loading
Artikels
1 maand gelede
7-dinge-wat-jy-nie-weet-jou-werksonderhoud-sukses-bepaal-nie-en-moet

Foto Krediet: Karolina Grabowska via Pexels

7 dinge wat jy nie weet jou werksonderhoud-sukses bepaal nie – en moet!

In hierdie nuttige blog gee Mandy-Michelle Thackwray vir werksoekers goeie raad oor “versteekte” dinge wat jou sukses in ‘n werksonderhoud beïnvloed. Lees verder!


Deur Mandy-Michelle Thackwray

Ek vertel altyd dat jou CV goed genoeg moet wees sodat jy ʼn onderhoud kan kry – dit is die doel. Dit is by die onderhoud waar jy die geleentheid het om jouself regtig te verkoop as die beste kandidaat vir die pos. Vir sukses, maak seker jy skenk aandag aan hierdie 7 minder bekende, tog kritiese, aspekte:

  1. 1. Binne 5 minute is daar reeds besluit of jy geskik is vir die pos of nie.

Navorsing toon dat daar reeds binne die eerste 90 sekondes ʼn opinie oor jou gevorm is, so eerste indrukke is krities. Maak seker jy kom netjies, self-versekerd en innemend voor van die oomblik wat jy by die gebou instap.

2. Voor die onderhoud begin word jy reeds geëvalueer.

Hoe jy die sekuriteitswag by die hek tot die ontvangsdame in die kantoor behandel, spreek vir die maatskappy boekdele. Groet almal met wie jy in kontak kom vriendelik. Terwyl jy wag om afgehaal te word vir jou onderhoud, sit stil en glimlag met selfvertroue.

3. As jou waardes nie met die maatskappy sʼn belyn nie is jy uit.

Maak nie saak of jy die beste kandidaat vir die pos is met al die vaardighede waarna hulle op soek is nie – as jy nie by die kultuur van die organisasie gaan inpas nie, sal jy nie oorweeg word nie. Maak dus voor jou onderhoud seker dat jy weet wat die waardes van die maatskappy is, en gebruik hierdie inligting in jou onderhoud om aan te dui hoe jou persoonlike waardes met dié van die maatskappy belyn.

4. Jou CV mag dalk nie ten volle gelees word nie.

Soms kry jy ʼn vraag in ʼn onderhoud wat duidelik in jou CV gedek word, dan wonder jy of hulle ooit jou CV gelees het. Die antwoord is nee – soms is daar oorsigtelik daarna gekyk vir passing met spesifieke aspekte van die pos. Pak dus enige onderhoud aan asof hulle nie jou CV gelees het nie, en fokus op jou vaardighede en topprestasies in die gesprek.

5. Jy het swakhede – en hulle wil weet wat dit is.

Jou liggaamstaal verklik meer as wat jy dink, so moet nooit in ʼn onderhoud jok nie. Bly kalm, dink wat jy wil sê, en wys uit hoe jy geleer het van uitdagings wat jy al ervaar het sonder om verskonend te wees.

6. Jy word beoordeel of jy beheerbaar is.

Om aggressief, verdedigend of weerstandig teen terugvoer voor te kom is tekens dat jy nie beheerbaar is nie, en dus nie sal inpas nie. Wees oop vir enige terugvoer en hou die gesprek positief.

7. Sagte vaardighede is net so belangrik.

As jy nie kan wys dat jy oor goeie kommunikasievaardighede beskik nie, of nie spanwerk en emosionele intelligensie het nie, is dit punte van kommer vir die maatskappy. Hierdie vaardighede is moeiliker om te ontwikkel as tegniese vaardighede, so beklemtoon ook jou sagte vaardighede tydens die onderhoudproses.

Deur hierdie sewe gedagtes ter harte te neem en daarop te let sal jou bemagtig om ʼn sukses van jou onderhoud te maak. Bly ingeskakel by die Solidariteit Werk-platform vir nog wenke soos dié.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel