
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Jou kind is ʼn leier – watter rol speel jy as ouer?
Wanneer jou kind as ʼn leier by die skool gekies word, wek dit ʼn gevoel van trots by jou as ouer, maar daar is ook unieke uitdagings vir jou as ouer met hierdie nuwe rol. Yolandi Singleton bied tydens Solidariteit se gratis #Leierskap-webinaar op 26 Junie 2025 praktiese raad aan ouers om hul kinders al hulle verantwoordelikhede en die verwagtinge te balanseer en te hanteer. Lees hier meer oor die webinaar en hoe jy ʼn positiewe verskil in hierdie onbekende fase van jou kind se hoërskoolloopbaan kan maak.
Deur Kyla-Ann du Toit
Leierskap is iets om op trots te wees. Wanneer jou kind by die skool as ʼn leier gekies word, bring dit opwinding, trots en natuurlik – ʼn bietjie spanning. Wat gebeur wanneer daardie verantwoordelikheid jou kind se selfvertroue, hul tydsbestuur of emosionele welstand beïnvloed?
Dit is hier waar jy, as ouer, ʼn onmisbare rol speel!
Die uitdagings van jong leierskap
Solidariteit se Skoliere-aanbod bied op 26 Junie 2025 om 19:00 ʼn gratis #Leierskap-webinaar aan, spesifiek gemik op ouers van kinders wat ʼn leierskapsposisie beklee (of wat daarvan droom om ʼn leier te wees). Die tema is eenvoudig maar kragtig: Hoe help ek my kind om balans tussen hul rol as leier en as leerder te vind?
Die webinaar word aangebied deur Yolandi Singleton, ʼn gesoute maatskaplike werker en terapeut met meer as 15 jaar se ervaring. Sy verstaan die unieke uitdagings wat jong leiers in vandag se skole in die gesig staar. Dink maar aan voortdurende verwagtinge, groepsdruk, konflikbestuur en die innerlike worsteling van “Ek moet sterk wees, maar ek voel uitgeput.”
As ouer wil jy ondersteun, sonder om te oorheers. Jy wil rigting gee, sonder om te druk. Dit is presies hoekom hierdie webinaar só waardevol is. Singleton gaan praktiese, realistiese raad gee oor:
- • hoe om jou kind se selfvertroue in hul rol te versterk;
- • hoe om emosionele ondersteuning te bied wanneer die verantwoordelikhede oorweldigend raak; en
- • hoe jy en jou kind saam in hul leierskapreis – met balans en moed – kan groei.
Herken jy hierdie scenario?
Dalk herken jy die scenario: jou kind het skaars tyd om sy of haar huiswerk klaar te maak, kom ná ʼn vergadering gespanne by die huis aan en begin aan sy of haar vermoëns twyfel. Hierdie webinaar gee jou as ouer die nodige insigte en gereedskap om nie net te help nie, maar om ʼn aktiewe deel van jou kind se ondersteuningsraamwerk te wees.
Bou saam aan jou kind se toekoms
Moenie hierdie geleentheid misloop nie! Registreer vandag nog jou gratis profiel om Solidariteit se #Leierskap-webinaar by te woon en maak seker jy skakel op 26 Junie om 19:00 in.
Jou kind se leierskapsreis begin by jou betrokkenheid. Elke jong leier het ʼn span nodig – en daardie span begin by jóú!