loading
avatar
Blogs
8 uur gelede
wat-bou-ons-vir-die-volgende-generasie-en-wat-brand-ons-af

Fotokrediet: Solidariteit

Wat bou ons vir die volgende generasie … en wat brand ons af?

Deur Marike Burger

Suid-Afrika het nie ’n tekort aan jong mense met drome nie; ons het ’n tekort aan geleenthede. Dit is juis daarom dat ek die afgelope tyd met ’n ongemaklike vraag sit. Waarom is daar soveel kritiek wanneer iemand ’n nuwe kampus bou, maar soveel minder openbare verontwaardiging wanneer ’n bestaande kampus afgebrand word? Dit is die vraag wat ons behoort te vra sonder om die toekoms van jong mense in ’n ideologiese debat te verander.

Suid-Afrika se werkloosheidskrisis onder die jeug is enorm. Die jongste syfers plaas die werkloosheidskoers onder 15- tot 34-jariges op 47%. Dit is ongeveer 5 miljoen jong mense. Byna die helfte van ’n generasie staan dus buite die arbeidsmark. En tog, binne hierdie werklikheid is daar jong mense wat elke dag opstaan met ’n eenvoudige droom: Ek wil studeer, ’n kwalifikasie verwerf, ’n werk kry en eendag vir myself en my familie kan sorg.

Dit is nie ’n buitensporige verwagting nie. Dit behoort die minimum verwagting te wees wat ons vir jong Suid-Afrikaners moet hê. Daarom behoort elke kampus saak te maak. Wanneer daar ’n nuwe kampus gebou word, behoort die eerste vraag nie te wees “Wie se kampus is dit?” nie. Die vraag behoort eerder te wees, “Watter geleenthede skep hierdie kampus vir jong mense?”

ʼn Kampus is immers meer as bakstene, beton en klaskamers. Dit is ’n plek waar iemand vir die eerste keer kan ontdek dat hy of sy meer kan wees. Dit is waar jong mense kennis opdoen, vriende maak, ʼn netwerk bou, ʼn mentor ontmoet, ʼn eerste werkservaring kry en uiteindelik die arbeidsmark betree.

Dit is ʼn plek waar ʼn toekoms gebou word.

Daarom is dit moeilik om te verstaan waarom die oprigting van ʼn nuwe infrastruktuur vir hoër onderwys soms met soveel kritiek begroet word, terwyl die vernietiging van bestaande infrastruktuur nie dieselfde vlak van openbare debat ontlok nie.

Ons kan en ons moet vra of geld verstandig bestee word. Ons kan vra of daar werklik ʼn behoefte aan ʼn nuwe kampus is. Ons kan vra of ʼn instelling waarde toevoeg. Maar ons behoort net soveel te vra wat dit ons kos as ʼn kampus afgebrand word.

Onlangs moes die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) sy kampusse sluit nadat gewelddadige protes en brandstigting tot skade aan eiendom gelei het. Die universiteit het gewaarsku oor verdere vernietiging, geweld en die moontlike verlies van die akademiese jaar.

Dit is die ironie van ons huidige situasie. Ons sê ons wil jong mense uit werkloosheid kry, maar ons laat toe dat die plekke waar hulle hulself vir die arbeidsmark moet voorberei, vernietig word. Maar miskien lê daar ʼn groter vraag onder hierdie hele gesprek.

Wanneer mense werklik voel dat iets aan hulle behoort, kyk hulle anders daarna. Wanneer jy voel dit is ónskampus, beskerm jy dit. Wanneer jy voel dit is ónsgemeenskap, neem jy verantwoordelikheid daarvoor. Wanneer jy voel dit is ónsgeleentheid, wil jy dit nie vernietig nie.

Dit beteken natuurlik nie dat elke persoon wat aan ʼn protes deelneem, geen eienaarskap of verantwoordelikheidsin het nie. Studente het die reg om ongelukkig te wees. Hulle het die reg om vrae te vra. Hulle het die reg om te protesteer en om verantwoordbaarheid te eis. Maar daar moet ʼn duidelike grens wees tussen protes en vernietiging.

Sodra ons aanvaar dat die vernietiging van eiendom ʼn aanvaarbare vorm van optrede is, begin ons eintlik om die mense te benadeel vir wie ons beweer ons veg – die studente wat môre weer in daardie klaskamer moet sit en ʼn eksamen moet aflê, of daardie student wat die eerste persoon in sy of haar familie is wat universiteit toe gaan.

Die antwoord op Suid-Afrika se werkloosheidsuitdaging onder die jeug kan tog nie wees om minder geleenthede vir jong mense te skep nie. Ons behoort méér te bou.

Die kampusse van die toekoms moet dus nie net ʼn plek wees waar jy ʼn graad kry nie. Dit moet ʼn plek wees waar jy jou toekoms begin bou.

Ek dink ons moet ophou om die bou van en die vernietiging van geleenthede as twee aparte gesprekke te hanteer. As ons bekommerd is oor die toekoms van jong mense, behoort ons bekommerd te wees oor elke kampus wat opgerig is om jong mense ʼn kans gee. As ons bekommerd is oor ongelykheid, behoort ons bekommerd te wees wanneer ʼn student se akademiese jaar deur geweld ontwrig word. As ons bekommerd is oor werkloosheid, behoort ons bekommerd te wees wanneer infrastruktuur wat jong mense vir die arbeidsmark voorberei, vernietig word. En as ons kritiek wil lewer op iemand wat ʼn nuwe kampus bou, behoort ons bereid te wees om dieselfde energie te gebruik om diegene wat bestaande geleenthede vernietig tot verantwoording te roep.

Ons land kan nie bekostig om daardie geleenthede af te brand nie. Ons moet dit bou en beskerm, en ons moet jong mense leer dat dit ook hulle verantwoordelikheid is om dit te doen.

Marike Burger is die koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel