loading
avatar
Artikels
1 week gelede
by-bko-word-daar-gebou-dat-die-stof-so-staan

Fotokrediet: Bo-Karoo Opleiding (Facebook)

By BKO word daar gebou dat die stof so staan

Deur Kyla-Ann du Toit

Bo-Karoo Opleiding (BKO) het vanjaar nóg ʼn belangrike tree op sy pad na groei gegee met die begin van ʼn nuwe werkswinkel- en kantoorbouprojek op die BKO Technika-perseel in Orania.

Die eerste sooi vir dié ontwikkeling is op 8 Junie 2026 gespit. Die projek beslaan uiteindelik 3 306 m² en sal oor drie fases ontwikkel word. Die eerste fase, wat na verwagting nog in hierdie jaar voltooi sal word, het ʼn begroting van ongeveer R15 miljoen.

Dié fase behels die ontwikkeling van ʼn dubbelverdiepinggebou. Op die grondvloer word ʼn elektriese- en sonkragwerkswinkel ingerig, terwyl die boonste verdieping klaskamers, ʼn rekenaarlokaal en kantoorruimte sal huisves.

ʼn Foto van die beplande dubbelverdiepinggebou. (Fotokrediet: Bo-Karoo Opleiding)

Van 5 studente tot 800: ʼn Nuwe fase vir BKO

Vir Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, gaan die ontwikkeling egter oor veel meer as net die oprigting en uitbou van nuwe fasiliteite. Volgens hom is dit ʼn volgende tree in BKO se plan om aan nog meer jong mense toegang tot gehalte-opleiding te bied.

“Ons is dankbaar om die eerste sooi te spit vir ons Snelrat 800-plan, waarvolgens ons beplan en hard werk om ʼn studietuiste vir meer as 800 studente by BKO te skep. Ons is nou een tree nader aan ons doelwit om nog meer studente met skaars en kritieke vaardighede toe te rus vir ʼn suksesvolle werkloopbaan.”

Die nuwe fasiliteite sal BKO in staat stel om nie net meer studente te akkommodeer nie, maar ook sy opleidingsaanbod verder uit te brei en sy personeel beter toe te rus.

Die uitbreiding volg op merkwaardige groei sedert BKO in 2019 met slegs vyf studente gestig is. Vandag het die instelling ongeveer 250 studente en 30 personeellede. BKO beskik ook reeds oor twee werkswinkels, drie koshuise, ʼn daghuis, ʼn boublad en die Leer-my-hoe-proefplaas.

Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, spreek die bywoners by die sooispitgeleentheid op 8 Junie 2026 toe. (Fotokrediet: Bo-Karoo Opleiding)

‘Die stof staan’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die sooispitseremonie bygewoon en sê die tempo waarteen BKO uitbrei, is besonder betekenisvol.

“Wat ʼn voorreg om die sooispitseremonie van die nuwe werkswinkels op Orania, ʼn uitbreiding van hulle tegniese aanbod, te kon bywoon.”

Volgens Hermann is die werkswinkels slegs een deel van die groei wat tans by BKO plaasvind.

Konstruksie aan ʼn bykomende manskoshuis vir 2027 is reeds aan die gang, terwyl ʼn selfstandige daghuis vir dames ook deel van die verdere uitbreiding vorm. Verdere ontwikkeling van BKO se landbou-aanbod is ook op pad.

“Dit bou dat die stof so staan,” sê hy.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ook die sooispitgeleentheid op 8 Junie 2026 in Orania bygewoon.

Opleiding ín en vír die gemeenskap

Die werkswinkelprojek ondersteun terselfdertyd BKO se groter doel om deur die vestiging van meer studente in Orania tot versnelde groei in die dorp en gemeenskap by te dra.

“By BKO lei ons studente ín die gemeenskap vír die gemeenskap op. Jy sal sukkel om só ʼn vrye en vlytige studentelewe elders te vind. Ons huidige studente en alumni kan daarvan getuig. Dit alles vind plaas op ʼn kampus sonder mure en binne ʼn unieke Afrikanerkultuuromgewing,” sê Vogel.

Selfs die boumetodes weerspieël die plaaslike kundigheid en vindingrykheid van Orania se konstruksiebedryf. Die werkswinkels word met voorafvervaardigde betonblaaie opgerig, terwyl liggewigstaal-droëmure tussen die klaskamers gebruik word. Die nuwe elektriese- en sonkragwerkswinkels sal ook met waterverkoeling vir klimaatbeheer toegerus word.

Saam bou ons vir die volgende generasie

Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om ons gemeenskap te beskerm en hoop te skep. BKO se groei wys wat moontlik is wanneer daar doelgerig in kennis, vaardighede en die volgende generasie belê word. Van slegs vyf studente in 2019 tot ʼn plan vir ʼn studietuiste vir meer as 800, is die nuwe werkswinkel nóg ʼn tasbare teken van dié instelling se groei.

As lid van Solidariteit se Boufonds, help jou bydrae om simbole van hoop en selfstandigheid vir die Afrikaanse gemeenskap te vestig. Ons glo in iets groter as die land se uitdagings; ons glo in ʼn toekoms waar ons kinders vry, veilig en voorspoedig kan leef.

Ons bou sélf hierdie toekoms. Bou jy saam?

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel