loading
avatar
Artikels
1 week gelede
nuwe-grond-elke-r10-bring-akademia-se-droom-van-n-paarl-kampus-nader

Fotokrediet: Akademia

Nuwe grond: Elke R10 bring Akademia se droom van ʼn Paarl-kampus nader

Deur Leré Nel

Om ʼn universiteitskampus gebou te kry is nie perdekoop nie. Dít weet Akademia en Kanton alte goed. Dit verg duisende mense wat in die droom glo – nie net beleggers nie, maar gewone mense wat besluit om aan iets groter as hulself te bou. Mense wat nie net aan hul eie toekoms dink nie, maar ook aan dié van hul kinders.

Akademia het op 28 Mei 2026 aangekondig dat 105 hektaar grond in die Boschenmeer-omgewing van die Paarl bekom is met die oog op die ontwikkeling van ʼn permanente, volwaardige kampus in die Wes-Kaap. Die terrein, bekend as Vêrgesig, bied aan Akademia die ruimte om ʼn akademiese tuiste vir duisende studente in die Paarl te skep.

Volgens beplanning sal die toekomstige kampus uiteindelik ongeveer 3 000 studente kan akkommodeer. Daar word voorsiening gemaak vir akademiese fasiliteite, koshuise en alles wat nodig is om ʼn volwaardige, pragtige residensiële studentekampus aan die voet van die Wemmershoekberge te vestig.

Die eiendomsbeleggingsmaatskappy Kanton sal die ontwikkeling behartig. Dit is dieselfde ontwikkelingsvennoot wat tans verantwoordelik is vir Akademia se nuwe kampus in die ooste van Pretoria, wat na verwagting in 2028 sal open.

Van ʼn droom na vaste grond

Vir Akademia is die aankoop van die grond in Vêrgesig nie net ʼn transaksie nie. Dit is ʼn tasbare bewys van hoe vinnig die instelling groei en hoe groot die behoefte aan hoëgehalte-moedertaalonderrig in Afrikaans is.

Akademia se eerste voltydse Paarl-studente het reeds vanjaar by die tussentydse kampus in Esterville begin studeer. Die aankoop van die nuwe grond is daarom die volgende stap om ʼn permanente tuiste vir die instelling en sy studente in die streek te vestig.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, beskryf die grondaankope as ʼn belangrike nuwe hoofstuk vir die Afrikaanse universiteitswese.

“Met hierdie stap bevestig Akademia sy voorneme om ʼn permanente akademiese tuiste in die Wes-Kaap te vestig, in diens van studente, die taal- en kultuurgemeenskappe en moedertaalonderrig,” sê Visser.

ʼn Terrein waarop ʼn nalatenskap gebou kan word

Vêrgesig beskik oor besondere potensiaal vir ʼn geïntegreerde kampusontwikkeling. Die terrein se topografie, ligging en asemrowende uitsigte skep die ideale omgewing vir ʼn kampus waar studente ʼn betekenisvolle studentelewe kan geniet.

ʼn Waterweg wat na die Bergrivier vloei, kan bykomende ondersteuning vir toekomstige waterbehoeftes bied. Op helder dae strek die uitsig vanaf Vêrgesig tot by Tafelberg en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

Prof. Gawie du Toit, hoof van die Paarl-kampus, sien reeds in sy geestesoog wat hier gebou kan word.

“Ek sien hoe ʼn toekomstige kampus hier, teen die agtergrond van die berge, ʼn betekenisvolle bydrae kan en sal lewer tot die versterking en uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal en as medium van onderrig, leer en roeping,” sê hy.

Die projek is steeds in ʼn vroeë fase. Kanton is tans besig met die nodige stadsbeplanningsprosesse en die verkryging van ontwikkelingsregte, terwyl voorlopige beplanning voortgaan. Elke goedkeuring, plan en ontwikkelingsfase bring die droom van die kampus egter nader.

Gebou deur ʼn gemeenskap

Die merkwaardigste deel van Akademia se groeiverhaal is die mense wat dit moontlik maak.

Die Paarl-kampus se vestiging en groei word ondersteun deur gewone mense wat glo dat Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal ʼn toekoms verdien. Klein, gereelde bydraes maak ʼn groot en blywende verskil. Elke bydrae aan die Solidariteit Boufonds help om die groei en uitbreiding van kennisinstellings soos Akademia én uiteindelik ook ʼn student se toekoms te ondersteun.

Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, sê die welwillendheid van die Afrikaanse gemeenskap in die Wes-Kaap het elkeen betrokke by die projek diep geraak. “Hierdie projek getuig vanaf die staanspoor van dit wat moontlik is wanneer gemeenskappe saam aan ʼn gedeelde toekoms bou,” sê hy.

Dankie dat julle saam bou

Solidariteit is dankbaar vir elke Boufonds-lid wat maand ná maand ʼn bydrae maak. ʼn R10-bydrae lyk dalk klein wanneer dit afsonderlik beskou word, maar saam het dit die krag om 105 hektaar grond in ʼn toekomstige universiteitskampus te omskep.

Boufonds-lede help om Akademia se eksponensiële groei moontlik te maak en dra daartoe by dat meer jong mense die geleentheid kry om te studeer, te groei en hul roeping in hul moedertaal uit te leef.

Vêrgesig is vandag nog ʼn oop stuk grond, maar danksy Boufonds-lede is dit reeds deel van ʼn groter bouplan: ʼn Toekoms vir Afrikaans wat vir geslagte sal voortleef.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel