loading
Artikels
22 uur gelede
100-dae-sonder-beurtkrag-is-goeie-nuus-maar-is-dit-volhoubaar

Foto Krediet: Pexels

100 dae sonder beurtkrag is goeie nuus, maar is dit volhoubaar?

Deur Robin-Lee Maré

Suid-Afrika se viering van ʼn 100ste agtereenvolgende dag sonder beurtkrag is rede tot vreugde. Die laaste beurtkragsiklus was op 16 Maart 2025.

Alhoewel dit vir huishoudings en ondernemings verligting bring, bly die vraag egter: Is hierdie stabiliteit volhoubaar te midde van verouderde steenkoolkragstasies en die dringende behoefte aan nuwe energiebronne?

In die afgelope 100 dae is daar wel nuttige aanpassings by Eskom gemaak, onder leiding van hoofuitvoerende beampte, Dan Marokane. Sekere vaardigheidsprogramme is hervat en verhoudinge met vakbonde het verbeter, wat moontlik die risiko van sabotasie verminder. Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), dui hierdie ontwikkelings op ʼn veranderde werkomgewing. Hy waarsku egter: “Al is daar oor die algemeen ʼn beter werkomgewing merkbaar in vergelyking met die verlede lê daar nog ʼn lang pad van herstel voor ons.”

Die afwesigheid van beurtkrag die afgelope 100 dae spruit hoofsaaklik uit die groot hoeveelheid diesel wat verbrand is om krag te voorsien. Alhoewel dit kommerwekkend is, meen Du Buisson dat dit blyk asof Eskom pogings aan die gang sit om die dieselgebruik te verminder: “Meer sonkrag-oplossings word ontplooi en instandhoudingsiklusse by steenkoolkragstasies word beter beplan en bestuur.”

Eskom is boonop nie meer die enigste kragvoorsiener nie – al hoe meer verbruikers maak gebruik van private kragvoorsiening, wat die druk op die netwerk verlig en die kans op beurtkrag verminder.

Die vraag bly egter of dit volhoubaar is.

Die antwoord is dat die huidige verbeterings by Eskom waarskynlik nie volhoubaar gaan wees sonder ingrypende strukturele verandering nie. Volgens Du Buisson is dit ʼn kernvereiste dat Eskom tweerigtingmeters installeer sodat klein ondernemings en huishoudings oortollige krag in die netwerk kan terugstoot. Alhoewel Eskom dit tans vertraag, is dit ʼn noodsaaklike stap vir die toekoms van Suid-Afrika se kragvoorsiening.

Vir die toekoms glo Du Buisson dat die herstel van Koeberg ʼn dringende noodsaaklikheid is, terwyl die bou van nuwe kernkragstasies onvermydelik is om volhoubare kragvoorsiening te verseker.

“Die bestaande steenkoolvloot moet intussen in stand gehou word totdat alternatiewe kragbronne ten volle gevestig is,” beklemtoon Du Buisson.

Uiteindelik sal Suid-Afrika se energietoekoms van ʼn gebalanseerde mengsel afhanklik wees waarin kernkrag en privaat hernubare energie ʼn gelykwaardige rol speel.

Alhoewel die 100 dae sonder beurtkrag ʼn welkome verligting gebring het, bly die groot uitdaging die langtermynvolhoubaarheid van ons kragvoorsiening. Sonder ingrypende strukturele hervormings, soos die bou van nuwe kernkragstasies, die volgehoue instandhouding van die steenkoolvloot en ʼn gebalanseerde mengsel van kernkrag en privaat hernubare energie, loop Suid-Afrika die gevaar dat hierdie vordering slegs ʼn kortstondige verbetering sal wees. Die verantwoordelikheid rus dus nou swaar op Dan Marokane om met sterk en doelgerigte leierskap hierdie planne ʼn werklikheid te maak.

Die uitdaging is dus nie bloot om beurtkrag te voorkom nie, maar om ʼn betroubare en volhoubare energie-infrastruktuur te vestig wat Suid-Afrika se groei en toekoms kan dra.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel