loading
Artikels
5 maande gelede
5-maniere-om-jou-desember-bonus-te-gebruik-om-seker-te-maak-jy-kom-voor

Foto Krediet: OkayDeer

5 maniere om jou Desember-bonus te gebruik om seker te maak jy kom voor

Deur Reon Janse van Rensburg

Desember is om die draai en dié maand hou vir baie werknemers iets besonders in: daardie jaarlikse bonus! Dit kan aanloklik klink om elke sent aan vakansie-uitstappies of nuwe toebehore vir die huis te bestee, maar wat as jy hierdie keer slim werk met jou bonus en dit gebruik om op die langer termyn in jouself te belê?

Hier is vyf praktiese maniere waarop jy jou bonus kan gebruik om jou finansiële posisie te versterk en in die proses vir jou toekoms voorberei.

1. Belê in voortgesette leer

Jou loopbaan is een van die beste plekke waarin jy kan belê, en om jou vaardighede uit te brei kan jou salaris in die toekoms ʼn hupstoot gee. Deur jou bonus te gebruik om ʼn kursus te voltooi, kan jy nie net jou CV verbeter nie, maar ook jou werksekuriteit verhoog. Dink aan dinge soos tegniese vaardighede, digitale bemarking of selfs bestuursopleiding – alles wat jou waarde as werknemer verhoog. Dit mag jou dalk net in staat stel om in 2025 aansoek te kan doen vir daai posisie waarop jy jou oog het.

2. Betaal jou skuld af

Dit mag dalk voor die hand liggend klink, maar een van die slimste finansiële stappe wat jy met jou bonus kan neem, is om jou skuldlas te verlig. Oorweeg dit om ekstra geld op jou kredietkaartbalans, studielenings of persoonlike lenings te betaal. Hoe minder skuld jy het, hoe meer geld het jy elke maand tot jou beskikking – en minder spanning! Begin dalk deur die skuld met die hoogste rentekoers eerste af te betaal, of volg die “sneeubal effek” deur kleiner skuld een vir een af te betaal. Dit is ʼn bevrydende manier om jou finansiële posisie vir die nuwe jaar te verbeter.

3. Skep ʼn noodfonds

As jongwerkende is dit maklik om te vergeet van die onverwagse. Skielik is daar motorherstelwerk, mediese uitgawes of huishoudelike noodgevalle, en jy wil vermy om skuld te maak om dit te dek. Deur ʼn noodfonds met jou bonus te begin, kan jy gereed wees vir sulke situasies. ʼn Goeie doelwit is om drie tot ses maande se lewenskostes op te bou, maar jy kan klein begin. Sit ʼn gedeelte van jou bonus opsy as ʼn buffer – selfs al is dit net R500 of R1 000 – en bou dit op oor tyd. Jy sal dié besluit later waardeer wanneer daar ʼn skielike krisis opduik.

4. Belê in jouself

Of jy nou werk as ʼn jong professionele persoon in jou bedryf, entrepreneur of ʼn tegniese beroep volg, om in noodsaaklike gereedskap of tegnologie te belê kan jou help om beter te werk. Dalk het jy ʼn nuwe skootrekenaar, ʼn stel gereedskap of ’n sagteware lisensie nodig wat jou werk meer doeltreffend maak. Deur jou bonus te gebruik om jou gereedskap te verbeter, maak jy dit vir jouself moontlik om beter werk te lewer en potensieel nuwe geleenthede aan te gryp.

5. Belê in die toekoms

As jy al die bogenoemde gedek het, oorweeg dit om na beleggings vir jou toekoms te kyk. Jongmense het die voordeel van tyd wanneer dit kom by beleggings. ’n Klein bedrag wat jy nou in ʼn belegging sit, kan oor die jare eksponensieel groei as gevolg van saamgestelde rente. Oor die langtermyn kan hierdie tipe beleggings jou help om ’n gesonde spaarfonds of aftreekapitaal op te bou.

Jou Desember-bonus is ʼn geleentheid om jou finansies te versterk, en dit kan jou help om jou 2025-doelwitte met minder druk te bereik. Deur slim keuses te maak en in jou toekoms te belê, sorg jy dat hierdie bonus meer as net eenmalige genot bied – dit kan ʼn ware belegging in jou toekoms wees.

Solidariteit is toegewyd daaraan om jou te bemagtig in jou werk. Sluit aan by ʼn unieke gemeenskap waar jy kan netwerk, leer en selfs nuwe geleenthede kan ontdek. Skep jou gratis profiel hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel