
Foto Krediet: Reint Dykema
Gekopieër
Gekaapte dialoog: Solidariteit, Solidariteit Beweging, AfriForum onttrek aan konferensie
Hoewel die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit in die beginsel van gesprekvoering en dialoog glo, is dit duidelik dat die sogenaamde Nasionale Dialoog deur die ANC gekaap is. Daarom sal dié organisasies nie Vrydag aan die eerste konferensie van die Nasionale Dialoog deelneem nie. Die instellings ondersteun ook organisasies soos die Thabo Mbeki-stigting, wat dieselfde besluit geneem het.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is nasionale gesprekke om oplossings vir die land se knellende krisisse te vind noodsaaklik, maar alles dui daarop dat die Nasionale Dialoog op hierdie stadium net op nóg nuttelose gesprekke, in plaas van aksie, gaan uitloop.
“Die rede hiervoor is dat dit blyk dat die ANC die beoogde Nasionale Dialoog wil kaap om verlore steun te probeer terugwen, eerder as om antwoorde vir die krisisse te vind,” sê Buys.
“Daarom steun die Solidariteit Beweging die onderskeie stigtings wat besluit het om nie Vrydag die Dialoog by te woon nie, en sal ons ook nie daar wees nie. Daar is nie sin daarin om die party wat vir die verval in die land verantwoordelik is, in beheer van ʼn Nasionale Dialoog te plaas nie.”
Buys sê die ANC hamer nou op die noodsaaklikheid van deelname aan die Nasionale Dialoog, terwyl die party oor die afgelope dekades nie bereid was om in goeie trou met ander belanghebbendes te praat en na hul voorstelle te luister nie.
“Die ervaring is dat die ANC eerder ʼn ANC-monoloog voer as om aan nasionale dialoë deel te neem. Die ANC het alle vorige gesprekke oorheers en dit bloot as forums gebruik om hul beleid te probeer verkoop, eerder as forums waar hulle kon luister na voorstelle oor hoe om hul onwerkbare beleid aan te pas.
Daarby is die ondervinding dat ooreenkomste wat wel bereik is, kort daarna deur die ANC verbreek is, om maar net weer alleen in hul sosialistiese doodloopstraat voort te strompel en die land saam te sleep.”
Buys sê die Solidariteit Beweging sal daarom ʼn wag-en-kyk-benadering, ten opsigte van die Nasionale Dialoog, inneem.
“Ons is te besig met werk om die gevolge van mislukte ANC-beleide te probeer aanpak en het nie tyd om vir weke en maande lank na hul uitgediende blaampolitiek en ʼn herhaling van verbeeldinglose idees te luister nie.
“Ons ondervinding is dat ‘gemeenskapsdialoë’ meer vrugte kan oplewer as ʼn staatsdialoog, en dat gesprekke tussen gemeenskappe meer praktiese resultate voortbring. Daarom beplan ons om, in samewerking met ander kultuurgemeenskappe, ʼn standpunt oor die land se knellende vraagstukke by die Nasionale Dialoog in te dien, maar ons gaan nie Vrydag deelneem nie.”
Die ANC het intussen nog geen aanduidings gegee dat hulle oor mislukte beleidsrigtings gaan herbesin nie. Die beste aanduidings is dat hulle sedert die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nog steeds voortgaan asof hulle alleen regeer, en dat hulle eerder die land die teiken van Amerikaanse sanksies sal maak as om beleidsaanspassings in belang van die land te maak.
“Die land het nuwe en vars idees nodig omdat die ou ANC-idees misluk het, en dit sal geensins van enige nut wees om hierdie idees net weer te laat hersirkuleer nie. Miljoene mense het nou al lank genoeg onder die ANC se leierskap gely,” sê Buys.
Mense wil oor ʼn ander soort bedeling praat
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die Nasionale Dialoog het ʼn staatsdialoog geword omdat die regering nie werklik aan ʼn oop dialoog wil deelneem nie, maar hul eie agenda najaag.
“Mense praat in werkplekke, om die braaivleisvuur, by sportbyeenkomste en kerke oor ʼn versugting na ʼn ander bedeling. Die staat hoor dit en wil daardie spontane gemeenskapsdialoog kaap.
“Daar is in die Uniegebou deur die president daaraan geboorte gegee. Die oomblik toe dit gebeur het, is die Nasionale Dialoog doodgebore.”
Volgens Hermann het die behoefte aan dialoog juis uit die gemeenskap gekom.
“Van die stigtings was sentraal daartoe. Dit is juis as gevolg van ʼn diep breuk met die regering dat mense oor ʼn ander soort bedeling wil praat. Die regering voel bedreig deur dié soort dialoog en het besluit om die dialoog te kaap,” sê Hermann.
Hy benadruk dat die instellings se nie-deelname aan die Nasionale Dialoog nie teen dialoog is nie, maar vir dialoog.
“Die stem van mense kan nie stilgemaak word deur dit te probeer reguleer nie. Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging praat graag. Ons gaan met vakbonde, stigtings, kultuurgemeenskappe en ander burgerlike organisasies praat.
“Ons gaan oor die frustrasie van die groter gemeenskap met die ANC-geleide regering praat, en ons praat gaan nie gekaap word nie. Ons sal deelneem aan gemeenskapdialoog, maar nie staatsdialoog nie,” sê Hermann.
ANC kan nie met proses vertrou word nie
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die krisis waarin die land nou is, is weens die ANC se mislukte beleidsrigtings, wanbestuur en korrupsie.
“Hulle is die oorsaak van die probleme en daarom kan hulle nie vertrou word om die proses te lei om oplossings te vind nie.”
Kriel benadruk dat president Cyril Ramaphosa en sy ANC-geleide regering se kaping van die voorbereidings van die Nasionale Dialoog tot gevolg het dat dié dialoog nou in ʼn regeringsgedrewe nasionale monoloog ontaard het.
Kriel sê voorts dat die presidensie se ignorering van die onderskeie stigtings van voormalige leiers se geregverdigde kommer oor die staat se kaping van die gesprek,ʼn aanduiding is dat daar geen belangstelling in werklike dialoog is nie, maar dat die voorgenome gesprek bloot as ʼn platform moet dien om die president en die ANC se politieke agenda te dien.
“Indien die presidensie nie ernstig oor die noodsaak van werklike dialoog met gemeenskappe is nie, beteken dit nie dat AfriForum en die Solidariteit Beweging ook nie ernstig daaroor is nie.
“Ons is juis ernstig oor dialoog en daarom het AfriForum sy bestaande program om ooreenkomste met talle kultuurgemeenskappe te sluit, versnel. Hierdie poging het reeds tot sinvolle dialoog tussen gemeenskappe gelei, wat praktiese landbou- en ander projekte op grondvlak tot stand gebring het.”
Volgens Kriel is dit noodsaaklik om te praat om oplossings te vind. AfriForum beklemtoon dus dat die Nasionale Dialoog van ʼn staatsgedrewe proses na ’n burgergedrewe proses moet skuif.
“Ons gaan intussen volstoom voort met gesprekke met ander kultuurgemeenskappe vir werklike dialoog, maar ook vir gesamentlike projekte.”
Buys sê voorts dat dit dringend noodsaaklik is dat opregte gesprekke oor nasionale vraagstukke plaasvind, en dat dit uitloop op ooreenkomste en die noodsaaklike hervormings wat nodig is om ʼn glybaan na ʼn Zimbawe-scenario te verhoed.
“Die ANC is vir die meeste krisisse verantwoordelik en kan dit nie alleen oplos nie. Daarom is ons bereid om in landsbelang saam te praat oor oplossings, maar dan moet dit nie ʼn ANC-geleide proses wees wat maar net weer in ʼn doodloopstraat sal beland nie. Ons kinders verdien beter,” sluit Buys af.