Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
11 uur gelede
solidariteit-stuur-aanmaning-oor-onwettige-r100-miljard-plunderfonds

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit stuur aanmaning oor onwettige R100 miljard-plunderfonds

Vind asseblief klankgrepe in Afrikaans en Engels deur Anton van der Bijl.

Solidariteit het ʼn regsaanmaning aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DTIC) gestuur oor sy hantering van die sogenaamde R100 miljard-Transformasiefonds wat in ’n “herontwerpte” formaat bekendgestel gaan word.

Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof by Solidariteit, is daar wesenlike teenstrydighede tussen die departement se vorige antwoorde op Solidariteit se aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), en die inligting wat tans in die openbare domein sirkuleer.

“Daar was duidelike oneerlikheid. Suid-Afrikaners is doelbewus mislei. In Mei 2025 het die departement uitdruklik beweer die Transformasiefonds nog nie voldoende ontwikkel  is nie. Dit is as rede gebruik om aan te voer waarom belangrike dokumente, kosteberekeninge en impakstudies nie destyds bekend gemaak kon word nie.

“Nou word daar berig dat die fonds reeds so vroeg as volgende week gereed sal wees vir bekendstelling, met miljarde rande se finansiële verbintenisse, ’n vaste bestuursmodel en ’n duidelike aansporingstruktuur,” sê Van der Bijl.

Solidariteit het reeds in 2025 formeel ingevolge PAIA toegang versoek tot dokumentasie wat onder meer die koste, haalbaarheid, bestuursraamwerke en finansiële implikasies van dié fonds sou aantoon.

Die departement het egter aangevoer dat sodanige rekords  bestaan nie, of dat dit deel vorm van ’n voortgesette beleidsproses.

“Daardie verduideliking is  eenvoudig nie meer geldig nie. ’n Fonds wat reeds na bewering vroeë beleggingsverbintenisse van R13 miljard het – onder meer van openbare entiteite soos die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika – kon nie sonder breedvoerige interne studies, finansiële modellering en goedkeuringsprosesse ontwikkel gewees het nie.

“Buitendien moet daar gevra word wie dan die belastingfondsbestuurder soos die WVF gemagtig het om ons en ons lede se gelde so te vermors,” voeg Van der Bijl by.

Solidariteit waarsku verder dat enige implementering van die Transformasiefonds sonder volle nakoming van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) onwettig, irrasioneel en grondwetlik ongeldig sal wees.

“Hierdie lyk en ruik soos nog een van die kaderregering se plunderfondse. Daar is geen rede waarom ons nou skielik van die regering moet verwag om die eerlike of die wettige ding te doen in die bestuur van die fonds nie.”

Solidariteit het die departement formeel versoek om sonder verwyl alle dokumentasie en inligting rakende die herontwerpte Transformasiefonds aan die vakbond te verskaf, en om nie met implementering van die fonds voort te gaan nie totdat hierdie inligting beskikbaar gestel is nie.

Van der Bijl sê belastingbetalers het ’n reg om te weet hoe hulle geld aangewend word.

“Solidariteit sal nie toekyk hoe miljarde rande se openbare fondse sonder deursigtigheid, behoorlike toesig en wetlike nakoming bestee word nie – veral nie deur ʼn regering met ʼn swak reputasie met wanbestuur en korrupsie nie.”

Sien Solidariteit se aanmaning hier aangeheg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel