loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
klankgolf-n-nuwe-baadjie-vir-opleiding-in-afrikaanse-radiowese

Foto Krediet: Maroela Media | Klankgolf

Klankgolf: ʼn nuwe baadjie vir opleiding in Afrikaanse radiowese

Deur Kyla-Ann du Toit

Die wêreld van gemeenskapsradio kry ʼn vars, nuwe klank. Maroela Media se nuwe kursus “Klankgolf” is ʼn volledige aanlyn opleidingsplatform vir radio-omroepers, joernaliste en radiopersoneel. Dit word alles in Afrikaans aangebied en kursusgangers kan dit op hul eie tyd en teen hul eie pas voltooi.

“Klankgolf is ʼn aanlyn platform wat bestaande én aspirant-omroepers, radiojoernaliste en ondersteunende spanlede help om te groei en leer – alles in hul eie taal, tyd en tempo,” sê Eugene Lottering, projek- en bemarkingsbestuurder by Maroela Media.

Waar opleiding vir jare hoofsaaklik deur ʼn jaarlikse radioseminaar aangebied is, bied Klankgolf nou ʼn digitale, volhoubare alternatief wat nie dié opleiding vervang nie, maar eerder versterk.

ʼn Opleidingsplatform wat uit die gemeenskap self groei

Die idee vir Klankgolf is nie oornag gebore nie. Maroela Media werk reeds sedert 2011 saam met Afrikaanse gemeenskapsradiostasies regoor die land. Hulle verskaf klankinhoud, nuus en jaarlikse radiovervolgverhale, en bied ook sedertdien ʼn radioseminaar aan waar kenners praktiese opleiding deel.

“Ons het egter oor die laaste paar jaar gesien dat dit vir radiostasies ʼn uitdaging is om al hul personeel na die radioseminaar toe te stuur. Kostes en hulpbronkapasiteit maak dit net nie moontlik vir elkeen om tyd af te staan om die opleiding by te woon nie,” sê Lottering. Dit het die behoefte vir ʼn toeganklike, volhoubare oplossing duidelik gemaak.

Klankgolf spreek presies hierdie gaping aan deur ʼn plek te skep waar radiopersoneel, studente en nuwe stemme toegang kry tot gestruktureerde, bekostigbare opleiding.

Hoekom aanlyn?

Radiowese verander en daarom moet opleiding saam met dit verander. Hoewel tradisionele seminare steeds aangebied gaan word, is Klankgolf se aanlyn formaat ʼn direkte antwoord op die realiteite in die praktyk.

“In ons netwerk van gemeenskapsradiostasies kan slegs sowat 25% van die omroepers die seminare in persoon bywoon. Die aanlyn formaat maak opleiding dus toeganklik, veral vir omroepers wat nie die tyd of hulpbronne het om die opleidingsgeleenthede self by te woon nie,” sê Lottering.

Die platform bied tien interaktiewe modules wat wissel van stemwerk en nuussamestelling tot tegniek én regulasies vir tradisionele en aanlyn radio – ʼn kritieke komponent in die moderne uitsaaiwêreld. Deelnemers kan elke module voltooi soos dit hul rooster pas en materiaal weer hersien wanneer nodig.

ʼn Nuwe generasie van Afrikaanse radiostemme

Klein dorpe en gemeenskappe leef dikwels deur hul radiostasies. Dit is die stem van hul nuus, hul storievertellers en hul kultuurbewakers. Klankgolf wil dié rol versterk.

“Klankgolf wil Afrikaanse gemeenskapsradiostasies versterk en die mense agter die mikrofoon met praktiese kennis toerus,” sê Lottering. “Ons besef daar bestaan ʼn groot passie vir radio onder kommunikasiestudente, en weens beperkte toegang tot gestruktureerde opleiding is Klankgolf ook vir dié studente bedoel.”

Hy voeg by: “Radio was nog altyd ʼn draer van taal en kultuur. Deur Afrikaanse opleiding en inhoud te bied, help dit om die taal lewendig en relevant te hou, veral in jonger geslagte. Afrikaans moet altyd die eerste keuse van uitsendingstaal in ʼn Afrikaanse gemeenskap wees.”

Die rol van tegnologie

Klankgolf sluit nie net by tradisionele radio aan nie, maar dit kyk ook vorentoe. Jong omroepers kry ook opleiding in digitale uitsending, podsendings en aanlyn stromingsdienste. Dit is op hierdie platforms waar radio se toekoms lê.

“ʼn Groot hoeveelheid aanlyn radiostasies begin jaarliks in Suid-Afrika, maar dit bly nie lank op die lug nie weens ʼn gebrek aan die nodige kennis om hierdie stasies volhoubaar te bestuur. Aanlyn radio is die toekoms van die bedryf,” sê Lottering. Daarom fokus Klankgolf spesifiek op volhoubaarheid, bestuur en tegniese vaardigheid – die boustene van ʼn moderne radiostasie.

Solidariteit se betrokkenheid

Volgens Lottering speel die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk ʼn sleutelrol in dié projek. “Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk is reeds direk en indirek betrokke by radio en gemeenskapsradio bloot deur die aard van hul werk en die omgewing waarin hulle funksioneer. Die Klankgolf-platform, saam met Solidariteit, versterk die opleidingskomponent deur bestaande verhoudings te verbind en op beroepsontwikkeling, netwerkvorming en samewerking te fokus.”

Hierdie samewerking sal verseker dat radio die hart van gemeenskappe bly, en dat maatskappye en bemarkers nie net bewus is van die radiostasies in hul omgewing nie, maar ook aktief met hulle kan saamwerk.

Klankgolf gaan sorg vir ʼn nuwe generasie van mense met ʼn passie vir radiowese – een wat Afrikaans uitsaai, Afrikaanse stories vertel en die Afrikaanse radiowese met trots laat groei.

Hoe om te registreer

Die eerste kursus, “Inleiding tot radiowese”, is tot en met 1 Maart 2026 gratisbeskikbaar. Om jou Klankgolf-reis te begin, besoek www.klankgolf.co.za en klik op “meld aan”. Sodra jy ʼn profiel geskep het, kan jy die kursus op die tuisblad begin.

“Klankgolf soos hy nou is, is slegs die begin,” sê Lottering. “Daar kom nog baie kursusse en inhoud wat jaar ná jaar bygewerk gaan word.”

Hou hierdie ruimte dop!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel