
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wenke om ʼn mediaverklaring te skryf – en hoe om dit mediavriendelik te verpak
Om ʼn mediaverklaring suksesvol te skryf, beteken om dit nuuswaardig, bondig en mediavriendelik aan te bied. Dié artikel bied praktiese wenke oor hoe om met sterk inhoud, aanhalings en slim verpakking joernaliste se aandag te trek en die kans vir publikasie te verhoog. Lees hier hoe om te verseker dat jou verklaring ʼn waardevolle bron vir mediahuise is.
Deur Heléne Mocke
ʼn Mediaverklaring is jou eerste (en dikwels enigste) kans om ʼn nuusredaksie te oortuig dat jou storie ruimte op hul platform verdien. Hoe duideliker, korter en makliker jy die inhoud aanbied, hoe groter is die kans dat joernaliste dit onveranderd sal publiseer. Hieronder volg ʼn paar praktiese riglyne om elke verklaring nuuswaardig te maak.
Begin met ʼn sterk nuushoek
Die eerste sin van jou verklaring moet dadelik die kernboodskap en nuuswaarde oordra. Vra jouself: Wat is die storie? Wat maak dit nuuswaardig? ʼn Kragtige inleiding verseker dat joernaliste onmiddellik sal sien hoekom die verklaring relevant is.
Sluit mediavriendelike aanhalings in
ʼn Treffende aanhaling gee kleur en persoonlikheid aan die verklaring. Dit moenie bloot die feite herhaal nie, maar eerder ʼn insig, opinie of reaksie bied wat die storie verdiep.
Maak dit maklik om die verklaring te gebruik
Hoe makliker jy dit vir joernaliste maak om jou verklaring te gebruik, hoe groter is die kans dat dit wel gebruik sal word. Dit beteken:
- • verskaf alle relevante feite en name korrek;
- • gebruik eenvoudige, professionele taal; en
- • hou die verklaring relatief kort – verkieslik nie langer as ʼn bladsy nie.
Verpak jou inhoud slim
Mediahuise ontvang daagliks honderde verklarings – laat joune uitstaan deur dit professioneel en volledig te verpak.
- • Voeg ʼn foto van goeie gehalte (van die gebeurtenis, persoon of plek) by.
- • Sluit ʼn kort klankgreep in waarin ʼn woordvoerder die kernboodskap in 15 tot 30 sekondes oordra.
- • Stuur ʼn video, al is dit net 30 tot 60 sekondes lank, wat visuele inhoud bied wat maklik op sosiale media gedeel kan word.
Hierdie bykomende materiaal verdubbel letterlik jou verklaring se kans op plasing. Redakteurs en joernaliste is meer geneig om iets te gebruik wat reeds “publikasiegereed” is, en hoe meer jy vir hulle doen, hoe meer sal hulle vir jou doen.
Tydsberekening is belangrik
Stuur jou verklaring op ʼn tydstip wanneer dit waarskynlik raakgesien sal word – gewoonlik vroeg in die oggend of teen laatmiddag voor spertye. Vermy naweke, tensy dit ʼn dringende nuusgebeurtenis is.
Bou verhoudinge met joernaliste
Reageer vinnig op navrae en wees konsekwent met gehalte. As jy betroubare en bruikbare verklarings uitreik, sal mediahuise jou as ʼn bron begin vertrou.
Sluit vandag nog aan by die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk en word deel van jóú beroepstuiste!
Heléne Mocke is ʼn media- en skakelbeampte by Solidariteit.