Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
30 redes vir die belang van ’n rasvry SA in 2030
Ondanks die verbod op onbillike diskriminasie op grond van ras soos gestipuleer in die 1996 Grondwet, bly Suid-Afrika vasgevang in ’n web van rasgebaseerde wette en beleide. Hier volg 30 redes waarom hierdie rassewette, insluitend breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) – beter bekend as BEE – raskwotas in indiensneming en verwante maatreëls dringend afgeskaf moet word ten einde ’n werklik welvarende toekoms vir álle Suid-Afrikaners te bou.
1. Internasionale konvensies verbied dit
Die Internasionale Konvensie vir die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD), wat deur 156 lande (vier vyfdes van die VN-lidlande) bekragtig is – insluitend Suid-Afrika – is een van die eerste kern-menseregteverdragte van die Verenigde Nasies. Dit verplig state om alle vorme van rassediskriminasie uit te skakel. Spesiale maatreëls (soos regstellende aksie) word slegs toegelaat as tydelike ingrepe om werklike ongelykheid aan te spreek, en mag nie lei tot die instandhouding van aparte regte vir verskillende rasse nie. Rasseklassifikasie om geleenthede te bepaal, word internasionaal as ’n menseregtevergryp beskou.
2. Swak maatstaf vir gelykheid
Om sekere rasgroepe te bevoordeel wanneer dit by aanstellings, bevorderings, tenders en kontrakte kom, stel nie arm mense gelyk aan ryk mense nie. Nie alle swart mense is arm nie, en nie alle wit mense is ryk nie. Die herverdeling van hulpbronne van een ras na ’n ander, verklein nie die algehele gaping tussen ryk en arm nie. Welvaart moet geskep word, nie bloot verdeel word nie. Die doel moet wees om nuwe welvaart te genereer wat armes kan ophef. Na meer as 25 jaar van rassewette bly Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt een van die hoogste ter wêreld (ongeveer 0,63–0,67), wat min vordering toon in die vermindering van ongelykheid. Ware gelykheid beteken gelyke toegang tot geleenthede, nie die beperking van uitsette nie.
3. Maak mense ʼn slaansak wat positief wil bydra
Wanneer mense ervaar dat hulle pogings, opofferings en bydraes minder geag word as hulle ras, ontstaan daar maklik ’n gevoel dat hulle nie werklik deel is van die samelewing se toekoms nie. Mense wat werk skep, belasting betaal, gemeenskappe dien, studeer of hulle vaardighede ontwikkel, kan begin voel dat hulle eerder gesien word as ’n probleem en nie ’n bate nie.
Die gevolg is dikwels nie opstand nie, maar onttrekking: mense neem minder risiko, raak minder bereid om ekstra moeite te doen, verhuis elders of hou eenvoudig op om hulle alles te gee. ’n Samelewing verloor wanneer mense wat positief wil bydra, ontmoedig word om dit te doen. ’n Gesonde bestel behoort deelname, verantwoordelikheid en bydrae aan te moedig — ongeag iemand se agtergrond.
4. Skuldpolitiek kweek verwyt oor generasies
Onreg kan nooit reggestel word deur nog onreg nie. Nuwe generasies kan boonop nie verantwoordelik gehou word vir alles wat die vorige generasie doen nie. Dit sal ’n aanhoudende siklus van misdadigers en slagoffers skep. Jongmense wat na 1994 gebore is moet eerste vrygestel word van enige rassewette.
Elke persoon moet na ’n redelike tyd self verantwoordelikheid neem vir hulle situasie. So ook gemeenskappe vir hulle eie instellings, hulle eie armoede en hulle eie opleiding. Elke nuwe generasie het nie ’n outomatiese reg om vergelding te eis van vorige generasies nie.
5. Skep afguns om by te dra tot belasting
Daar word teen ʼn klein groepie hoë belastingbetalers gediskrimineer terwyl dienslewering swak bly. Dit moedig belastingontduiking aan.
Suid-Afrika se verhouding tussen belasting en BBP is die tweede hoogste ter wêreld, naas Swede. Sowat 5,8% van alle belastingbetalers betaal 92% van die land se persoonlike inkomstebelasting. Dit wat belastingbetalers ontvang en dit wat hulle kry, is ver van mekaar verwyder. Dit is nie ’n volhoubare situasie nie. Die regering is afhanklik van die einste belastingbetalers op wie hy beperkings wil stel deur raskwotas in terme van toegang tot die werkplek, opleidingsinstellings en geleenthede.
6. Gee valse hoop aan armes
Rassewetgewing is nog altyd ’n populistiese tema. In die sosialistiese konteks van die ANC is rasgevegte hulle struggle-DNA. Dit word gebruik om aan armes die hoop te gee dat die enigste manier waarop hulle uit hulle omstandighede kan verrys, deur middel van ’n staat is wat vir hulle ’n plek in die werkplek reserveer. Die staat maak armes van hom afhanklik met ʼn welsynstelsel wat nooit die siklus van armoede gaan verbreek nie.
