
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
23 000 openbare skole gaan boet vir die staat se mislukking
Deur Maryna Eksteen
Die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) het in 1996 in werking getree met die doel om skole wat aan die staat behoort, aan die gemeenskap oor te dra. Die oorspronklike doel van ʼn beheerliggaam was om ouers in ʼn vertrouensposisie teenoor die skool te plaas. Die Wysingingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die Bela-wetsontwerp) wat beoog om onder andere ook die SASA te wysig, het in 2017 vir die eerste keer die hoofopskrifte gehaal en Solidariteit het vanuit die staanspoor die kwaadwillige voorgestelde wysigingswetsontwerp teengestaan. Klik hier om meer te lees oor Solidariteit se insette en sy betrokkenheid by die omstrede Bela-wetsontwerp.
Skole is gedesentraliseer en staatskole het openbare skole geword. Die effek hiervan was dat skole aan die gemeenskap (die ouers van die leerders in ʼn skool) oorgegee is om die skool saam met die skoolhoof en die Departement van Onderwys te bestuur.
Geen skool kan voldoende funksioneer sonder ʼn beheerliggaam nie aangesien dit instaan vir die operasionele take wat verrig moet word. Dié take sluit in die skool se beleide en die finansiële bestuur van die skool. Die hoof en personeel voer die operasionele take uit soos deur die beheerliggaam besluit. Akademiese leiding berus by beide die skoolhoof en die skoolbestuur.
Die staat se rol is om in ʼn ondersteunende hoedanigheid op te tree. Dit is hier waar die staat veronderstel is om in te tree om te verseker dat daar infrastruktuur beskikbaar is en dat dit onderhou word. Die staat se taak is om voorsiening te maak vir hulpbronne soos water, leermateriaal en genoeg opgeleide onderwysers.
Die harde werklikheid is egter dat die staat nie sy eie mandaat kan onderhou nie. Daar word nie nuwe skole gebou nie, daar is ʼn tekort aan handboeke en die opleiding van onderwysers het ʼn bysaak geword. Skole stort in duie weens die tekort aan funksionerende beheerliggame, en skole sluit omdat ouers nie langer kan toekyk hoe hul kinders se onderrig in die skole agteruitgaan nie. Uit die aard van die saak gebruik die regering die voorgestelde Bela-wetsontwerp as ’n verskoning om hul mislukkings toe te smeer. Daar word op die ou einde op die 20% van skole gefokus wat wél werk, omdat die ander 80% wanfunksioneel is – deur die staat se eie toedoen – en dieselfde staat wil nou volle seggenskap oor ál die skole hê.
Angie Motshekga, Suid-Afrika se minister van basiese onderwys, is van mening dat die Grondwet van 1996 bloot ’n skikking was en dat die departement nou die septer moet swaai. Sy sê dat die onderhandelaars in 1996 ingestem het dat mense hulle skole en tale kon behou bloot om ʼn skikking te kon bereik, maar dat hulle nou verby daardie fase is. Sy het bygevoeg dat hulle nou in lyn met ontwikkelings moet kom.
Motshekga noem verder dat daar situasies was waar swart kinders nie eens na ʼn skool net buite hulle eie hek kon gaan nie as gevolg van die magte wat aan die beheerliggaam gegee is. En sy kon niks daaraan doen nie. Indien sy as minister aan die beheerliggaan sou sê: “Aanvaar hierdie kind,” sou die beheerliggaam haar voor die hof daag en sê dat sy die wet oortree.
Johnell Prinsloo, beleidsontleder en navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê die volgende oor Motshekga se stellings: “Die feit dat derduisende swart kinders nie toegang tot (gehalte-) onderrig het nie, kan nie voor die deur van die Afrikaanse gemeenskap of wit mense gelê word nie. Ek verduidelik graag: Uitsluiting op grond van ras is iets wat lank reeds nie meer ʼn realiteit in Afrikaanse skole of in die Afrikaanse taal is nie. Die taalbeleid van die skool word deur die beheerliggaam bepaal, soos minister Motsheka tereg uitwys, maar word nie gebruik as apartheidswapen om swart kinders ongeletterd te hou nie. Die beheerliggaam bestaan uit die ouers van die kinders wat in ʼn bepaalde stadium hul onderrig by ʼn bepaalde skool ontvang. Soos wat die Suid-Afrikaanse Skolewet dit duidelik stel, is dit dan ook die ouers van daardie kinders wat die grootste belang by die opvoeding van hul kinders het en wat dan bepaal watter taal van onderrig in die beste belang van hulle kinders se opvoeding is.”
ʼn Beheerliggaam het dus die volste reg om te besluit dat hulle skool uitsluitlik in Afrikaans onderrig sal gee. Die Grondwet beskerm ouers se regte om hulle kinders by die skool van hul keuse in te skryf, en dus kan enige ouer van enige taal kies om sy kind in Afrikaans te laat skoolgaan. ’n Ouer kan egter nie daarop aandring dat ’n Afrikaanse skool sy kind in ’n ander taal moet akkommodeer nie. En dit is juis hiér waar die Departement van Basiese Onderwys sy mandaat ingevolge die Skolewet moet nakom.
Dit is die staat se werk om skole te bou. Die staat ontvang jaarliks die jongste geboortesyfers en is veronderstel om toegang tot navorsingdienste te hê wat kan bepaal waar nuwe skole gebou moet word en hoeveel leerders daardie skole moet kan akkommodeer. Dit is natuurlik in elke taalgemeenskap se belang om self verantwoordelikheid vir sy skole en taalontwikkeling te neem, maar dit is ook die verantwoordelikheid van die staat om daardie ruimte te beskerm en tot outonomie te stimuleer indien nodig.
Wat die staat en sy onderskeie departemente egter doen, is om handjies gevou te staan en wag vir die een krisis na die ander om op te duik, en dan die “rassistiese” Afrikaner vir hulle eie gebrek aan voldoende optrede te blameer.
Die rede waarom daardie swart kind nie ’n plek in ʼn skool het nie, is nie omdat die skool oorkant sy huis Afrikaans is nie; dit is omdat daar nie binne sy woonbuurt nog ’n skool of drie gebou is wat toegang tot opvoeding vir leerders met ander moedertale bied nie. Daardie kind is nie ’n slagoffer van rassisme nie, maar eerder ’n slagoffer van die ANC.
Volgens Panyaza Lesufi, premier van Gauteng en voormalige LUR van onderwys, is die regering ʼn sterk voorstander van ʼn werklik nierassige Suid-Afrika. Hy sê dat ons Grondwet bepaal dat almal regverdig behandel moet word en toegang tot onderwys moet hê, waarheen hulle ook al wil gaan. Alhoewel Lesufi van mening is dat die departement ’n “sterk voorstander van ʼn werklik nierassige Suid-Afrika” is, wil dit voorkom of hy nog steeds vasklou aan Afrikaans as die onderdrukker se taal.
“Ek is daarteen gekant is dat Afrikaans as ʼn voorwendsel gebruik word om diskriminasie en apartheid toe te pas. Ek is daarteen gekant dat Afrikaans ʼn bevoorregte taal is wat ander mense moet beskerm en wat nie toelaat dat ons kinders met mekaar speel nie. Dit is waarteen ek gekant is,” aldus Lesufi.
Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), word die taalkwessie soms gesien as ʼn voorwendsel vir rassisme. Dr. Eloff meen egter dat Afrikaans deur meer bruin gemeenskappe gepraat word as deur wit mense. “Dit is ’n afgesaagde argument wat nie steek hou nie.”
Die departement moet sy haat tenoor Afrikaans laat vaar en daarop begin fokus om skole te bou en te onderhou eerder as om Afrikaans aan te val. Volgens Seymour Bothman, ’n onderwyskenner verbonde aan Unisa, probeer die regering om dinge van die verlede “reg te stel” deur die Bela-wysigingswetsontwerp.
Die departement wil ouers se skoolgeld hê, en dit die somtotaal daarvan. Ouers sal verder nie ’n sê hê oor wat in die skool gebeur nie. Dit is makliker om van Afrikaans en beheerliggame ontslae te raak as om nuwe skole te bou of om skole wat uitmekaar val, te onderhou.
“Die Bela-wetsontwerp is uiteindelik blote magsvergryp. Dit sal die magte van skoolbeheerliggame en ouers se reg om besluite oor hul kinders se onderrig te neem, wegkalwe. Dit sal ʼn provinsie se magte oor onderwys wegkalwe. Dit sal ook beduidende finansiële implikasies hê.” – David Maynier, LUR vir Onderwys in die Wes-Kaap.
Volgens Jaco Deacon, hoof- uitvoerende beampte van Fedsas, gaan die Bela-wetsontwerp nie die regering se mislukkings regstel nie. “Die Bela-wetgewing gaan nie sorg dat die kinders in Limpopo handboeke het nie. Die Bela-wetgewing gaan nie sorg dat die kinders in die Oos-Kaap nie puttoilette moet gebruik nie. Bela gaan nie verseker dat die kinders in KwaZulu-Natal ’n onderwyser in elke klaskamer het nie. Bela gaan geensins daardie strukturele probleme aanspreek nie.”
Die Bela-wetgewing gaan sowat 23 000 openbare skole raak, wat beteken beheerliggame, onderwysers, leerders en ouers gaan daardeur geaffekteer word. Die Bela-wetsontwerp is in Oktober 2023 deur die Nasionale Vergadering aanvaar, ondanks duisende klagtes daaroor. Die volgende stap om die wysigingswetsontwerp in werking te stel, is president Cyril Ramaphosa se handtekening. Solidariteit gaan egter nie terugsit of tou opgooi nie. Hierdie wetgewing is ongrondwetlik en Solidariteit sal beslis sy regstekkies aantrek om dit in die hof te beveg.
Beskerm jouself en jou skool teen Bela! Klik hier en staan saam Solidariteit op vir geregtigheid.