiskunde, Fisiese Wetenskap en Geografie goeie keuses. Tegniese vakke kan ook relevant wees, afhangend van die loopbaanrigting.

9. Grafiese ontwerp

Kreatiwiteit en tegnologie smelt hier saam. Visuele Kuns, Rekenaartoepassingstegnologie (RTT) en selfs Besigheidstudies kan nuttig wees, sowel as ʼn sterk portefeulje met voorbeelde van ontwerpe.

10. Rekenaarwetenskap

Die wêreld word al hoe meer digitaal. Wiskunde is ʼn moet, en Informasietegnologie (IT) of Rekenaartoepassingstegnologie (RTT) help om kinders voor te berei vir studie in programmering of inligtingstegnologie.

Met soveel moontlikhede en vakke om van te kies, is dit maklik vir kinders om oorweldig te voel. Solidariteit bied egter die nodige ondersteuning vir ouers en kinders om hierdie keuses makliker te maak. Solidariteit se #Vakkeuses-reeks en die gratis belangstellingsbepaler vir skoliere help leerders om hul sterkpunte, belangstellings én toekomsdrome met mekaar te belyn. As ʼn kind weet wat hy of sy graag eendag wil doen, kies hulle makliker die regte loopbaanpad.

Skep jou kind se gratis profiel op Solidariteit en begin vandag nog met die #Vakkeuses-videoreeks.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel