Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Welstand as leierskapstrategie: Meer as net ʼn nuwejaarsvoorneme
Deur Mandy-Michelle Thackwray (bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling)
Ek maak as ʼn reël nie nuwejaarsvoorneme nie – meestal omdat ek teen die middel van die jaar nie eens meer onthou wat dit was nie. Wat ek wél doen, is om doelwitte te stel: doelwitte vir my gesin, vir myself, en ook vir my werk.
Hierdie jaar is my fokus op welstand.
As ek terugkyk op die afgelope jaar se gesprekke, artikels en sosiale media, was welstand ʼn tema wat telkens opgeduik het. 2025 was vir baie mense ʼn uitputtende jaar. In baie kantore was die algemene gevoel teen jaareinde: die jaar wou net nie tot rus kom nie.
My fokus is nie net op fisiese welstand nie, maar veral op emosionele welstand. Dit beteken doelbewuste tyd vir kreatiwiteit, werklike rus, en om grense te stel wat nie net goed klink nie, maar ook geleef word. As ek sê ek gaan ʼn tegnologie-vas doen, moet ek dit deurvoer. Hierdie klein beginpunte help my om emosionele balans te bewaar, selfvertroue te bou, en uiteindelik meer waardevol vir ander te wees.
Maar as leier kan ek nie hierdie pad in isolasie stap nie.
My energie, ingesteldheid en gewoontes het ʼn direkte invloed op my span. Indien ek nie self gesonde grense handhaaf nie, skep ek onbewustelik ʼn kultuur waar uitbranding, skuldgevoelens en negatiewe spanning normaal raak. My wens is dat my span dieselfde emosionele en intellektuele vryheid kan ervaar as wat ek nastreef.
So, hoe lyk dit prakties?
Dit begin by die stel van ʼn voorbeeld. As ons onderneem om nie werk huis toe te neem nie, moet dit vir almal geld. As ons sê werk skakel na ʼn sekere tyd af, moet leiers dit eerste doen. Selfdissipline is noodsaaklik, en skuldgevoelens hoort nie tuis in ʼn gesonde werkomgewing nie.
Siekverlof beteken rus. Nie “net e-posse dophou” nie. Verlof is daar om werklik af te skakel, en gereelde kort breuke help om liggaam en gees weer moed en energie te gee. Suksesse moet erken en gevier word. Foute moet veilig bespreek word, met ʼn verbintenis om daaruit te leer. Empatie, ondersteuning en sinvolle werk is nie sagte konsepte nie – dit dryf volhoubare produktiwiteit.
Dit klink dalk idillies, maar die werklikheid is dat ons ʼn span is wat hard werk. Etiese waardes, pligsgetrouheid en diensbaarheid is kernwaardes. Juis daarom is ons vatbaar vir stres, moegheid en uiteindelik uitbranding – wat produktiwiteit direk beïnvloed.
Hierdie jaar kies ons om dit anders aan te pak. Nie perfek nie, maar doelbewus.
Hoe gaan jy en jou span welstand hierdie jaar prakties leef?