Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wenke vir studente: Jou eerste CV
Deur Ané Janse van Rensburg
As ʼn universiteitstudent, is jou CV van dié belangrikste dokumente wat jy gaan opstel. Hierdie “dokkie” kan vir jou baie deure oopsluit – van internskappe tot geleenthede vir werk. Terwyl jy jou eerste CV opstel, is dit belangrik om te verstaan hoe jy jou professionele profiel, en jou vaardighede en prestasies op die beste manier kan kommunikeer.
Omdat jou CV só ʼn belangrike deel van jou sprong van student na jong werkende is, het Solidariteit ʼn CV-bouer in plek gestel wat hierdie proses vergemaklik. Lees hier oor hoe jy jou CV op Solidariteit kan opstel.
Hier is ʼn paar wenke om seker te maak dat jou eerste CV een is om te onthou:
- Maak seker dat jou CV maklik om te lees is. Gebruik ʼn duidelike, professionele skryfstyl regdeur die dokument. Maak seker dat jou CV geen spel- of grammatikafoute bevat nie. ʼn Foutlose CV wys op jou aandag aan detail en ʼn professionele houding.
- Sluit spesifieke datums, plekke en prestasies in om jou ervaring te illustreer.
- Pas jou CV aan vir elke spesifieke aansoek. Doen ʼn bietjie navorsing oor die maatskappy of instelling wat die pos geplaas het, en pas jou vaardighede en ondervinding aan om by die spesifieke behoeftes van die pos in te skakel.
- Spog met jou prestasies! Werkgewers wil sien hoe jy waarde toegevoeg het en sukses behaal het in vorige rolle en verantwoordelikhede.
- Moenie jou CV oorlaai met inligting nie. Wees krities oor watter inligting die moeite werd is om neer te pen. Hou dit kort en kragtig!
- Jou CV moet in ʼn formele, professionele toon geskryf wees. Vermy informele taal, afkortings, of sleng wat die professionele voorkoms van jou CV kan belemmer.
- Wees duidelik en bondig in jou verduidelikings. Vermy jargon wat nie algemeen bekend is nie, tensy dit spesifiek verband hou met die bedryf waarin jy aansoek doen.
- Verskaf slegs inligting wat relevant is vir die spesifieke pos waarvoor jy aansoek doen. Byvoorbeeld, jou vakansiewerk as kelner mag dalk nie so relevant wees met ʼn aansoek vir ʼn IT-pos nie.
Lees hier oor meer wenke om jou CV te laat uitstaan bo die res van die kandidate.
Solidariteit se Studente-aanbod wil saam met jou die groot sprong na jong werkende neem en dit so glad as moontlik laat verloop. Skakel vandag nog in by hierdie netwerk en kry gratis toegang tot verskeie geleenthede, wenke en kenners wat jou wil bemagtig!