loading
avatar
Artikels
2 weke gelede
christus-is-gebore-onverdiende-genade

Foto Krediet: ChatGPT

Christus is gebore – onverdiende genade!

Deur Kyla-Ann du Toit

“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” – Lukas 2:11

Kersfees is ʼn welkome uitnodiging om stil te raak en na te dink oor die jaar wat verby is. Dit was vir baie ʼn jaar vol uitdagings – finansieel, emosioneel en geestelik. Kersfees herinner ons egter weer aan die kragtige belofte van ons Hemelse Vader: ʼn belofte van hoop, vrede en nuwe lewe deur die geboorte van Jesus Christus.

Dink vir ʼn oomblik terug aan daardie nag in Betlehem. In ʼn eenvoudige stal, tussen die diere, is die Verlosser van die wêreld gebore. Geen luukse paleis of koninklike aankondiging nie – net ʼn nederige begin vir die Koning van konings. Hierdie verhaal herinner ons daaraan dat God in die stil en eenvoudige oomblikke van die lewe teenwoordig is.

Die engele het daardie nag verkondig: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het!” (Lukas 2:14)

Ek nooi jou graag om saam met my stil te raak en die wonder van Jesus se geboorte te beleef. Jesus is gebore om ons laste te dra, ons van sonde te verlos en ons met Sy liefde en genade te omvou – ʼn genade wat ons nie verdien nie! Te midde van ʼn jaar van uitdagings, bekommernisse, vrese en onsekerheid, ervaar ons steeds die vrede van die Heilige Gees – ʼn vrede wat in ons harte bewerk word, selfs wanneer omstandighede dit nie weerspieël nie.

“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” – Romeine 15:13

Mag hierdie Kersfees ʼn tyd van hernude dankbaarheid en hoop wees. Soos die herders destyds vol vreugde na die krip gekom het, kan ons ook na Hom toe kom – met ons vreugde én ons hartseer. Hy is die lig wat ons in donker tye lei, die troos wat ons in verdriet omhels en ons hoop vir die toekoms.

Tussen die geskenke, die feesmaaltye en die vrolikheid deur, mag ons nooit die ware betekenis van Kersfees vergeet nie. Mag die lig en vrede van Jesus Christus jou hart en huis vul, en mag Sy liefde jou en jou gesin in die nuwe jaar omvou.

Ons wens vir jou ʼn Kersfees gevul met liefde, vreugde en vrede toe!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Soortgelyke artikels

similar article avatar

2026

Nuus
01 Januarie 2026