loading
avatar
Artikels
8 uur gelede
2025-n-jaar-van-impak-vir-solidariteit

Foto Krediet: OkayDeer

2025: ʼn Jaar van impak vir Solidariteit

Deur Leré Nel

Een ding is vir seker: 2025 was geen vervelige jaar vir Solidariteit nie! Dit het gestrek van besoeke aan die VSA tot onderonsies met Panyaza Lesufi nadat hy ʼn reusebanier van Solidariteit verwyder het; hierdie afgelope jaar sal onthou word as ʼn jaar waarin Solidariteit deur middel van veg, beskerm en bou gedoen het wat beloof is én meer…

Die voorgenoemde stelling geld nie net vir Solidariteit se doen en late as vakbond hier op eie bodem in Suid-Afrika nie, maar ook op die buitelandse verhoog waar verskeie rolspelers van Solidariteit ingetree het vir Suid-Afrika en Suid-Afrikaners, en natuurlik vir Afrikaners spesifiek.

Solidariteit was een van die grootste nuusmakers in 2025, maar kyk tog met groot dankbaarheid terug op groot welslae gedurende hierdie tydperk.

Meer as R284 miljoen is vir lede verhaal

Solidariteit se eerste prioriteit bly altyd sy lede, en 2025 was geen uitsondering nie. In 2025 het Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) ʼn totaal van R203 911 207,49 vir lede geëis. Hierdie eise sluit onder meer lewenslange pensioene in, wat bereken word vanaf die datum van diagnose of besering tot op 80-jarige ouderdom.

Dit is van toepassing wanneer ʼn lid ʼn beroepsiekte of ernstige besering aan diens opdoen en permanent ongeskik verklaar word. Byvoorbeeld, vir ʼn SAPD-lid wat sy been en vinger tydens ʼn gewapende konfrontasie met misdadigers verloor het of vir lede wat werksverwante siektes of beserings opgedoen het en gevolglik vir maande of jare nie kan werk nie, is hierdie eise lewensveranderend.

Solidariteit se Regsdienste-afdeling het ook in 2025 uitsonderlik presteer. In 2025 is:

  • • R27 112 123,90 deur middel van die arbeidshof vir lede verhaal; en
  • • R53 705 445,01 deur algemene litigasie aan lede uitbetaal.

Daar is dus ʼn totaal van meer as R80,8 miljoen deur Solidariteit se Regsdienste-afdeling aan lede uitbetaal.

RACE to the Bottom

Met die vrystelling van die dokumentêr RACE to the Bottom in November 2025 het Solidariteit die donker werklikheid van rassewette in Suid-Afrika blootgelê. Die dokumentêr ontbloot die ware koste van rassewette, gee bewyse dat rasbeleide misluk het, en wys vir Suid-Afrikaners – en die wêreld – dat daar ʼn beter oplossing is.

Dié dokumentêr is uiters positief deur die publiek ontvang, en dit het reeds beduidende internasionale aandag getrek.

Die G20-massabesoek en die banier-saga

Solidariteit se G20-massabesoek was een van die mees sigbare projekte van 2025. Met memorandums wat in die dae voor die aanvang van die G20-beraad by 18 G20-lande se ambassades ingehandig is, het Solidariteit hierdie lande herinner aan hul verbintenis tot nie-rassigheid ingevolge die VN-konvensie 111. Die internasionale bewusmaking is verder versterk deur ʼn ikoniese 70 meter lange banier wat langs die M1 in Johannesburg opgerig is met die boodskap: “Welcome to the most race-regulated country in the world.”  As hierdie beeld alleen nie treffend genoeg was nie, het Panyaza Lesufi gehelp om die impak daarvan te versterk deur aan die Johannesburg-metro opdrag te gee om die banier te verwyder. Hierdie verwyderde banier, wat in wese op sensuur neerkom, het wêreldwyd weerklank gevind en Solidariteit het regstappe geneem. ʼn Skikkingsooreenkoms, a.g.v. ʼn hofbevel, is uiteindelik bereik. Hierdie skikking het vereis dat die Johannesburg-metro die reusagtige banier kosteloos teruggee, en die metro het ingevolge die ooreenkoms die banier op Dinsdag 18 November aan Solidariteit terugbesorg.

Nedlac-dispuut met die regering oor afleggings

Teen die einde van 2025 het ʼn groot vlaag afleggings die ferrochroombedryf en verwante bedrywe getref. Solidariteit het hande gevat met groot werkgewers in dié bedrywe soos Samancor en Glencore-Merafe om druk op die regering te plaas om elektrisiteitstariewe vir hierdie industrieë te verlaag (soos wat hulle al lankal belowe het om te doen). Nadat onderhandelinge onsuksesvol was en daar steeds geen daadwerklike optrede aan die regering se kant was nie, het Solidariteit ʼn dispuut met die regering verklaar. In 2026 sal Solidariteit verder veg vir sy lede, en duisende gesinne, wat deur hierdie afleggingsbloedbad geraak word.

Skakeling met die VSA en alternatiewe handelsvoorstelle

Solidariteit se skakeling met die Verenigde State het ʼn strategiese hoogtepunt bereik met twee besoeke in 2025. Die eerste afvaardiging het in Februarie die Washington-memorandum aan sleutelrolspelers in die Trump-administrasie oorhandig. Later in die jaar is ʼn voorstel vir ʼn alternatiewe handelsooreenkoms ook aan VSA-amptenare oorhandig. Hierdie betrokkenheid plaas internasionale druk op die ANC oor onder meer skadelike rasbeleid, en bou ook aan betekenisvolle bande met die wêreld se sterkste moondheid wat uiteindelik tot voordeel van almal in Suid-Afrika kan strek – terwyl die ANC-regering versuim om dit te doen.

Die koste van SEB-verslag

Saam met die Vryemarkstigting het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in 2025 ʼn omvattende verslag oor die koste van Swart Ekonomiese Bemagtiging (The cost of B-BBEE compliance) bekendgestel. Hierdie navorsing het feitelik en onweerlegbaar uitgewys hoe rasgebaseerde beleid werksgeleenthede vernietig, beleggers afskrik en ongelykheid verdiep.

Dink groter, doen groter: Want ons is toekomsbouers

Al hierdie suksesse vertel een storie: deur werknemers te beskerm, instellings te vestig, internasionale bande te smee en teen drakoniese beleide te veg vir ons mense, bou Solidariteit aan die toekoms. In 2026 dink ons groter, en doen ons nóg groter. Solidariteit dink groter as korttermynoplossings en doen groter as simboliese gebare – en juis daarom bly hoop vir die toekoms nie net ʼn ideaal nie, maar ʼn werklikheid waaraan daar saam gebou word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel