Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
Afrikaners was nog nooit so verenig nie
Deur Connie Mulder
Die ou wysheid lui dat as drie Afrikaners ʼn dorp stig, hulle kort daarna vier kerke stig. Dit het al amper ʼn volksmite geword dat Afrikaners altyd heftig van mekaar kan verskil en daar gevolglik altyd ten minste twee kampe Afrikaners is oor enige onderwerp. Ons geskiedenis wys ook dat Afrikaners inderdaad heftig kan polariseer rondom sake van die dag.
Tog, met die verbrokkeling van die nuwe Suid-Afrika se regeringstelsel en Afrikaners se besef en verwerking van hulle status as minderheidsgroep, het hierdie ou waarheid plek gemaak vir ʼn nuwe werklikheid.
As sigbare en kwesbare minderheid is Afrikaners vandag verenig soos min vantevore in ons geskiedenis. Dit is ʼn mite dat daar vandag weer een of twee of meer gelykwaardige opponerende kampe bestaan.
Verskeie stukke navorsing onder Afrikaners toon dat daar die afgelope dekade inderwaarheid ʼn breë eenstemmigheid ontstaan het.
Navorsing
Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) onderneem gereeld ʼn verteenwoordigende profielstudie onder Afrikaners. Eenvoudig gestel is dit ʼn navorsingstuk gedoen onder Afrikaners (lede en nielede van die Solidariteit Beweging) wat probeer om Afrikaners se vrese, drome en geleefde werklikheid vas te vang.
In 2025 het die SNI ook verskeie fokusgroepe onder Afrikaners van alle ouderdomme gedoen, uitdruklik Afrikaners wat nié lid van enige instelling van die Solidariteit Beweging is nie.
Laastens is daar in Desember 2025 navorsing onderneem deur Ground Control Research (GCR) onder Afrikaners van regoor die land wat menings en sienings oor verskeie kwessies getoets het. Al drie hierdie stukke navorsing toon bepaalde neigings wat met mekaar ooreenstem.
Kultuur
Een van die belangrikste neigings is dat Afrikaners weereens met trots na hulleself verwys as Afrikaners. Afrikaner as term het vir groot dele van die nuwe Suid-Afrika agterweë gebly. Byvoorbeeld, slegs 40% van Afrikaners het in die 2019-profielstudie van die na hulleself as Afrikaners verwys. Hierdie syfer het dramaties gestyg tot ongeveer 80% van Afrikaners in die 2024-studie. Dit is selfs vóór die Amerikaanse president die term Afrikaner weer internasionaal bekend gemaak het in Februarie 2025.
Dié hernude omarming van die term Afrikaner gaan gepaard met ʼn kultuurtrots wat nuwe lewe gekry het. Afrikanerkultuur word deur respondente aan die SNI-profielstudie primêr beskryf as Christelik (90%), Afrikaans (88%), lief vir hulle gesinne (77,5%) en hardwerkend (76,7%).
Amper 9 uit 10 Afrikaners beskryf hulleself as trots op hulle kultuur en stel dat dit ʼn belangrike deel van hulle daaglikse lewe uitmaak.
Hierdie verskynsel vind ook neerslag in die GCR-navorsing wat daarop dui dat Geloftedag belangrike geag word deur 8 uit 10 Afrikaners, met 82% van Afrikaners tussen 25 en 34 wat aandui dat hulle persoonlik Geloftedag vier.
Die neiging van jonger Afrikaners wat trotser op hulle kultuur is as die ouer garde, is een wat deurentyd waargeneem word; dit dui op ʼn jonger geslag wat onbeskaamd hulleself as Afrikaners sien.
Diskriminasie en selfstandigheid
Die ander neiging wat duidelik na vore tree uit die SNI-profielstudie van 2024 is dat Afrikaners toenemend vervreem, onderdruk en soos tweedeklasburgers voel. Ten spyte daarvan is Afrikaners nog onwrikbaar deel van Suid-Afrika en baie lief vir hulle land – hulle hou net werklik niks van die ANC-regering nie.
Terselfdertyd voel die meerderheid Afrikaners dat daar tans teen hulle gediskrimineer word. Amper 4 uit 5 Afrikaners vanuit die GCR se studie dui aan hulle glo wit Suid-Afrikaners word deesdae meer benadeel as ander bevolkingsgroepe.
Dit eggo resultate van ʼn SNI-studie in 2021 oor rasseklassifikasie waar meer as 95% van respondente aangedui het dat hulle glo sekere rassegroepe het meer regte as ander in Suid-Afrika.
Harde raswerklikhede word daagliks deur Afrikaners in Suid-Afrika beleef. Die beste kandidate word afgekeur, kinders word plekke in spanne ontsê en ondernemings verloor kontrakte bloot weens hulle velkleur.
Fokusgroepdeelnemers in 2025 eggo die sentiment met geweldige kommer wat uitgespreek word oor “gaan daar vir my kinders werk wees weens hulle velkleur?”
Uiteindelik het die regering se aandrang om hulp tydens die Covid-19-pandemie op grond van ras uit te deel ʼn finale besef in Afrikaners wakker gemaak. Eenvoudig gestel het die meerderheid Afrikaners besef ons is op ons eie en gaan na onsself moet omsien, want niemand anders gaan dit doen nie.
’n Mens sien hierdie drang na groter onafhanklikheid en selfstandigheid vir Afrikaners uit al drie studies se resultate.
Volgens respondente van die 2024-SNI-profielstudie is die drie belangrikste dinge wat gedoen moet word om die Afrikanerkultuur se toekoms te verseker om, eerstens Afrikanerondernemings ekonomies te ondersteun (86,4%), tweedens Afrikaners in diens te neem (86%) en derdens gesinswaardes te versterk (86%).
Buiten ekonomiese selfstandigheid is die daaropvolgende drie dinge wat gedoen moet word, om Afrikaners se toekoms te verseker:
- die bevordering van Afrikaanse onderwys en vaardigheidsontwikkeling (85%);
- aansporing van deelname aan gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe (84%); en
- aanmoediging van aktiewe betrokkenheid by organisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand (82%).
Hierdie behoefte aan groter selfstandigheid word geëggo in GCR se studie, waar ongeveer 77% van respondente aangedui het Afrikaners behoort te mik vir groter selfbeskikking.
Opleiding
Opvoeding en opleiding lê nog altyd besonder na aan Afrikanerharte, van die Trap der Jeugd op Voortrekkerwaens tot hedendaagse ouerbetrokkenheid by skoolaktiwiteite. Inteendeel, naas kerke is skole die instelling waar Afrikaners die meeste betrokke is in hulle gemeenskap.
Afrikaners is passievol oor Afrikaanse onderrig met 3 uit 4 in die 2024-SNI-profielstudie wat glo kinders moet onderrig in Afrikaans ontvang en 7 uit 10 wat stel dat Afrikanerkinders na ʼn Afrikaanse universiteit toe moet kan gaan. Afrikaners vereenselwig Afrikaanse onderrig met die oordrag van morele waardes (85%), dissipline (85%) en Christelike beginsels (83%).
Terselfdertyd voel 4 uit 5 Afrikaners dat Afrikaans onderdruk word. Die werklikheid van oorvol Afrikaanse skole wat onder toenemende druk kom deur die departement tref iets diep in die psige van Afrikaners. Hierdie bekommernis oor kinders se vermoë om wêreldklas opleiding in Afrikaans te ontvang, kom ook uit in 2025 se fokusgroepe. Sentimente soos “Afrikanerorganisasies moet skole en die jongmense ondersteun” en “ek is bekommerd oor kinders se toekoms, opleiding en onderwys” is volop.
In die lig hiervan maak die geweldige ontsteltenis van Afrikaners met die Bela-wetgewing, asook hulle ongelooflike positiwiteit en geesdrif teenoor Sol-Tech en Akademia, sin. Opleiding lê naby aan Afrikanerharte.
Toekomsverwagting
Wanneer Afrikaners oor die toekoms praat, is daar twee sieninge wat na vore kom.
Die eerste is dat die huidige regering en regeringstelsel nie ʼn beter toekoms kan bewerkstellig nie. In die SNI-profielstudie dui omtrent helfte van die respondente aan dat hulle geen hoop het vir ʼn verbetering in regeringskorrupsie (49%) en misdaad (48,5%) nie.
