Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Akademia: ʼn plekkie in Pretoria én die Paarl se son
Deur Ané Janse van Rensburg
Daar is destyds, aan die begin van my studentejare, vir my gesê: “Dis die beste tyd van jou lewe wat jy nooit weer wil oorhê nie.”
Om universiteit toe te kan gaan, beteken iets anders vir elke persoon. Vir sommige is dit ʼn eerste in hul familiegeskiedenis; sommige aanvaar dit as vanselfsprekend; ander sien dit as die naelstring wat uiteindelik afgeknip word. Daar is dié wat die verantwoordelikheid bitter ernstig opneem, en dié wat dit met ʼn knippie sout vat. Elke universiteitskampus wemel van akademikusse, sportsterre, giggel-brigades, kuierleiers, studenterade en koshuisbrakke – almal op soek na ʼn veilige plekkie in die son om aan hul toekoms te begin bou.
As ʼn jong werkende kyk ek vandag met verwondering terug na wat my studentejare aan my geleen het, hoe dit my gevorm het en hoe ek nog die veiligheid gehad het om, sonder die verantwoordelikhede van die grootmenswêreld, aan my identiteit te kon skaaf. Dit laat my wonder oor die studente wat ná ons kom. Sal hulle dieselfde geleentheid hê? Sal hulle ook die voorreg hê om hulself in hul moedertaal te ontwikkel, om op ʼn kampus te leef waar hul taal nie net geduld word nie, maar die taal van denke, debat, vriendskap en ontdekking is?
Dit is juis waarom Akademia se groei soveel meer beteken as net nóg ʼn universiteitsuitbreiding.
Wanneer Akademia nuwe kampusse ontwikkel, soos met die uitbreiding in Pretoria en die Paarl, word daar nie bloot nuwe geboue opgerig nie; daar word doelbewus ruimte geskep vir jong mense om in Afrikaans te studeer, hul roeping te ontdek en deel te word van ʼn universiteitsgemeenskap wat hulle as mense vorm.
Die instelling verstaan dat universiteit nie net in lesinglokale plaasvind nie. Dit gebeur in koshuise, op sportvelde, tydens laatnaggesprekke, in studenteverenigings en deur leierskapgeleenthede, soos studenterade en huiskomitees. Dit wys dat Akademia besig is om sy eie identiteit, tradisies en gemeenskap te vestig. Dit is die begin van ʼn studentelewe waar jong mense nie net ʼn kwalifikasie verwerf nie, maar ook leer om verantwoordelike leiers, beroepsmense en landsburgers te word.
Akademia se uitbreiding is terselfdertyd ʼn belegging in Afrikaans self. In ʼn tyd waar moedertaalonderrig by baie universiteite onder druk is, kies Akademia om doelbewus aan die toekoms van Afrikaans as akademiese taal te bou. Nie uit nostalgie nie, maar uit die oortuiging dat mense die beste leer wanneer hulle in hul moedertaal kan dink, redeneer, bevraagteken en skep.
Elke nuwe lesinglokaal, laboratorium, koshuis en studentevereniging dra by tot daardie droom. Dit verseker dat Afrikaans nie net die taal van ons verlede bly nie, maar ook die taal waarin nuwe kennis geskep, nuwe ondernemings begin en nuwe oplossings vir Suid-Afrika ontwikkel word.
Daarom gaan die klomp R10’e van Solidariteit-lede wat Akademia bou, uiteindelik nie oor die infrastruktuur nie, maar oor die geleenthede wat dit vir studente belowe. Dit gaan oor die eerstejaar wat oor ʼn paar jaar op ʼn kampus sal instap met dieselfde onsekerheid én opgewondenheid waarmee soveel van ons eens ingestap het.
Dit gaan oor die ouer wat weet sy kind kan in ʼn waardegedrewe, Afrikaanse omgewing studeer, en dit gaan oor ʼn gemeenskap wat besluit het om nie net oor die toekoms van Afrikaans te praat nie, maar om dit steen vir steen, kampus vir kampus en student vir student te bou.