loading
avatar
Artikels
1 week gelede
tobias-kleinhans-le-roux-van-kuilsrivier-ontvang-hoopdraer-toekenning

Foto Krediet: Solidariteit

Tobias Kleinhans-Le Roux van Kuilsrivier ontvang #Hoopdraer-toekenning

Deur Kyla-Ann du Toit

Vanjaar is sewe streekswenners regoor Suid-Afrika as #Hoopdraers van 2026 vereer, en een van hierdie uitsonderlike wenners is Tobias Kleinhans-Le Roux van Kuilsrivier in die Wes-Kaap. Deur sy toewyding aan maatskaplike werk en sy spesialisasie in mediese en oorplantingsmaatskaplikewerk, bring Kleinhans-Le Roux daagliks hoop aan mense wat hulself op kritieke draaipunte in hul lewens bevind.

Die #Hoopdraer-toekenning, wat deur Solidariteit Helpende Hand in samewerking met die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk toegeken word, vereer jaarliks maatskaplike werkers wat deur hul toewyding en diens ʼn blywende verskil in hul gemeenskappe maak. Die wenners is vroeër vanjaar deur die publiek genomineer vir hul passievolle toewyding en bereidwilligheid om die ekstra myl te stap vir die mense wat hulle dien.

Vir Kleinhans-Le Roux lê sy passie vir maatskaplike werk in sy begeerte om mense by te staan wanneer hulle die kwesbaarste is.

“Ek het maatskaplike werk as ʼn beroep gekies omdat ek glo dat menswaardigheid, ondersteuning en hoop nie net mooi woorde is nie, maar praktiese waardes wat elke dag uitgeleef moet word. Ek wou in ʼn beroep wees waar ek werklik ʼn verskil kan maak – nie net op die oppervlak nie, maar diep in ʼn mens se lewe en gesin se belewenis.”

Volgens hom gee die #Hoopdraer-toekenning erkenning aan die diep menslikheid en emosionele arbeid wat deel vorm van maatskaplike werk.

“In my veld van oorplantingsmaatskaplikewerk loop ons daagliks op die fyn lyn tussen hoop en hartseer, verlies en nuwe lewe. Hierdie toekenning voel vir my soos ʼn bevestiging dat die emosionele arbeid wat ons doen raakgesien word en dat die kernwaardes van ons beroep – menswaardigheid, gelykheid en medemenslikheid – steeds van groot waarde is,” sê hy. “Dit herinner my ook waarom ek hierdie loopbaanpad gekies het: om ʼn ligdraer te wees waar mense soms net duisternis sien.”

Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, speel maatskaplike werkers ʼn onmisbare rol in die versterking van gemeenskappe en die herstel van hoop waar dit ontbreek.

“Elkeen van vanjaar se hoopdraers maak ʼn verskil in hul direkte gemeenskappe, asook binne die beroep. Hulle staan op vir die erkenning wat die beroep verdien en werp weereens lig op maatskaplike werk as ʼn kernberoep. Hierdie hoopdraers is merkwaardige mense, en dit is juis waarom hulle vereer moet word vir die bydrae wat hulle in hul gemeenskappe lewer.”

Die #Hoopdraer-toekenning dien as ʼn belangrike herinnering dat daar mense regoor Suid-Afrika is wat, dikwels stil en ongesiens, hoop in hul gemeenskappe kweek en ʼn werklike verskil maak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel