![7-maniere-waarop-empatie-jou-n-beter-leier-kan-maak](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Promo-Facebook-Facebook-image-post-72.jpeg)
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
7 maniere waarop empatie jou ʼn beter leier kan maak
Empatie het met reg die afgelope paar jaar ʼn belangrike onderwerp in die sakewêreld geword. Begrip vir iemand anders se gevoelens kan baie bydra tot die bou en bevordering van goeie verhoudinge. Maar wat is die voordele van empatie in ʼn praktiese, alledaagse werkplek? Lees in hierdie artikel hoe empatie jou ’n beter leier kan maak.
Deur Justin Bariso
Die doel met werk is om waarde te bied. Hoe groter die voordeel is wat jou produk, diens, of taak vir ander inhou, hoe meer waardevol is dit. As jy empaties is, probeer jy om dinge uit ʼn ander persoon se oogpunt te sien. Sodoende kan jy groter waarde bied.
Hier is sewe praktiese maniere om empatie by die werk te gebruik.
1. Aanbiedings
Dis maklik om oor jou gehoor se koppe te praat as jy baie van ʼn onderwerp weet. Maar as jou gehoor goed ingelig is, sal oorvereenvoudiging hulle vinnig verveel. Wanneer jy jou aanbieding saamstel, vra jouself af: hoeveel weet my gehoor reeds van die onderwerp? As jy dit in gedagte hou, kan jy die aanbieding spesifiek by jou luisteraars se behoeftes aanpas en die impak daarvan maksimaliseer.
Baie mense versuim om empatie te toon deur te vinnig te praat. (ʼn Mens is geneig om dit te doen as jy angstig is). Oefen om stadiger te praat en gepaste pouses te gebruik en jy sal jou gehoor boei.
2. Skryfwerk
Hou die volgende in gedagte om met empatie te skryf:
- • Moenie die ontvanger met te veel inligting oorweldig nie. Vermy e-pos heeltemal as ʼn oproep of ʼn persoonlike besoek beter sal werk.
- • Verskaf genoeg inligting sodat die ontvanger weet presies waarvan jy praat, maar hou dit steeds bondig.
- • Moenie almal oor alles aa (“cc”/afskrif aan) nie.
- • Moenie ʼn boodskap stuur wat begin met: “Haai, sal jy asb. dié saak hanteer?” en dit dan met ʼn lang string boodskappe opvolg nie.
- • Onthou, dis baie moeilik om sarkasme, grappe en stemtoon op e-pos te interpreteer.
- • Sê dankie – en bedoel dit.
As jy met empatie skryf, maak dit nie net jou e-pos meer draaglik vir ander nie, dit verhoog ook jou eie produktiwiteit. Hoekom? Want as jy jou ontvangers se behoeftes in gedagte hou en dit bo jou eie stel, sal hulle vinniger reageer en meer bereid wees om te help.
3. Komplimente
Mense smag van nature na erkenning en lof. Maar daar is niks erger as ʼn onopregte kompliment of iemand wat voorgee nie. Daarteenoor wek opregte lof, wat spesifiek is en opregte waardering toon, vertroue en dien as aansporing en motivering.
4. Terugvoering
Niemand hou van kritiek nie. Maar as jy ʼn gewoonte maak daarvan om ander opreg te prys, sal hulle mettertyd sien jy dra hulle belange op die hart. As jy dan op die regte plek en tyd opbouende, negatiewe terugvoering gee, sal die ander persoon dit in die regte gees ontvang en beskou as ʼn poging om te help.
5. Opleiding
Wanneer jy mense oplei vir ʼn taak of werk, is dit baie nuttig om dinge letterlik en figuurlik uit hulle perspektief te sien. Letterlik: as jy uit dieselfde hoek as jou leerder na ʼn werkstasie kyk eerder as om oorkant jou leerder te sit of staan, sal jou opleiding doeltreffender wees. Figuurlik: hoe beter jy jou leerders ken en weet watse ervaring hulle het, hoe beter kan jy die opleiding by elke individu aanpas, wat weer sal lei tot beter resultate.
6. Bestuur
ʼn Spanleier het baie verantwoordelikhede – van die logistiese nagmerrie om skedules te koördineer tot die uitdaging om verskillende persoonlikhede te laat saamwerk. Maar goeie kommunikasie wat met empatie rekening hou, kan help. Die navorsingsorganisasie Gallup het tot die gevolgtrekking gekom dat werknemers wie bestuurders gereeld met hulle vergader amper drie keer so betrokke is as dié wat nie gereeld met hulle bestuurders vergader nie.
Maak tyd vir jou mense. Voer gereeld individuele gesprekke om vas te stel hoe dit met hulle gaan of probeer ʼn slag deurstapbestuur (“management by walking around”). As jy hulle persoonlik leer ken, sal jy agterkom wat hulle persoonlike uitdagings is, maar ook hulle natuurlike sterk- en swakpunte kan identifiseer. Gebruik daardie kennis wanneer jy besluite neem en jy sal die beste uit jou span haal.
7. Leiding deur ʼn voorbeeld te stel
Veronderstel jy het hulp nodig om iewers heen te gaan waar jy nog nooit was nie. Ek kan jou stap-vir-stap-aanwysings gee, vir jou ʼn kaart teken en besonderhede verskaf oor bakens waarvoor jy op die uitkyk kan wees. Of ek kan sê: “Dis nie te ver uit my pad uit nie. Volg my net.”
Dit werk nooit om te sê: “Maak soos ek sê, nie soos ek maak nie.” Maar as jy ʼn voorbeeld stel en graag saam met jou span werk, sal jy hulle inspireer. Hou dus op praat en begin doen. Om met empatie te lei, beteken om te lei deur ʼn voorbeeld te stel. As jy dit doen, sal mense volg – nie omdat hulle moet nie, maar omdat hulle wil.
Empatie en emosionele intelligensie is nou aan mekaar verwant. Mense met hoë emosionele intelligensie, het gewoonlik empatie met ander. Solidariteit bied aan sy lede gratis toegang tot nagenoeg 150 aanlyn leerkursusse wat jou in die werkplek bemagtig. Die kursus “Emosionele intelligensie” is dus ook vir jou geskep om hierdie belangrike vaardigheid te slyp en so ’n beter leier te wees.
Skep jou gratis profiel op Solidariteit, koppel jou lidmaatskap en skryf in vir hierdie kursus. Jou leiding vandag maak môre se verskil.