GCR se navorsing dui ook die sentiment aan met 8 uit 10 Afrikaners wat daarin aandui dat hulle minder hoop vir Suid-Afrika vandag het as met die aanvang van demokrasie in 1994.
Afrikaners voel neerslagtig wanneer hulle oor die toekoms van Suid-Afrika vanaf ʼn regeringsperspektief praat. Daar is min tot geen vertroue of hoop dat die bestaande regeerstrukture kan herstel of ʼn beter toekoms bewerkstellig nie.
Die tweede siening wat Afrikaners terselfdertyd huldig, is dat Afrikaners ten spyte van die regering ʼn toekoms gaan uitkerf. Ongeveer 3 uit 4 glo dat Afrikaners die reg het om ʼn voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, dat Afrikaners kan saamwerk om hierdie toekoms te bewerkstellig en dat Afrikaners die vermoë het om ʼn voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, aldus die SNI-profielstudie.
Op ʼn vraag oor wat vir mense die meeste hoop gee vir die toekoms, is die opsie wat in die SNI-profielstudie kop en skouers bo alle ander uitstaan dat Afrikaners hoop Afrikanerorganisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand ʼn beter toekoms kan bewerkstellig
Hierdie gevoel rondom Solidariteit word weereens geëggo in GCR se studie: 9 uit 10 respondente het kennis van Solidariteit en AfriForum en ongeveer 4 uit 5 respondente huldig ʼn positiewe siening oor Solidariteit en AfriForum, en die werk wat hulle doen.
Uit die 2025-fokusgroepe kom dieselfde sentiment. Afrikaners voel Solidariteit en sy instellings moet dien as skans teen die regering se vergrype, namens Afrikaners intree, Afrikaanse opvoeding ondersteun, Afrikaners help om te werk en vir Afrikaners hoop skep.
Gevolgtrekking
Afrikaners het stilweg dog beslis beweeg na ʼn soort Afrikaner-konsensus oor hulle eie kultuuridentiteit asook die nodige oplossings om ʼn toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika te verseker.
Die drie stukke navorsing toon dat Afrikaners trots op hulle kultuur is, en lief is vir Suid-Afrika. Hulle ervaar geen spanning tussen die uitbou van hulle kultuurgemeenskap en om terselfdertyd ʼn burger van die land wees nie. Inteendeel, hulle voel dat die twee hand-aan-hand loop en onlosmaaklik deel van mekaar is.
Afrikaners voel uitgestoot, vervreem en onderdruk in Suid-Afrika. Die ANC-regering word as vyandig ervaar met sy blinde ras-ideologie en verdelende rasseretoriek.
Afrikaners se antwoord op hierdie vyandigheid is selfstandigheid en onafhanklikheid, terwyl daar, waar moontlik, met ander groepe saamgewerk word. Afrikaners glo dat ons as gemeenskap die reg, verantwoordelikheid en vermoë het om ons eie toekoms te verseker, want niks of niemand anders gaan nie.
Afrikaners, ongeag of hulle lede van die Solidariteit Beweging is of nie, skep moed uit die werk van die Beweging. Afrikaners is positief oor en dankbaar vir die werk wat dié instellings doen.
Ná die heftige verdeling van die Afrikanerdom in die 1980’s het drie dekades van die ANC se nuwe Suid-Afrika ons saamgesnoer tot op die huidige punt waar Afrikaners meer verenig is as ooit tevore.
Alhoewel daar nog verskille is oor kleiner detail, stem die oorweldigende meerderheid van Afrikaners saam oor meeste van die groot kwessies en wat hul oplossings behoort te wees.
Ons is onbeskaamd Afrikaners en hier om te bly.
Ons word sleg deur die ANC-regering hanteer, maar ons sal ten spyte daarvan slaag.
Ons kom goed oor die weg met ons medelandsburgers en gun elkeen ʼn plekkie onder die son.
Ons gaan met genade van Bo en deur Afrikanerinstellings sélf vir ons ʼn toekoms bou.
Connie Mulder is hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.