Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Vyf vakansiewerke vir skoolkinders om ʼn ekstra inkomste te verdien
Deur Karen Waldeck
Vakansietyd? Dit beteken net een ding! Dit is tyd vir avontuur, pret en ʼn bietjie ekstra inkomste! Maak jouself reg vir die opwinding van ʼn leeftyd. Vakansie is vol moontlikhede om iets nuuts te leer, jou passies na te jaag, en natuurlik, om ʼn bietjie ekstra geld in jou sak te steek. Hier is ʼn paar opwindende idees vir vakansiewerk wat jou drome kan help vervul.
Storiedag vakansiewerke
Gedurende vakansies het ouers altyd hulle hande vol met die jong span. Hou een of twee dae ʼn week ʼn storiedag vir jonger kindertjies. Vra jou ouers of jy julle sitkamer of grasperk daarvoor mag gebruik. Jy kan jou fooie per kind per keer maak of ʼn eenmalige bedrag per kind vir die hele vakansie. Met geen onkostes wat daarmee saamgaan nie, kan jy al die geld wat jy maak as skoon wins beskou.
Tuisgebakte lekkernye
Indien jy die talent het om lekker en goed te kan bak is hierdie jou kans. Jy kan allerhande koekies, terte en ander lekkernye gedurende die vakansie bak en dit dan weer verkoop. Jy kan sosiale media gebruik vir bestellings en ook vir advertensies. Om die eerste paar bestanddele aan te koop kan jy vooraf begin spaar of jy kan by jou ouers die geld leen en dan later weer teruggee wanneer jy eers jou eerste paar lekkernye verkoop het.
Fietsry-afleweringsdienste
Is jy ʼn fietsryliefhebber? Dan is dit jou geleentheid om ʼn geldjie uit ʼn stokperdjie te maak. Jy kan vir mense die geleentheid aanbied om uit die gemak van hulle huis inkopies te bestel en dit dan vir hulle gaan aflewer. In kleiner dorpies is hierdie idee altyd ʼn wenner! Met die toestemming van jou ouers en op jou fiets kan jy die wêreld van aflewerings aanpak.
Sakkies pak
Gedurende vakansies is meeste supermarkte altyd baie besig. Sommige supermarkte gee jong skoolkinders die geleentheid om tydens vakansies daar te werk. Wat behels jou werk dan? Al wat jy moet doen is om mense se inkopies in ʼn sakkie vir hulle te pak, en nou en dan te help om dit in hulle voertuig te laai. Jy het geen werksondervinding nodig om dit te kan doen nie en dit is ook ʼn geleentheid om ondervinding op te doen oor hoe dinge in ʼn werkplek werk.
Oppasser vakansiewerke
Daar is soveel werk wat jy as ʼn oppasser kan doen. Jy kan jou dienste adverteer om mense se kinders op te pas wanneer hulle ʼn funksie moet bywoon of selfs net ʼn aand uit wil geniet. Wanneer mense met vakansie wil weggaan maar nie hulle diere of hulle huis alleen wil los nie kan jou dienste die oplossing wees. Bied aan om na mense se huise te kyk en na hulle diere om te sien wanneer hulle wil wegbreek vir ʼn naweek of vakansie. Jy het geen kapitaal nodig om dit te begin nie en dit kan vir jou ook lekker wees as jy ʼn diereliefhebber is.
Onthou, hierdie tyd van die jaar is nie net ʼn geleentheid om te rus en te ontspan nie, maar ook ʼn tyd om jou potensiaal te ontsluit, nuwe vaardighede te ontwikkel en ʼn positiewe impak op jou gemeenskap te maak. Elke een van hierdie voorstelle bied nie net ʼn manier om ʼn ekstra inkomste te verdien nie, maar ook ʼn kans vir avontuur, kreatiwiteit en persoonlike groei. Dus, pak daardie vakansie aan met entoesiasme en gaan ontdek die opwinding van vakansiewerk. Geniet elke oomblik, leer uit elke ervaring en wees trots op die verrykende reis wat jy ervaar terwyl jy jou vakansie-avonture aanpak!
Dit is nooit te vroeg om ʼn bietjie ervaring op te doen nie. Solidariteit se Skoliere-aanbod wil saam met jou voorberei vir ʼn toekoms waar jy met kreatiwiteit en innovasie jou sukses kan behaal. Skakel vandag nog in!