
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
200 leerders woon Solidariteit se Wiskunde-winterskool by
Solidariteit se Wiskunde-winterskool, in samewerking met Sol-Tech en Akademia, is ʼn belegging in jong mense se drome, potensiaal en toekoms. Tydens hierdie geleentheid wat op 29 en 30 April aangebied is, is graad 10- en 11-leerders toegerus met praktiese wiskundige vaardighede en motivering om hul akademiese doelwitte te bereik. Lees hier meer oor hoe Solidariteit se Skoliere-aanbod leerders help om ʼn suksesvolle toekoms te bou.
Deur Kyla-Ann du Toit
ʼn Belegging in jong mense se drome, potensiaal en toekoms – dít is die doel van Solidariteit se Wiskunde-winterskool. Op 29 en 30 April het 200 graad 10- en 11-leerders die eerste Wiskunde-winterskool bygewoon wat Solidariteit se Skoliere-aanbod aangebied het. Hierdie unieke geleentheid is in samewerking met Sol-Tech en Akademia op hul onderskeie kampusse in Pretoria aangebied.
Die winterskool is spesifiek ontwikkel om hoërskoolleerders se wiskundige begrip te verdiep en hulle toe te rus met praktiese vaardighede wat hul akademiese potensiaal sal verbeter. Hierdie twee dae van Wiskundeklasse het ten doel om meer as net kennis oor te dra – dit is ʼn belegging in die toekoms van jong Afrikaanse leerders.
“Hierdie winterskool behels nie net somgetalle en formules nie – dit is ʼn belegging in jong mense se drome, potensiaal en toekoms,” sê Felicia Richardson, spesialis by Solidariteit se Skoliere-aanbod. “Ons span staan gereed om elke leerder met praktiese ondersteuning, motivering en ʼn wenplan toe te rus.”
Die program het ʼn balans geskep tussen inhoudverryking, probleemoplossing en die praktiese toepassing van wiskundige konsepte. Leerders het waardevolle studietegnieke aangeleer, hul begrip verdiep en nuwe motivering gekry om met selfvertroue na hul akademiese doelwitte te mik.
Die span slimkoppe
Die inhoud van die winterskool is saamgestel en aangebied deur ʼn span passievolle en kundige akademici en opvoeders:
- • Santie Louw – 35 jaar ondervinding in Wiskunde-onderrig en tans dosent aan Akademia.
- • Ruan de Villiers – lektor by Sol-Tech, verbind teorie en praktyk in Wiskunde, Wetenskap en Ambagstudies.
- • Michelle Michau – dosent aan Akademia, spesialiseer in gevorderde Wiskundemodules.
- • Veniece Janse van Rensburg – finalejaarstudent in BSc (Wiskundige Wetenskappe), bring vars perspektief.
- • Mariana Strydom – lektor in Wiskunde-onderwys aan Akademia, passievol oor selfvertroue in Wiskunde.
Solidariteit se Skoliere-aanbod poog om leerders reeds vanaf hoërskool te ondersteun – akademies en emosioneel, en om hulle beroepsgerig te oriënteer. “Ons wil met hierdie winterskool leerders toerus met praktiese wenke, hulpbronne en motivering vir die eksamens wat voorlê,” sê Chereé Meyer, netwerkorganiseerder van Solidariteit en verteenwoordiger tydens Solidariteit se winterskool.
ʼn Belegging vir ʼn suksesvolle toekoms
Solidariteit se Skoliere-aanbod beoog om deur tipe inisiatiewe nie net akademiese sukses te bevorder nie, maar ook ʼn sterk grondslag vir loopbaankeuses en beroepsontwikkeling te lê. Die Wiskunde-winterskool is slegs een van die vele maniere waarop Solidariteit in die vorming van ʼn selfstandige, vaardige en hoopvolle jong geslag belê.
“Dankie aan elke ouer, leerder en vennoot wat help om hierdie twee dae moontlik en onvergeetlik te maak! Saam bou ons aan ʼn vry, veilige, en voorspoedige toekoms vir die Afrikanerjeug,” sê Richardson.
Skep vandag nog jou kind se gratis profiel op Solidariteit en kry meer inligting oor toekomstige projekte en verskeie hulpbronne wat die sukses van hul hoërskoolloopbaan sal verseker!