Fotokrediet: Facebook | Dirk Hermann
Gekopieër
Akademia is ʼn pragtige projek
Deur dr. Dirk Hermann
Akademia is ʼn pragtige projek.Dit is nie benoud nie. Dit weet presies wie dit is en is terselfdertyd verwelkomend. Die hele projek spreek van uitnemendheid – van die akademie tot die bouwerk. Wêreldklas, in Afrikaans.
Dit is Afrikaans en is daar vir die groot Afrikaanse gemeenskap én vir elkeen wat in Afrikaans wil studeer. Dit sluit juis studente in wat in Afrikaans wil studeer, maar op ander plekke uitgesluit word.
Dit staan te midde van die groot Westerse universiteitstradisie wat die wetenskap onbevange oopbreek binne die onbeperkte omvang van Sy skepping.
Dit vorm studente, en juis dít maak Akademia-studente gesog in die arbeidsmark. Hulle ontwikkel ʼn begrip van die geheel en van die ware, die goeie en die skone. Dit is die basis vir goeie werk.
Die analogie is Sol-Tech, wat in Afrikaans oplei en werkgewers oor die hele spektrum in rye staan om dié studente in diens te neem.
Akademia en Sol-Tech lei studente só op dat hulle ook gemaklik in ʼn Engelse wêreld kan werk.
Akademia het ʼn mooi storie.
Die begin was sowat 20 jaar gelede, toe Solidariteit-lede ingestem het om elk R10 per maand ekstra ledegeld te betaal vir ʼn Solidariteit Boufonds.
Dit was ons Dawidsklippies waarmee groot uitdagings oorwin moes word.
Eers is Sol-Tech begin en daarna Akademia. Beide Sol-Tech en Akademia is binne die grondwetlike raamwerk van Suid-Afrika gevestig.
Gewone mense wat werk, het hul bietjies gegee om iets groots te bou. Die grootste daarvan was vir hulle kinders en die gemeenskap.
Later het Solidariteit-lede nog R5 per maand vir studiehulp bygedra.
Hulle was groter as hulself, want bykans 20 jaar later word ander se kinders gehelp wat toe skaars gebore was en wie se name hulle nie eens geken het nie. Dít is die krag van gemeenskap.
Solidariteit-lede het ʼn daad verrig wat groter as hulself was. Hulle het gesê: “Ons beperk hierdie groot instellings nie net tot Solidariteit-lede nie, maar stel dit tot voordeel van die groter Afrikanergemeenskap, asook tot die groter kultuur- en Afrikaanse taalgemeenskap.”
Dit is ʼn gedeelde geskenk aan ʼn groter idee en juis daarom is dit nie om weg te gee nie. Dit is bloot onder rentmeesterskap vir die volgende generasie. Die gemeenskap is gevra om dit saam met ons te bewaar.
Die Solidariteit-lede was en is onbaatsugtig in diens van ʼn groter gemeenskap.
Solidariteit-lede was ook sentraal tot die oprigting van die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat eers die Sol-Tech-kampus gebou het en nou die Akademia-kampus bou.
Eers het Solidariteit sy eie geboue in die Kanton-portefeulje geplaas, waarborge is gegee en bates is in aandele omskep.
Dit het die bou van die Sol-Tech-kampus moontlik gemaak en die voorwaardes geskep vir die bou van die Akademia-kampus.
Maar nooit het Solidariteit-lede gesê: “Dit is net ons s’n nie.” Hulle het met dankbaarheid iets gebou vir hulle lede en dié se kinders, maar tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap en as ʼn kleinood vir die toekoms.
Akademia word nou só ʼn kleinood vir die Afrikaanse gemeenskap: ʼn geskenk deur gewone mense wat werk. Nederig begin, trots sien groei.
Vir hierdie groot Afrikaanse kleinood word daar nou deur Kanton ʼn kampus gebou. Die eerste fase beloop R1,8 miljard en die volledige projek meer as R3 miljard.
Die betrokkenheid word al groter. Eers het meer mense tot die Solidariteit Boufonds begin bydra om Akademia sterk te maak. Groot trusts het onbaatsugtig gehelp, en nou begin groter beleggers by Kanton betrokke raak om die kampus te bou.
Grond is gekoop en planne vorder goed vir ʼn kampus in die Paarl.
Solidariteit het nooit probeer om sy inisiatief benoud vir homself te hou nie.
Dit was altyd in diens van iets groters: ʼn groter gemeenskap. En dié groter gemeenskap begin nou al hoe meer betrokke raak. Dit raak ʼn sneeubal.
Daar is dié wat betrokke raak en help bou, en dan is daar kantkommentators wat kritiek lewer en wil breek.
Op die kantlyn skree hulle op Akademia en het hulle die vermetelheid om te wil voorskryf hoe dit moet lyk en wees.
Hulle het nie eens ʼn enkele R10 bygedra nie. Hulle was nie by die sweet en risiko van die begin betrokke nie en is selfs nou nie betrokke nie. Dit word ook nie met hulle belastinggeld gebou nie.
Solidariteit-lede het met hulle bietjies begin, dit in diens van ʼn groter gemeenskap gestel, en nou dink onbetrokke kommentators hulle kan die idee van Akademia vat en voorskryf.
Vir jare het hulle niks gedoen nie. Noudat daar iets is, raak hulle steeds nie betrokke nie, maar lewer hulle kritiek en skryf voor. Hulle is welkom om hulle eie iets te begin. Ons sal nie daarop kritiek lewer nie.
Intussen gaan ons almal voort om aan iets veel groter as onsself te bou. In diens van iets groter as onsself.
Dít is die energie van Akademia en van die hele Solidariteit Beweging.