Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Die middelklas se stil krisis
Deur Reon Janse van Rensburg
Daar is ʼn vreemde soort druk wat tans op baie Suid-Afrikaanse huishoudings lê. Van buite lyk alles heel normaal – mense gaan werk toe, kinders gaan skool toe en salarisse kom steeds maandeinde in. Onder die oppervlak voel al hoe meer werkende Suid-Afrikaners egter asof hulle net probeer oorleef.
Die waarheid is dat die meeste huishoudings onder geweldige druk verkeer, en talle mense skuld maak net om te oorleef – nie eers vir luukshede nie, maar vir daaglikse benodighede.
Die middelklas se grootste vrees was nog altyd armoede of werkloosheid. Vandag lyk die werklikheid egter anders. Selfs mense met kwalifikasies, vaste werk en lewensomstandighede wat voorheen as “gemaklik” beskou sou word, begin al hoe meer finansiële druk ervaar.
Brandstofpryse bly styg. Elektrisiteitsverhogings plaas verdere druk op huishoudelike begrotings. Kos raak duurder. Rentekoerse en skuldlas byt harder en intussen voel baie Suid-Afrikaners asof hul salarisse eenvoudig nie meer dieselfde koopkrag het as ʼn paar jaar gelede nie.
Die gevolg is dat baie mense van maand tot maand leef – selfs al verdien hulle tegnies “goeie” salarisse.
Vir baie middelklasgesinne gaan die druk oor meer as net geld. Dit gaan oor die verlies aan sekerheid – die gevoel dat een groot krisis, mediese noodgeval of werkverlies ʼn hele huishouding finansieel kan destabiliseer.
Daarom bly die middelklas dikwels stil. Mense praat nie maklik daaroor nie. Veral nie die mense wat nog werk het, professioneel lyk en voel hulle behoort dankbaar te wees nie. Baie mense is eenvoudig te trots om te erken hoe swaar hulle werklik kry.
Uit gesprekke met lede hoor Solidariteit toenemend dieselfde stories – mense wat emosioneel uitgeput raak weens konstante finansiële druk; mense wat voel hulle dra alles alleen; en mense wat bang is om hul werk te verloor, maar nie weet waarheen om te draai nie.
Dit is juis waarom Solidariteit fokus op werkbeskerming, vaardigheidsontwikkeling en ekonomiese sekerheid vir sy lede. Solidariteit is lankal nie meer net ʼn vakbond nie, maar ʼn veiligheidsnet, beroepsgemeenskap en ondersteuningstruktuur in ʼn ekonomie wat al moeiliker raak om in te oorleef.
Vir baie lede gaan dit nie meer net oor een arbeidskwessie nie, maar oor die groter behoefte om deel te wees van ʼn gemeenskap wat verstaan onder watter druk werkende Suid-Afrikaners tans leef.
Solidariteit se boodskap begin dus by baie mense aanklank vind: Jy hoef nie al die druk alleen te dra nie. Baie Suid-Afrikaners verdien steeds ʼn salaris, maar hulle verloor stadig maar seker hul gevoel van sekerheid. Dalk is dit die grootste waarskuwingsteken van alles – wanneer selfs diegene wat nog werk het begin voel asof hulle net een krisis weg van finansiële moeilikheid is, is die probleem baie groter as individuele begrotings. Dit word dan ʼn maatskaplike probleem.
Solidariteit is dus jou bondgenoot in onsekere tye. Daarom bou en veg ons vir jou en jou kinders se toekoms in Suid-Afrika, want #JyHoortHier!