Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
Werkgewer se oorhaastige ontslag kos hom R80 000
Robin-Lee Maré
ʼn Werksoeker se vreugde oor ʼn nuwe pos het gou in ontsteltenis verander toe hy, minder as ʼn maand ná sy aanstelling, sonder goeie rede afgedank is.
Solidariteit-lid Johan Jooste* is meegedeel hy het na bewering nie sy prestasieteikens, wat hy vir homself gestel het, bereik nie.
Hy is ook onregmatig van ʼn verskeidenheid ander oortredings beskuldig, wat uiteindelik nietig verklaar is.
Jooste is deur sy destydse werkgewer as streekbestuurder aangestel nadat hy sy vorige werk verlaat het om die nuwe geleentheid aan te gryp. Binne ongeveer ʼn maand is hy egter voor ʼn tugverhoor gebring op drie aanklagte: die vervalsing van vorige indiensnemingsbesonderhede, die versuim om die beloofde syfers en werksprestasie te lewer, en nalatigheid. Hy is slegs op die tweede klag skuldig bevind, wat op swak werksprestasie neergekom het, waarna sy diens beëindig is.
Volgens Carmen Prinsloo, litigant by Solidariteit, het Solidariteit die ontslag na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys nadat die werkgewer aangevoer het Jooste het nie die teikens bereik wat hy glo self voorgestel het nie.
“Jooste het egter aangevoer hy is nooit ʼn billike geleentheid gegun om dié teikens te bereik nie. Hy het ook nie die nodige ondersteuning of hulpbronne ontvang om suksesvol te wees nie en is boonop nie tydens die interne tugproses ʼn behoorlike geleentheid gegun om sy saak volledig te stel nie,” sê Prinsloo.
Prinsloo meen werkgewers behoort werknemers ʼn billike geleentheid te gun om hulself te bewys.
“Wanneer iemand skaars begin werk het, is dit onredelik om onmiddellike resultate te verwag sonder behoorlike ondersteuning, leiding of voldoende tyd om aan die vereistes van die pos te voldoen,” sê Prinsloo.
Die kommissaris het met Solidariteit saamgestem. In die arbitrasietoekenning is bevind die werkgewer het versuim om die prosedures te volg wat die Wet op Arbeidsverhoudinge vereis wanneer swak werksprestasie ter sprake is. Die werkgewer het ook nie voldoende bewyse gelewer dat Jooste ʼn billike geleentheid ontvang het om sy prestasie te verbeter voordat ontslag oorweeg is nie.
Die kommissaris het verder uitgewys Jooste was slegs enkele weke in diens en moes, ondanks sy senior posisie, steeds leiding, ondersteuning en ʼn redelike tydperk ontvang om aan die werkgewer se verwagtinge te voldoen. Volgens die toekenning het die werkgewer eerder gehaas op tugoptrede as om die nodige stappe te doen om Jooste se prestasie te verbeter.
Volgens Prinsloo bevestig dié uitspraak opnuut dat werkgewers nie werknemers summier kan afdank omdat hulle nie binne ʼn onrealistiese tydperk prestasieteikens bereik nie.
“Werkgewers kan nie swak werksprestasie as ʼn maklike verskoning gebruik om van werknemers ontslae te raak sonder om die korrekte proses te volg nie. Indien ʼn werknemer nie aan ʼn prestasiestandaard voldoen nie, rus daar ʼn plig op die werkgewer om leiding, opleiding en ʼn redelike geleentheid vir verbetering te bied voordat ontslag oorweeg word. Hierdie uitspraak beklemtoon weer eens die belangrikheid van billike arbeidspraktyke,” voeg Prinsloo by.
Die KVBA het uiteindelik beslis Jooste se ontslag was prosedureel én substantief onbillik en het die werkgewer gelas om hom R80 000 te betaal, gelykstaande aan twee maande se vergoeding.
*ʼn Skuilnaam word op versoek van die lid gebruik.