
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Meer as ʼn loopbaan: Wie wil jy wéés?
Deur Liza Joubert
Ons leef in ʼn tyd waar dit lyk asof jy enigiets kan wees. Dit klink wonderlik – totdat die werklikheid jou tref. Van kleintyd af word daardie groot vraag vir jou gevra. “Wat wil jy word as jy groot is?”
Van ʼn juffrou en brandweerman, tot veearts, haarkapper of bakker. Maar wanneer jy die volwasse wêreld betree, besef jy skielik daar is soveel méér rigtings en dit is nie so eenvoudig om net ʼn loopbaan te vestig nie.
Jongmense is toenemend oorweldig deur ál die moontlikhede. “Moet ek ʼn ingenieur word? Of ʼn entrepreneur? Of dalk moet ek eers gaan toer en ontdek wie ek regtig is?” Met soveel verskillende rigtings waarin jy kan beweeg, voel dit soms makliker om eerder net glad nie iets te kies nie.
Maar miskien is die regte vraag nie: “Wat moet ek doen?” nie, maar eerder: “Wie wil ek wees?”
Die wêreld sal jou altyd wys wat jy kán doen, maar net jy kan besluit wat jy wíl doen. Selfkennis is nie iets waarmee jy gebore word nie; dit is eerder iets wat jy ontwikkel. Dit is ʼn proses van vra vrae, ontdek wat jou opgewonde maak, en eerlik wees oor wat jy nié geniet nie.
ʼn Praktiese manier om hiermee te begin, is deur jou waardes te identifiseer:
- • Wat gee vir jou lewe betekenis?
- • Wat laat jou voel jy maak ʼn verskil?
- • Waarvoor sal jy in die oggend opstaan, selfs as dit moeilik raak?
Volgens die Greater Good Science Center van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, is waardes nie net morele riglyne nie – dit is ankers vir identiteit. Wanneer jy besluite neem wat in lyn is met dit wat vir jou belangrik is, raak die pad vorentoe duideliker en meer betekenisvol.
Die bekende skrywer van selfhelp- en motiveringsliteratuur, Roy T. Bennett, stel dit so: “As jy nie weet waarvoor jy staan nie, sal jy vir alles ja sê.”
Jongmense kies egter studierigtings of loopbane omdat dit “veilig” voel, of wat geld belowe. Langtermyn-tevredenheid en emosionele welstand hou meer verband met betekenis en persoonlike passies as met salaris alleen.
Dit beteken nie jy moet jou drome sonder ʼn plan volg nie. Dit beteken egter jy moet nie jou planne op grond van vrees of buiteverwagtinge bou nie. Jou passie is dikwels waar jou natuurlike talente, nuuskierigheid en waardes mekaar ontmoet. Die vraag is dus nie: “Wat is die beste opsie?” nie, maar: “Wat is die regte opsie vir my?”
Ons samelewing skep die indruk dat jy teen 18 of 21 jou hele lewe al uitbeplan moet hê. Dit is onrealisties en onnodig. Selfontdekking is ʼn reis, nie ʼn bestemming nie.
Wees bereid om te probeer, te misluk, en weer oor te begin. Gebruik elke ervaring as ʼn spieël: Wat het gewerk? Wat nie? Wat het jou energie gegee? Wat het jou gedreineer?
Elizabeth Gilbert, die bekende internasionaal beroemde Amerikaanse skrywer, van die memoire, Eat, Pray, Love, sê: “Your job is not to figure out what your passion is. Your job is to follow your curiosity.” Dit is ware, wyse woorde. Jy hoef nie een groot “roepstem” te hoor voor jy begin nie. Doen iets. En nog iets. Laat die pad homself ontvou.
Praktiese stappe om jou eie pad te vind:
- 1. Skryf jou top vyf waardes neer. Wat beteken die meeste vir jou? (Byvoorbeeld: vryheid, kreatiwiteit, stabiliteit, diensbaarheid, avontuur.)
- 2. Hou ʼn “energie-joernaal”. Let op wat jou inspireer en wat jou uitput.
- 3. Praat met mense wat jy bewonder. Vind uit hoe húlle hul pad gevind het.
- Eksperimenteer. Probeer kortkursusse, internskappe, vrywilligerswerk. Elke ervaring bring jou nader aan jou kern.
- 5. Moenie alleen kies nie. Gebruik hulpmiddels soos Solidariteit se belangstellingsbepaler of gesels met ʼn mentor.
Jy hoef nie alles te wees nie – jy hoef net jouself te wees. In ʼn wêreld vol opsies is selfkennis jou kragtigste instrument. Die doel is nie om die perfekte pad te kies nie, maar om een te kies wat getrou is aan wie jy is.
As jy voel jy moet keer op keer oor begin, moenie dit sien as ʼn mislukking nie. Dit is bloot groei in die regte rigting. Jy hoef nie al die antwoorde te hê nie. Jy moet net bereid wees om te begin.
Solidariteit stap jou hele loopbaanpad saam met jou en bied kritiese hulpbronne langs die pad wanneer loopbaanbesluite moeilik of onmoontlik lyk. Skep jou gratis profiel en tree in hierdie vennootskap wat jou vir die res van jou loopbaan sal bystaan.