loading
Artikels
6 maande gelede
welkom-by-sol-tech-se-plaashuis

Foto Krediet: Verskaf

Welkom by Sol-Tech se Plaashuis!

Deur Marné Pienaar

Die langverwagte koshuis van Sol-Tech, die Plaashuis, is uiteindelik voltooi en het sy eerste inwoners verwelkom. Dié spoggerige koshuis is alles wat ʼn student benodig om sukses in hul studie te behaal én ʼn avontuurlike studentelewe te geniet.

Geen ouer sal twee keer hoef te dink voordat hulle hul kind by die Plaashuis aflaai nie!

Kom stap saam met ons deur die Plaashuis:

Solidariteit het by Tanya Annandale, koshuisbestuurder van die Plaashuis, gaan aanklop vir ʼn toer van die terrein om te sien hoe hierdie unieke koshuiservaring lyk. Die Plaashuis waarborg ʼn unieke en verantwoordelike studentelewe propvol pret. Saam met Sol-Tech se gehalte-opleiding word ʼn gebalanseerde leerervaring soos min gebied!

Die koshuis is reg oorkant die Sol-Tech-kampus geleë. Tydens ons besoek is ons vriendelik deur die sekuriteitswagte verwelkom en met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die Plaashuis ʼn uitvloeisel van die kampus self is. Enigiemand wat al die kampus besoek het, sal weet hierdie koshuis is beslis luuks!

Soos ons deur die terrein toer en sien watter geriewe vir die studente beskikbaar is, is een ding vir seker: Dit is ʼn plek waar jong Afrikaanse studente hul kultuur met trots kan uitleef en in ʼn veilige omgewing kan floreer en presteer.

Voornemende inwoners van die koshuis kan na die volgende geriewe uitsien:

  • • ʼn  lieflike swembadarea waar warm somerdae deurgebring kan word
  • • ʼn buitelug-gimnasium
  • • ʼn binnenshuise vermaakarea met musiek en waar kragte met tafeltennis, snoeker en veerpyltjies gemeet kan word
  • • ʼn pragtige boma-kuierarea wat dié plek is waar studente in egte Suid-Afrikaanse styl ʼn vleisie op die kole kan gooi
  • • sportvelde is ook in die pyplyn, sodat die koshuis sportgeleenthede vir die studente kan bied
  • • geriewe waar wasgoed gewas word
  • • onbeperkte toegang tot Wi-Fi

Die koshuis het vier blokke: die Eland-blok, die Buffel-blok, die Gemsbok-blok en die Koedoe-blok. Studente word tydens die aansoekproses in ʼn bepaalde blok geplaas, en sal dan hul koshuisdae as deel van daardie blok deurbring.

Hoe lyk die woonsituasie?

Studente word in deelkamers ingedeel wat twee persone kan huisves en is toegerus met ʼn bed, studeerarea en ingeboude kas wat ook ʼn 92 liter-yskassie kan akkommodeer. Onder die bed is addisionele stoorplek en studente het die opsie om hul kasdeure te sluit.

Elke gang het ook sy eie leefarea met ʼn televisie vir vermaak. 

ʼn Vry en veilige koshuiservaring

Ouers hoef ook glad nie bekommerd te wees oor die veiligheid van hul kinders nie. Om die terrein asook elke blok te kan betree, moet besoekers deur ʼn sekuriteitshek beweeg, en dan is daar ook sekuriteit by die ingang van die geboue. Inwoners sal byvoorbeeld nie toegang vanaf die Eland-blok tot die Buffel-blok hê nie.

Wie kan by die Plaashuis intrek?

Die Plaashuis verwelkom mans- en damesstudente wat by Sol-Tech opleiding ontvang en sal in aparte vleuels bly.

Wat is die kostes?

Hierdie koshuiservaring is een soos min en kos slegs R7 200 per maand. Die volgende is by hierdie prys ingesluit:

  • • water
  • • elektrisiteit
  • • skoonmaakdienste
  • • gebalanseerde maaltye in die vorm van vier gekookte aandetes (Maandae tot Donderdae)

Maak die Plaashuis jou eerste keuse! In vandag se tyd is dit kosbaar om ʼn Afrikaanse studente-ervaring te kan hê en nóg meer wanneer jou koshuis jou Christelike waardes en beginsels bevorder.

Vir meer inligting, klik hier om Sol-Tech se webwerf te besoek .

Môre begin vandag!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel