Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit vra Withuis weer om SA deel van Agoa te hou
Solidariteit het vandag die goedkeuring van die verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) deur die Amerikaanse senaat verwelkom. Agoa het in September verlede jaar verval en sedertdien geld die gunstige handelsvoorwaardes wat dit skep nie meer vir Afrikalande wat vir 25 jaar groot baat daaruit geput het nie. Voordat Agoa weer in werking kan tree, moet die Withuis eers bepaal watter Sub-Sahara-Afrikalande vir Agoa kwalifiseer en daar is ʼn wesenlike risiko dat Suid-Afrika hiervan uitgesluit kan word.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het dié organisasie weer eens ʼn pleidooi aan die Withuis gelewer om Suid-Afrika deel van Agoa te hou. “Agoa het oor die jare honderde ondernemings in Suid-Afrika bemagtig om goeie gehalte produkte, wat dikwels nie in die VSA geproduseer word nie, hier te vervaardig en dan teen mededingende pryse na Amerika uit te voer. Honderde duisende werksgeleenthede is so geskep. Om Suid-Afrika uit te sluit, sal hierdie ondernemings en hul werknemers straf.”
Solidariteit is egter bekommerd dat die huidige spanning tussen Suid-Afrika en die VSA oor ʼn lang lys van kwessies, insluitend die onlangse vlootoefeninge waaraan Iran ook deelgeneem het, uiteindelik tot Suid-Afrika se uitsluiting kan lei. “Geen land wat die VSA se nasionale veiligheid bedreig kry gewoonlik toegang tot Agoa nie. Verder word daar sterk klem gelê op menseregte, minderheidsregte en eiendomsreg. Die Trump-administrasie het die afgelope twaalf maande eintlik reeds ʼn saak opgebou teen Suid-Afrika se insluiting in Agoa. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse regering niks gedoen om die geskil doeltreffend te besleg nie.”
Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, het reeds twee weke gelede die Withuis in ʼn skrywe versoek om Suid-Afrika nie uit te sluit nie. In die skrywe noem die beweging dat dit belangrik is dat die voordele van Agoa direk na Suid-Afrika se privaat sektor en sy hardwerkende werknemers vloei. “Terwyl ons die kommer erken wat geopper is oor Suid-Afrika se buitelandse beleidsposisies en sekere binnelandse beleide soos plaasaanvalle, onteiening, rassewette en die regte van minderhede soos Afrikaners, kan en moet hierdie kwessies aangespreek word deur direkte bilaterale onderhandelinge, diplomatieke druk of geteikende voorwaardes eerder as breë handelsmaatreëls wat onskuldige ondernemings, boere en werkers penaliseer,” aldus die brief aan president Trump, wat reeds op 19 Januarie aan die Withuis gestuur is.
Volgens Solidariteit sal die uitsluiting van Suid-Afrika van Agoa uitvoerafhanklike nywerhede en werksgeleenthede verwoes en die einste ekonomiese spelers ondermyn wat positief tot stabiliteit en groei bydra. Juis daarom vra Solidariteit dat die Trump-administrasie Suid-Afrika as ʼn begunstigde van Agoa behou, maar met spesifieke streng voorwaardes.