Regstellende aksie en SEB skep vals hoop vir armes. Dit bevoordeel meestal die elite en gee geen gereedskap vir armes om hulle eie weg oop te kap nie.
7. Welvaart word nie geskep as dit verdeel word nie
Die regering benader die probleem wat armoede stel deur die ekonomie as ’n koek te sien wat verdeel moet word. Hulle stel wetgewing in wat verseker dat ’n groter deel van die koek aan swart mense toegedeel word. Die probleem is dat minder as 5% van die bevolking se hulpbronne nooit genoeg sal wees om die ander 95% welvarend te maak nie. Die koek moet vergroot word, nie verdeel word nie.
Welvaart word nie geskep deur dit te verdeel nie, maar deur dit te groei.
8. Nakomingskoste het ernstige ekonomiese gevolge
Die geskatte jaarlikse verlies in BBP-groei as gevolg van SEB-kostes is tussen 1,5% en 3%. Dié wette laat Suid-Afrika stadiger groei. Boonop is SEB-nakomingskostes sowat R290 miljard per jaar wat 4% van die BBP is. Sedert 2007 het Suid-Afrika 69% potensiële ekonomiese groei ingeboet weens rassewette.
9. Klas is ʼn groter werklikheid as ras
Om armes werklik te help, moet ’n inkomsteklas bemagtig word sodat hulle die siklus van armoede kan verbreek. Rassewette laat egter toe dat die seun van ’n miljoenêr soos Tokio Sexwale beurse, poste en sportgeleenthede ontvang bo ’n wit kind in ’n kinderhuis. Mense moet gehelp word op grond van hul sosio-ekonomiese klas, nie hul ras nie.
10. Moreel onregverdigbaar om armes te benadeel
Dit is moreel skandelik dat ’n wet doelbewus sekere armes verder benadeel bloot op grond van hul ras. Regstellende aksie elders in die wêreld is byna altyd tydelik. In Suid-Afrika het dit egter ’n permanente kenmerk geword wat ’n morele verval aandui. Daar rus ’n morele plig op die regering, ondernemings en burgers om nie armes te benadeel op grond van hul velkleur nie.
11. Menswaardigheid vereis beoordeling op vermoë
Wette wat regte en geleenthede op grond van ras toeken, tas die menswaardigheid van benadeelde groepe aan. Dit skep ’n gevoel van tweedeklas-burgerskap, verlaag selfbeeld en sê indirek vir mense hulle is nie welkom nie. Mense wil verdien, bou en bydra – nie net ontvang nie.
12. Skaars vaardighede word ontmoedig om te bly
Wanneer mense deur rassewette na die kantlyn gedwing word, verlaat hulle die ekonomie. Hulle soek elders geleenthede waar hul menswaardigheid nie aangetas word nie en waar hulle vir hul gesin ’n toekoms kan bou. Dit lei tot die emigrasie van vaardighede en ’n verlies aan belastinginkomste.
13. Meriete bevoordeel almal
Die aanstelling van die beste verpleegster, dokter, munisipale bestuurder of polisieleier op grond van meriete, bevoordeel die hele samelewing. Swak aanstellings weens rasdoelwitte lei tot swak dienslewering en hoër koste waaronder almal op die ou einde ly – veral arm persone.
14. Rassewette is sleg vir selfbeeld
Nie net die benadeelde groep se menswaardigheid word aangetas nie, maar ook dié van die bevoordeelde persoon wat iets sonder verdienste ontvang. Dit kweek ’n minderwaardigheidskompleks. Elke mens verdien erkenning op grond van hul bydraes, nie hul ras nie.
15. Entrepreneuriese kultuur verdwyn
Rassewette blus entrepreneuriese dryfkrag by beide groepe. Vir bevoordeeldes is dit makliker om ’n BEE-vennoot te word as om self ’n onderneming te bou. Vir ander skep BEE-vereistes ’n hindernis. Suid-Afrika se hoë mislukkingsyfer vir nuwe besighede (sowat 80% binne 3 tot 5 jaar) word vererger deur oormatige regulasie en nakomingskoste, wat innovasie en werkskepping beperk.
Besighede kort minder reëls en minder voldoeningswetgewing om te floreer. ’n Ekonomie floreer wanneer ’n omgewing geskep word wat dit maklik maak vir entrepreneurs om werk te skep. Wanneer besighede te veel energie aan nakoming bestee, is daar minder kapasiteit vir uitbreiding, innovasie en werkskepping.
16. Verhoudings op grondvlak verswak
Populistiese retoriek wat die verlede se griewe uitbuit, staan in kontras met daaglikse goeie verhoudings tussen Suid-Afrikaners. Liedere soos “Kill the Boer” en rassistiese uitsprake skep kunsmatige verdeeldheid en ondermyn samehorigheid tussen gemeenskappe.
17. Rassewette forseer rasseklassifikasie en monitering
Hoe meer rasgebaseerde wette, hoe meer vorms, sleutelprestasie-areas (KPI’s) en monitering is nodig. Ras word op CV’s, lenings, beurse en kontrakte afgedwing. Dit kweek ’n obsessie met ras eerder as individuele meriete.
18. Beperk buitelandse belegging
Suid-Afrika se internasionale ekonomiese posisie het agteruitgegaan sedert wette soos regstellende aksie en SEB geïmplementeer is. Behalwe dat Suid-Afrika minder aanloklik gemaak word vir investering, word internasionale maatskappye wat hier sake wil doen, geforseer om aandeelhouding af te staan. Boonop is arbeidswetgewing wat rasteikens vir groot ondernemings voorskryf, ’n bykomende nakomingshekkie waaroor internasionale maatskappye moet spring. Maatskappye word ook gedreig met boetes van tot 10% van hulle omset indien voldoening nie plaasvind nie. Om sakeondernemings te dreig met boetes indien die rassesamestelling van ’n maatskappy nie na smaak vir die regering is nie, is politieke afpersing.
Beleggers soek voorspelbaarheid. Wanneer eienaarskap, indiensneming en sakebesluite sterk gereguleer word op veranderende politieke maatstawwe, verhoog dit onsekerheid. Minder investering beteken uiteindelik minder fabrieke, minder uitbreiding en minder werk.
19. Klem op ras versag die klem op opleiding
Die oplossing vir armoede is om mense op te lei in areas waar daar ’n vaardigheidstekort is. ’n Ekonomiese probleem het ekonomiese oplossings nodig. Armoede vereis ekonomiese oplossings: gehalte-onderwys en vaardigheidsontwikkeling. Rasdoelwitte ignoreer dit en fokus op demografiese refleksie eerder as meriete en groei.
20. Groot maatskappye kies om kleiner te wees
Hoe duurder dit is om aan arbeidswetgewing te voldoen, hoe minder mense word aangestel. Hoë nakomingskoste lei daartoe dat maatskappye onder die drempel bly (bv. minder as 50 werknemers) om regulasies te vermy. Daar word bereken dat rassewetgewing tot dusver gelei het tot die verlies van sowat 3,8 miljoen werksgeleenthede.
21. Klem op velkleur verbrokkel kultuur-identiteit
Ware diversiteit vereis dat gemeenskappe eers in hul eie kulturele identiteit veilig voel. Raspolitiek vereenvoudig komplekse identiteite (Zoeloe, Xhosa, ens.) tot ’n swart-wit-digotomie en ondermyn ryk kulturele diversiteit.
Die Black Consciousness Movement wat in die laat sestigs begin is, se doel was juis om mense onder velkleur te verenig om te verhoed dat kultuurgroepe in hulle eie gemeenskappe organiseer en te verseker dat wit mense nie saam teen swart-onderdrukking baklei nie. Politieke retoriek en uitsprake oor ras is ’n “struggle”-strategie om probleme in Suid-Afrika te vereenvoudig as bloot ’n probleem tussen wit en swart. Elke gemeenskap het sy eie prioriteite, sy eie hartsake en sy eie behoeftes. Suid-Afrika is ’n gemeenskap van gemeenskappe, nie ’n land van swart en wit nie.
22. Dit skep ʼn apatiese gemeenskap
Wanneer ’n gemeenskap voel hulle word ’n slaansak vir die regering, tree hulle weg van hulle verantwoordelikhede. As ’n werkplek nie iemand bevorder wat die bevordering verdien nie, onttrek die persoon en gaan sy waarde verlore. As ’n kind nie ’n beurs ontvang nie selfs al was hulle die beste kandidaat, verloor hulle iets van hulself. As ’n onderwyser, ’n doktor of prokureur in die publiek verneder word as hulle wil opstaan teen rassewette, swyg hulle eerder en doen net die minimum.
As jy iemand onderdruk, vat jy meer weg as net hulle stem.
23. Weerloses ly honger
Rassewette word nie net gebruik om diskriminasie in die werkplek te bewerkstellig nie, maar beïnvloed selfs die befondsing vir kinderhuise. Bepalings in SEB-wetgewing ontmoedig ook privaat maatskappye om aan kinderhuise wat “te wit” is, geld te skenk. Die wet vereis dat driekwart van kinders in ’n kinderhuis swart moet wees voordat korporatiewe donateurs SEB-punte kan verdien.
24. Die standaard verlaag
’n Onafwendbare gevolg van beleide wat nie op meriete geskoei is nie, is dat die breër standaard afneem. Toegangsvereistes vir studierigtings is hoër vir sekere kategorieë as ander, en vereistes om te voldoen aan ’n pos word stelselmatig aangepas sodat daar aan rasteikens voldoen kan word. Tenders en kontrakte wat uitgereik word sien dikwels hoë gehalte kontrakteurs oor en verlaag hulle eie standaarde sodat die rasboek kan klop. Totale industrieë se standaarde word mettertyd aangepas omdat die doelpale vir sukses geskuif word.
25. Vergemaklik korrupsie
Rassewetgewing skep nat grond waarin die saad van korrupsie kan ontkiem. Korrupsie word ’n kultuur, ’n manier van doen. Dit is wanneer die maatstaf verander na “wie” eerder as “hoe goed”. As die doelwit is dat swart kontrakteurs bevoordeel moet word in tenderprosesse, dan is pryse, gehalte en ervaring nie faktore wat primêr oorweeg word nie. Korrupsie is nie net om oordadige kontrakte aan die verkeerde mense toe te ken nie, maar ook belastingbetalers wat die voordeel van effektiewe dienslewering verloor.
26. Rassewette verswak aanspreeklikheid
Wanneer swak uitkomste voortdurend deur die lens van ras verklaar word, word daar minder druk geplaas op die staat om die werklike oorsake van mislukking aan te spreek soos korrupsie, swak bestuur, onvoldoende onderwys, misdaad en die verval van infrastruktuur. ’n Regering moet beoordeel word op dienslewering en resultate, nie op demografiese statistiek nie.
27. Ras verskuif die fokus weg van staatsmislukking
Baie van Suid-Afrika se grootste probleme word nie deur ras veroorsaak nie, maar deur swak regering, korrupsie, misdaad, die verval van infrastruktuur en gebrekkige onderwys. Rassewetgewing het ʼn politieke afleiding geword wat die aandag wegneem van die hervormings wat werklik nodig is om armoede te verminder.
28. Dit ondermyn die ideaal van ’n nie-rassige samelewing
Die Suid-Afrikaanse Grondwet streef na ’n nie-rassige samelewing. Hoe meer wette, vorms, teikens en beleid op ras gebaseer word, hoe moeiliker word dit om daardie ideaal te bereik. ’n Samelewing beweeg nie weg van rassebewustheid deur ras voortdurend te beklemtoon nie; dit beweeg weg daarvan deur mense toenemend as individue en burgers te behandel.
29. Regstellende aksie verloor legitimiteit
Die Verenigde Nasies en Namibië het in 2023 aangekondig dat hulle regstellende aksie amptelik uitfaseer en dat dit dan verbied sal word. ’n Stelsel wat sogenaamde “positiewe diskriminasie” wil toepas, word al hoe meer deur die wêreld gesien as ’n meganisme wat nie die uitkomste bereik waarvoor dit bedoel word nie.
30. Dit skep ’n permanente slagoffermentaliteit en ondermyn persoonlike verantwoordelikheid
Rasgebaseerde wette versterk die narratief dat sekere groepe vir ewig afhanklik is van staatshulp en spesiale behandeling, eerder as om selfstandig te presteer. Dit kweek ’n slagoffermentaliteit wat mense se eie potensiaal en verantwoordelikheid ondermyn. Suksesvolle nasies regoor die wêreld (soos Singapoer, Suid-Korea en selfs post-1994 Botswana in sekere opsigte) het juis gefloreer deur ’n kultuur van meriete, harde werk en persoonlike aanspreeklikheid te bevorder, nie deur ras of historiese griewe permanent as verskoning te gebruik nie.
In Suid-Afrika lei hierdie benadering daartoe dat baie jongmense glo hulle kan nie sonder kwotas of voorkeurbehandeling slaag nie, selfs al is daar duidelike bewyse dat individue uit alle agtergronde sukses behaal wanneer hulle op hul vaardighede en deursettingsvermoë staatmaak. Ware bemagtiging kom nie van reserverings nie, maar van ’n stelsel wat mense aanmoedig om hul eie toekoms in eie hande te neem. Sonder die afskaffing van rassewette sal Suid-Afrika sukkel om ’n kultuur van selfvertroue, innovasie en kollektiewe verantwoordelikheid te bou wat nodig is vir langtermyn welvaart.
Slot
Rasgebaseerde wette het nie armoede en ongelykheid opgelos nie. Inteendeel, dit het dit dikwels vererger. Ware bevryding lê in ’n meriete gebaseerde stelsel wat geleenthede vir almal skep, welvaart laat groei en individuele menswaardigheid respekteer. Dit is tyd vir ’n nuwe pad vorentoe.
Stap die pad saam met Solidariteit na ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030. Klik hier.