Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 dae gelede
werkgewers-moet-ras-uit-alle-posadvertensies-verwyder-se-solidariteit

Foto Krediet: ChatGPT

Werkgewers moet ras uit alle posadvertensies verwyder, sê Solidariteit

Solidariteit doen ʼn beroep op werkgewers om onmiddellik op te hou om rasvereistes in posadvertensies te plaas, en om nie onder die indruk te wees dat hulle daartoe verplig is nie.

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die gebruik van ras in posadvertensies ʼn selfopgelegde praktyk wat geensins deur wetgewing vereis word nie.

“Daar is geen wet wat ondernemings dwing om rasvereistes in advertensies te plaas nie. Ongelukkig bestaan daar ʼn wanindruk hieroor by sommige werkgewers.  

“Daar is ook geen wet wat werkgewers verhinder om die beste kandidaat op grond van meriete aan te stel nie. Inteendeel, selfs bestaande rassewetgewing verbied absolute uitsluitings op grond van ras,” sê Hermann.

Solidariteit merk op dat baie werkgewers dikwels uit gewoonte of vrees verder gaan as wat die wet vereis en sodoende self die huidige rassebedeling in stand hou.

Volgens Hermann het werkgewers die vermoë om hierdie praktyk te verander.

“Ons hoef nie te wag nie. 90% van werkgewers is waarskynlik gefrustreerd met rassewette, maar baie van hulle hou dit steeds self aan die gang.

“Dit is tyd dat werkgewers begin om die stelsel wat hulle verstik, af te breek,” sê Hermann.

Solidariteit beklemtoon dat die organisasie reeds op verskeie fronte teen rassewetgewing veg, insluitend internasionale klagtes en plaaslike hofaksies, maar dat dit ʼn lang proses is.

Hierdie proses sal vanjaar verder verskerp word ten einde Suid-Afrika in die nabye toekoms van rasmalheid in die werkplek te bevry.

“Werkgewers kan reeds vandag begin deur nie vrywillig rasvereistes te stel waar dit nie nodig is nie. Hulle hoef dit nie te doen nie. Die beginpunt is eenvoudig: verwyder ras uit advertensies en fokus op meriete.

“As dit ʼn invloed op jou rassyfers het, meld dit aan en dien dit in. Die regering sal dan moet verduidelik hoekom dit verkeerd is om die beste persoon aan te stel. Dit sal die morele bankrotskap van die huidige bedeling net verder ontbloot,” sê Hermann.

Solidariteit se standpunt is dat immorele rassewetgewing nie ʼn plek in die werkplek het nie. Die organisasie glo dat hierdie eenvoudige aksie om rasvereistes uit posadvertensies te verwyder, ʼn betekenisvolle bydrae kan lewer om dit te verander.
 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel